VANDAG IS HEMELVAART...

...WAT SOOS 'N SONDAG DEURGEBRING MOET WORD

Dr Johan Celliers

Vandag is dit weer Hemelvaart  en herdenk ons Christus se opvaar na die hemel ná sy kruisiging en opstanding. Vir ons beteken Hemelvaart die terugkeer van Jesus na Vader in die hemel. Lees gerus die Lukas-evangelie  asook Handelinge waar die gebeure vertel word hoe Jesus ná die Opstanding verskeie kere aan sy apostels en volgelinge  verskyn  het, en ná veertig dae na die hemel opvaar terwyl sy volgelinge toekyk hoe Hy in die wolke onsigbaar word.

Dat Hemelvaart vir ons as Christene soos 'n Sondag deurgebring moet word, is ongelukkig iets waaroor nie genoeg gepraat word nie. Ons ouer lesers sal onthou dat ons wel vroeër jare hierdie dag as 'n Christelike dag deurgebring het. Dit is tyd dat ons weer ons besighede sluit en aan ons Vader die dank en eer vir hierdie groot gebeure bring.

Kom ons bring Hemelvaart hierdie jaar só deur dat ons voorbeeld vir die talle ongelowiges daar buite as hoeksteen van die Christelike geloof vas en duidelik staan.

Met Hemelvaart keer die Seun terug na die Vader wat Hom gestuur het, en word sy Gees uitgestort op alle mense (Hand. 2:17) wat ons in 'n nuwe samelewing inbind waar ons deur die Goddelike 'Ons' herskep word as 'ons'. Maar dit was nie so eenvoudig nie – vóór die hereniging met die Vader was Jesus van mens en God verlate sodat ons van ons verlatenheid verlos kon word deur 'n ewige lewe saam met God-Drie-enig.

Met Jesus se kruisdood is die mensverlatenheid oortref deur die Godverlatenheid wanneer Jesus uitroep: "My God, my God, waarom het U My verlaat?" (Mark. 15:34).

Ons kan ons nie indink wat hierdie uitroep alles ingehou het nie maar ons weet Jesus kom uit die volmaakste gemeenskap naamlik die Drie-eenheid waarin daar géén ruimte vir eensaamheid is nie; waar daar 'n ewige vloei, 'n stroom van liefde is, altyd Een is wat liefde gee en Een wat liefde ontvang.

Wat het gebeur toe Jesus aan die kruis – as't ware mens én God – van God verlate was? In hoe 'n mate het dit die 'Ons' van die Drie-eenheid aangetas? Mag ons glo dat God, in wie daar die ewige gemeenskap is, daarmee self tog 'n stuk eensaamheid ondervind het? Martin Luther het op 'n keer uitgeroep: "Gott von Gott verlassen – Wer kann das Fassen?" Dit beteken God van God verlaat – wie kan dit verstaan? Ons kan nie, maar ons weet dit was vir ons, sodat ons nie in die hel van eensaamheid hoef weg te sink nie; nie ons roeping as beelddraers van die Drie-enige God hoef mis te loop nie; nie as eensames wantrouig van 'n afstand na ander eensames hoef te loer nie maar eerder in die vreugde van die gemeenskap met my medemens mag deel. Jesus was verlate om ons te verlos – van die sonde ja, maar daarom juis ook vir mekaar.

Binne die Drie-Eenheid lê ook die geheim van menswees – menswees na die beeld van God. Eensaamheid tussen en in mense skree teen hierdie wese van Drie-eenheid, teen die Skepper wat mense as medemense gemaak het. God is die oorspronklike 'Ons' wat ons as 'ons' gemaak het, soos in die Genesisverhaal: "Kom... Ons maak die mens as verteenwoordiger, ons beeld..." Durf ons enigiets anders wees as 'ons'?

Intussen vier eensaamheid hoogty! Oral rondom ons is gebroke gemeenskappe, selfliefde, hoogmoed. En in dit alles probeer ons om God se plek in te neem – hierin lê ook die wese van sonde.  Maar ons misgis ons totaal want God is nie die soort God wat ons wil wees nie; Hy ly nie aan hoogmoed nie; sy selfliefde is nooit selfsugtig nie.

'n Samelewing is veronderstel om presies dit te wees: 'n samelewing. Hierin word diegene wat in die Drie-enige God glo, dit wil sê wat deel van sy kerk uitmaak, op 'n besondere manier geroep om voorgangers te wees, om in 'n eensame wêreld te demonstreer dat ware gemeenskaplikheid moontlik is, 'n werklikheid is omdat God dit skenk. Die tragiese is egter dat ons dikwels die egoïstiese karakter van die wêreld aanneem, selfs op die voorpunt van selfsug met ons eiesinnige motiewe en strewes is.

Waarom kla so baie mense dat die kerk "onpersoonlik" is? Waarom kan jy soms in 'n kerk sit, omring deur honderde ander gelowiges, en jy bly die eensaamste onder die eensames? Niemand kyk na jou nie. Niemand weet van jou nie. Niemand wil by jou en jou probleme betrokke raak nie. Trouens, jy kon net so goed uit die kerk weggebly het, en geen enkele mens sou daarvan geweet het nie.

Waarom is dit so? Omdat ons hoogmoedig is. Omdat ons "God" wil speel. Omdat ons die ware God en sy evangelie nie verstaan of wil verstaan nie.