Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA
GOD SE STRAFGERIG
Dr JP Botha
Die bondgenootskap wat Israel met Aram gesluit het, het drie jaar lank geduur. Gedurende hierdie tyd was die vriendskap tussen Agab en Benhadad tegelykertyd voordelig en nadelig vir Israel.
Opkoms van 'n nuwe wêreldmag
Ver na die noordooste in Mesopotamië, in die bo-vallei van die Tigris, het die Assiriërs van Nineve op die wêreldtoneel verskyn as 'n nuwe militêre mag om mee rekening te hou. Hulle het onder hul koning, Salmaneser, begin om die wêreld suidweswaarts te verken en het 'n bedreiging vir Sirië-Damaskus en vir Israel geword. Agab en Benhadad kon nou hul gekombineerde mag teen die nuwe vyand monster. Maar gedurende die drie jaar wat hulle saamgeveg het, het "vriend" Benhadad plekke wat aan Israel behoort het, soos Ramot in Gilead, beset en vir homself toegeëien.
Die Assiriërs slaan toe
Intussen is Salmaneser se magte in 853 v.C. in hul suidwaartse beweging deur Agab en Benhadad se gekombineerde leër by Orontesrivier in Noord-Sirië gestuit. Salmaneser spog daarmee dat hy 'n groot oorwinning behaal het. Hy sê hulle het soveel van die vyand doodgemaak en in die rivier gegooi, dat hulle droogvoets op 'n brug van lyke die rivier oorgesteek het! Waarom het die Assiriërs dan na die slag van Karkar teruggetrek en vyf jaar lank weggebly as hulle vir Israel en Aram so 'n groot neerlaag besorg het?
'n Nuwe bondgenootskap
Agab en Isébel se dogter, Atalia, is getroud met Jehoram, die seun van koning Josafat van Juda. Dit het uitgeloop op vrede en vriendskap tussen Noord- en Suid-Israel, sodat Agab op militêre hulp van Juda kon reken, nadat sy bondgenootskap met Benhadad, wat hom herhaaldelik in die rug gesteek het, beëindig is.
Oorlog met die Arameërs
Die Siriese koning het nie sy ooreenkoms met Agab nagekom nie en was na die slag van Karkar in besit van die waardevolle Ramot in Gilead. Dit het vir Agab gegrief en hy het 'n nuwe bondgenoot gesoek om teen sy ou bondgenoot op te trek. Gelukkig vir hom, kom sy swaer, koning Josafat van Juda, in Samaria aangery om 'n bietjie te kom kuier. Agab het sy kans waargeneem en gevra dat Juda hom moet help om Ramot in Gilead van die Arameërs te bevry.
Die 400 profete
Koning Josafat was gewillig om Juda se leërmag saam met Israel s'n in 'n oorlog teen die Siriërs in te stoot. Maar as 'n gelowige koning wat nie graag teen die wil van die Here gehandel het nie, het hy vir Agab aangeraai om eers die Here te raadpleeg voordat hulle teen die Arameërs optrek. Agab het alle profete wat hy in die hande kon kry, laat bymekaarmaak en hulle na Samaria ontbied. Daar het 400 van hulle opgedaag.
Die leuengees
Die twee konings het buite die poort van Samaria op 'n dorsvloer op hul koninklike stoele gesit, met die klomp profete voor hulle. Dié was aanhoudend besig om te profeteer dat die konings maar die oorlog teen die Arameërs of Siriërs kan begin, dat hulle sal wen en Ramot in Gilead weer sal herower.
Koning Josafat het hierdie uitspraak nie heeltemal vertrou nie en vra vir koning Agab of daar dan nie nóg 'n profeet van die Here is wat geraadpleeg kan word nie. Agab het toe teen sy sin die profeet Miga laat haal, wat vir hulle gesê het dat die Here 'n leuengees deur die monde van die profete laat praat het, om die konings om te haal om oorlog te maak. Koning Agab gaan in hierdie stryd sneuwel en Israel gaan leierloos verstrooi word en die oorlog verloor. Hulle het nie vir Miga geglo nie en het hom in die tronk gestop.
Die geveg
Die twee konings het ooreengekom dat Josafat in sy koninklike mondering op sy strydwa aan die geveg moet deelneem, terwyl Agab hom as 'n gewone soldaat sal vermom en saam met sy manne die aanval loods.
Koning Benhadad het vir sy manne gesê: "Moenie julle tyd mors met Israel se gewone soldate nie. Kyk uit vir koning Agab, want ons moet hom in die hande kry!"
Toe die twee strydmagte uiteindelik teen mekaar te staan kom, was die enigste koninklike figuur wat die Arameërs gewaar het, koning Josafat van Juda. Hulle het in groot getalle op hom afgestorm en sy manskappe kon hom ter nouernood red en hom met sy strydwa buite die gevegsterrein bring.
Agab sneuwel
Die Arameërs het gesien dat hulle hul vergis het. Hulle het die koning van Israel nêrens gewaar nie. Toe skiet een van hulle sommer 'n peilskoot in die rigting van Israel se strydwaens, onbewus daarvan dat sy pyl die koning van Israel tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat getref het. Hy het sy drywer beveel om die perde om te ruk en hom uit die geveg uit te bring.
Die Arameërs het meedoënloos aangeval en die gewonde koning het besef dat hy hom nie geheel en al moet onttrek nie, maar dat hy op sy strydwa moet bly staan, om sy soldate aan te moedig en hulle moreel te versterk. Maar Israel en Juda se strydmagte was aan die verloorkant. Hulle kon die heeldag lank nie daarin slaag om die Arameërs terug te dryf en Ramot in Gilead weer te verower nie.
Koning Agab het laatmiddag in sy strydwa gesterf. Toe die nuus dat die koning dood is, die vegtendes bereik, het hulle moedeloos omgespring en al vlugtende voor die Arameërs uit na hulle tuistes teruggekeer.
Die koning se wa het teen die aand in Samaria aangekom. Die buikplank van die wa het vol bloed geloop en dit is na die dam van Samaria geneem, waar die prostitute hulle gewoonlik gewas het. Daar is die bloed afgewas en het die rondloperhonde dit opgelek.
Ahasia sit afgodediens voort
Die strafgerig oor die huis van Agab was besig om in vervulling te gaan. Hy is in Samaria begrawe en sy goddelose seun Ahasia, het in sy plek koning geword. Opgevoed deur sy Baäl-aanbiddende moeder Isébel, het hy voortgegaan om die afgode te dien en gemaak asof die Here God, aan wie Israel behoort, nie bestaan nie.
Ahasia se ongeluk
Hy was skaars 'n jaar lank koning, toe hy vanaf die boonste verdieping van die Samaria-paleis 'n bietjie te ver uit 'n venster geleun het en daar afgetuimel het. Hy is ernstig beseer en almal het vir sy lewe gevrees. Hy stuur toe 'n paar boodskappers om vir die afgod Baäl-Sebub in Ekron te gaan vra of hy weer gesond sal word.
My laaste opdrag
Toe praat die Here weer met my en sê ek moet hulle op die pad gaan voorstaan en vir hulle vra of daar dan geen God in Israel is nie, dat hulle sover gaan om 'n afgod te gaan raadpleeg. Die Here sê, omdat Ahasia sulke dinge doen, sal hy nie van die bed af opstaan nie, maar sterf.
Deur vuur verteer
Hulle is terug na die koning en toe hulle hom vertel dat 'n man met 'n leergordel om die heupe en 'n harige mantel met hulle gepraat het, het hy dadelik geweet dat dit ek, Elia was wat hierdie boodskap van die Here aan hom gestuur het. Hy stuur toe 'n offisier met 50 manskappe om my te gaan vang. Hulle het my opgespoor waar ek op die top van 'n berg sit. Die offisier het na my toe opgeklim en gesê ek moet saamkom na die koning toe. Toe het ek die Here gevra om hom en sy manskappe deur vuur te laat verteer. Dit het gebeur.
Na 'n lang ruk gewaar ek weer 'n ander groep van 50 soldate wat my kom arresteer. Die Here wou dit nie toelaat nie en het hulle ook almal deur vuur laat verteer.
Ek gaan na Samaria
Alhoewel daar toe al reeds deur Ahasia se obsessie om my te vang, meer as honderd mense die lewe ingeskiet het, was hy vasberade om my in die hande te kry en stuur 'n derde groep van 50 om my te gaan haal. Hulle leier was baie versigtig. Hy het die berg uitgeklim en voor my neergeval en gesmeek dat ek hul lewens moet spaar.
Toe sê die Engel van die Here vir my: "Klim af saam met hom; moenie vir hom bang wees nie." Ek is saam met hom die berg af na die paleis in Samaria, net om voor die siek koning Ahasia te gaan staan en vir hom te sê:
"So sê die Here: Omdat jy boodskappers
gestuur het om Baäl-Sebub, die god van
Ekron te raadpleeg, asof daar geen God
in Israel is wat geraadpleeg kan word nie,
sal jy nie opstaan uit die bed waarin jy nou
lê nie. Jy gaan sterf."
Joram word koning
Die Here was besig om die strafgerig wat Hy oor die huis van Agab uitgespreek het, stadigaan uit te voer. Koning Ahasia het gesterf en is deur sy jonger broer Joram opgevolg. Hierdie Joram was nie heeltemal so goddeloos soos sy broer Ahasia en sy pa Agab nie. Hy was ooggetuie van verskeie wonders wat deur die almag van God plaasgevind het en kon nie onverskillig daar teenoor staan nie, maar die invloed van sy goddelose moeder, Isébel, het 'n demper op sy regering en sy geloof in God geplaas.
Uitroei van Agab se geslag
Die Here se strafgerig het nie net by die dood van Agab en dié van sy seun Ahasia geëindig nie, maar het voortgegaan totdat al die nakomelinge van Agab om die lewe gebring is. Die Here het vir koning Jehu van Israel daarvoor gebruik.
Elisa
Die verhaal hoe dit alles plaasgevind het, sal my opvolger, die goeie Elisa, vir jou vertel. My optrede voor Ahasia, koning van Israel, waarheen die Here my gestuur het, was die laaste werk wat ek vir Hom op die aarde gedoen het. Hy het aan my openbaar dat my werk vir Hom afgehandel is en dat Hy my na Hom toe gaan roep. Ek het geweet dat as dit gebeur en ek nie meer op die aarde sal wees nie, sal die Here God daardie goeie man, Elisa, net so gebruik as vir my, om sy Woord aan Israel en sy konings te bring.
Ek wag dat die Here my moet kom haal.
_______________