Gedurende ons herdenking van hemelvaart fokus ons gewoonlik op die feit van die nut van hemelvaart of ons vestig die aandag op die opdrag net voor die hemelvaart, naamlik om dissipels te maak, maar dink ons ooit na oor die getuienis van hemelvaart? Dit is of ons soms in die Twaalf Artikels vassteek by die opvaar na die hemel, en dan vergeet ons van die "sit aan die regterhand van God..."
Die hemelvaart getuig ook van Christus se koningskap. Die Here Jesus sê net voor Hy opgeneem is: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde (Mt 28:18), en beklee met hierdie mag het Hy aan die regterhand van God gaan sit (Efés 1:20). Dit is die strategiese posisie vanwaar Hy alles regeer. Onder sy hoofskap word alles in die hemel en op aarde verenig.
Wat is vir ons die nut daarvan dat Christus ons Koning is wat regeer? Die Kategismus in Sondag 19 antwoord hierop dat Hy ons deur sy Heilige Gees versorg met hemelse gawes en beskerm teen ons vyande. Hier word hemelvaart en pinkster direk aan mekaar verbind. Die feit dat Christus opgevaar het en vanuit die hemel ons Koning is, het die koms van die Heilige Gees tot gevolg gehad. Die Here Jesus het reeds voor sy hemelvaart belowe dat die Gees sal kom (Joh 14:16-17). Dit is die Gees wat ons seën met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus (Eés 1:3). Hierdie seëninge sluit onder meer in die wedergeboorte en bekering, regverdigmaking, heiligmaking en volharding, die vrug van die Gees, geloof, hoop en liefde, vreugde en vrede.
Dit mag soms lyk of die mens of dalk selfs die duiwel oor hierdie wêreld regeer, maar die Bybel leer ons dat ongeag hoe chaoties wêreldsake lyk, Christus steeds regeer en nie één haar van ons hoofde sal val sonder dat Hy daarvan weet nie.
Kom ons gaan dan hierdie jaar verder in, verryk deur die Pinksterdienste wat nou volg en met die sekerheid dat Hý regeer, as Koning van ons lewens en die heelal!