HART ÉN SIEL ÉN GEES?

SG Hagen

En hulle het Stefanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees!

– Hand 7:59

In Matt 22:37 lees ons dat ons die Here moet liefhê met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand. Gereeld word die begrippe siel en gees in die Bybel gebruik. Maar wat is dan die verskil? En waarom dan, indien wel?

In Genesis 35:18 lees ons: “En toe haar siel uitgaan – want sy het gesterf...” Dit beteken dat jou siel jou liggaam verlaat by jou afsterwe. Volgens die Heidelbergse Kategismus (vraag 57) word die gelowige, as hy sterf, se siel op verborge wyse tot Christus geneem, totdat dieselfde vlees deur Christus opgewek sal word. Die siel sal dan met die liggaam verenig word (Nederlandse Geloofsbelydenis, Vraag 37).

1Thess 5:23 maak melding van die gees en siel en liggaam wat geheel en al onberispelik bewaar moet word by die wederkoms.

Die siel kan gesien word as die hoër dele – die setel van die wil en die gevoel. Die gees weer dui op die tipering van die gelowige mens wat deur die werking van die Heilige Gees die “geestelike” mens is – te onderskei van die natuurlike mens wat die Gees van God nie het nie en dit nie verstaan nie.

Die Woord van God dring deur tot die skeiding van siel en gees – die diepste wese van die mens (Heb 4:12). Dit is bevestiging dat daar wel ‘n onderskeid tussen siel en gees is. Siel dui op liggaamlike situasie en gees op onsigbare geestelike sintuie.

Hoe lewe mens deur die Gees? Deur jou siel tot bedaring te bring sodat jou geestelike sintuie ingestel kan wees op God. Die ongelowige mens is geestelik dood (Kol 2:13) en die gelowige is geestelik lewendig (Jak 2:26). Maar om intiem met God te kan verkeer moet die gelowige tyd inruim om God geestelik te beleef.

Die siel is dus die kern van menswees en sluit ook die verstand, denke, emosies en wil van die mens in. Maar dit is die gees van die mens wat hom verbind met God.

In ‘n wedergebore Christen is daar nuwe lewe geskep deur die Heilige Gees – hy is dus ‘n geestelike wese (Ef 2:1). Hy verskil egter van die gees (en ook bose geeste) wat in ongelowiges vaardig is.

Dit is jou siel wat Jesus by sy wederkoms sal ondersoek. ‘n Mens kan dus sê dat jy ‘n geestelike verhouding met Jesus moet hê (verwek deur die Heilige Gees) sodat jou siel gered kan word. Wat baat dit die mens dat hy die hele wêreld oorwin maar sy siel skade ly? (Matt 8:36).

My gevolgtrekking is dit : Miskien kon Stefanus ook gesê het: Here Jesus ontvang my siel, want immers weet ons dat sy siel by Jesus is. Maar so vervul met die Heilige Gees was hy (in geestelike vervoering) dat hy daardie gees net so aan die Here opgedra het. Die besluit om my siel op te neem het steeds by Jesus berus.

Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy gesê dat Hy sy gees aan sy Vader oorgee. Sy siel was immers vanweë sy nie-sondigheid altyd by die Vader, by God.

Voormelde is vir die gelowige die versekering dat by die dood die gelowige geestelik met Jesus verkeer in hemelse geluksaligheid.

Intussen moet ons ywerig wees om geestelik met God te verkeer want dan sal die siel ook nie skade ly nie. Die losprys vir die siel kan die mens nie betaal nie, dit lê buite sy bereik (Mark 8:37). Net so kan jy ook nie ‘n geliefde se siel loskoop nie (Ps 49:10).

Ná die dood is daar geen genadetyd meer oor nie. Laat ons dan geestelik wandel sodat die gees nie sal sterwe nie (Joh 11:26). Dit plaas op ons die verpligting om te werk aan ons siele – sodat dit nie aan die doderyk oorgelaat sal word nie (Ps 16:8).

Wat ‘n heerlike uitdaging!