DIE ONHEILIGE DRIE-EENHEID

SG Hagen

En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet die onreine geeste sien kom... – Op 16:13

As Christene is ons almal bekend met die Drie-eenheid; God die Vader, Jesus Christus die Seun en die Heilige Gees. God word onderskei in drie Persone. So staan daar dan ook in 1 Joh 5:7 dat daar drie is wat getuig in die hemel (1 Joh 5:7 ) en dat hierdie Drie een is.

Belangrik is dus ook om hierdie Drie-eenheid te handhaaf teenoor die Jode, die Moslems en die ketters. So weet ons ook dat al Drie van ewigheid af bestaan. God het alle dinge deur Jesus Christus geskape en die Heilige Gees gaan van ewigheid af uit die Vader en die Seun (Heb 1:2; Hand 2:35).

Maar wat weet ons van die onheilige drie-eenheid?

Ja, ons almal weet van die duiwel, Satan. En ons het al baie gehoor van die Antichris. Ons weet selfs van die vals profete. Maar weet ons regtig hoe alles by mekaar pas; hoe die vurk in die hef steek?

In Openbaring meer as in enige ander boek van die Bybel word dié alliansie baie goed beskryf. Baie van ons vermy Openbaring; hoofsaaklik omdat al die simboliek nie altyd goed begryp word nie. Wat ‘n fout! Die wonder van die Openbaringboek is dat dit op besonderse wyse weer die weg wil wys waar ware geluk te vind is. “Wie Openbaring lees, aanhoor en oordink, vind ‘n diepe, ewige en volkome geluk.”

Die onheilige drie-eenheid is Satan, die Antichris en die vals profeet. Satan word beskryf as die lugdraak. Hy is die vader van die boosheidsdenke en sy gees uit die see (die seemonster) is die Antichris, sy kragtige kneg.

Die lugdraak Satan verleen vaderlik die mag, troonskap en groot gesag aan sy seun of ewebeeld. Die Antichris voer oorlog teen die gelowiges (Op 13:7). Soos Jesus alle mag van God ontvang het, ontvang die Antichris (die Satanseun)sy groot mag oor elke stam, volk, taal en nasie van Satan. Die Antichris betower die massas.

Die derde van hierdie drie-eenheid is die vals profeet. Hy is die landmonster, die onheiige gees. Die landmonster word nooit identifiseerbaar gesien en beskryf nie. Die landmonster dui op die verval binne die geloofsgemeenskap, dit is die vals profeet.

Die duiwelsmag wat onder Christene werksaam is, die seemonster, die Antichris, blaas vervolging teen Christene aan met ‘n godsdienstige ywer wat van die vals profeet, die landmonster kom. Die vals profeet is ‘n parasiet wat teer op die Antichris. Die vals profeet bewerkstellig die aanbidding van die Antichris.

Die vals profeet verplig die hele gemeenskap om die merk van die Antichris op die regterhand en voorkop te dra. Met merkteken word ‘n beeldstempel bedoel. Die merkteken is die Joodse gebedsband (Matt 23:5). Dit word deur die vals profeet bevorder.

Maar hoe pas die getal 666 van Openbaring in die prentjie? Is dit ‘n spesifieke berekenbare mens bv Nero soos die Jode geglo het? Nee. Veel eerder dui dit op hierdie onheilige drie-eenheid aan wie elkeen die getal 6 toegeken kan word. Die volkome getal is natuurlik 7, of dan wel 777, wat die heilige Drie-eenheid aandui. In al sy verskrikking en verheffing teen God, bly die onheilige drie-eenheid aan God onderworpe.

Christene moet nie die Antichris en die vals profeet vêr gaan soek nie. Hulle is in ons midde. Die sonde moet nie geobjektiveer word nie. Die volheid van die bose vind gestalte in die mens.

Die gelowige se stryd is ook teen die bose geeste (die see- en lugdraak – Ef 6:12). Maar Openbaring gee ons die wonderlike versekering dat die Antichris en die vals profeet in die vuurpoel gegooi sal word. (Op 19). Dit sal net Satan laat. Satan op sy beurt word vir ‘n duisend jaar (wat ‘n dag kan wees) in die onderaardse diepte gegooi. Daarna word hy vir ‘n kort tydjie “vrygelaat” (Op 20). Hy sal weer uitgaan om die nasies te verlei. Hy sal vir oulaas oorlog wil voer teen die gelowiges. Satan sal verder en saam met die onbekeerdes in ewige pyniging gewerp word.

Ja, op die dag van die Here sal die volgende gebeur:

  1. die opstanding van die gelowiges
  2. die regering van die gelowiges saam met Christus
  3. die regsuitoefening saam met Christus
  4. die oorwinning van Christus oor alle duiwelse magte
  5. die vernietiging van die dood
  6. die genadeloon aan gelowiges ten opsigte van hulle lewenswerke
  7. die regverdiging van die kerk deur die oordeel oor sy teëstanders
  8. die ewige kindskap van God vir die gelowiges.

Ja, die onheilige drie-eenheid sal verslaan word. Satan sal selfs poog om die hemel te bestorm maar hy sal verslaan word.

Op Satan, soos die Antichris en die vals profeet, maar ook alle ongelowiges wag ‘n warm verwelkoming.

Laat ons na die heilige Drie-eenheid soek in ons lewe terwyl daar nog tyd is!