SONDER JESUS OPPAD?

Dr Willem Jordaan

As U nie meegaan nie, laat ons nie hiervandaan verder gaan nie. – Exodus 33:15

In Johannes 6 lees ons van die dissipels wat sonder Jesus per boot na Kapernaïm gevaar het. Die see was onstuimig en ‘n storm was in die vooruitsig. Skielik het hulle Jesus op die see (van Galilea) sien loop en bang geword. Jesus het vir hulle gesê:

Dit is Ek, moenie vrees nie (Joh 6:20)

Hoe dikwels pak ons ‘n taak of selfs net ‘n dag aan sonder Jesus! Sonder om die Bybel te lees, sonder om kerktoe te gaan, sonder geloof. Dis dan wanneer Moses se woorde in Exodus 33:15 ons weer moet herinner wat ons behoort te doen.

Voor die Hervorming het die kerk ook sonder Jesus begin lewe. Die pous en Maria is aanbid. Jesus was nêrens – dankie tog vir Martin Luther!

Ons beland ook in storms in ons lewe waar dit voel of ons van God verlate is. Alleen. Maar was dit nie eerder onsself wat alleen die reis aangepak het nie? Jesus weet van al ons stormworstelinge.

Lewenstorms breek in woede,
alles om my heen is nag.
Tog hou God my in sy hoede,
Hy hou oor my heil die wag.

Gesang 573

Die dissipels pak daardie vaart aan sonder Jesus en die stormsee laat hulle maar sowat 5km vorder in 9 ure. Vir hulle was daar ‘n reddingsboot – Jesus!

En as hulle aanvanklik vrees; ja sy eie dissipels – dan stel Hy hulle gerus. So het ons die blye versekering soos wat ons swig:

Niks wat ek op aarde ly nie
kan my van sy liefde skei nie.
Hoogte, diepte, vreugde, rou,
niks onthef my aan Gods trou.

Gesang 573

In ons lewensvaart moet ons soek na die stem van Jesus – na sy nabyheid. Want sonder Hom kan ‘n storm in ons lewe soos ‘n ewigheid voel.

Op ‘n ander plek vra Jesus, toe ander volgelinge Hom verlaat, of sy twaalf dissipels nie ook wil weggaan nie (Joh 6:67). Dit is dan dat Petrus ‘n antwoord gee wat ons ook deel van ons lewe moet maak:

Here na wie toe sal ons gaan? – Joh 6:68

Slegs Jesus – niemand anders nie. Geen ander godsdiens, sekte of kultus nie, net maar Jesus. Sy woorde getuig van ‘n onwankelbare geloof as hy sê:

U het die woorde van die ewige lewe.

Waar ons ookal op reis is of waar ons ookal onsself bevind, moet die horisonne van ons lewe die grenslyne van sy woord wees.

Sonder Jesus is ons op pad na nêrens, op ‘n doodlooppad. Ja, waar die dood geen heil inhou nie.

Maar ons weet ons kan van pad en koers verander. Jesus sal ons uittrek uit daardie donker pad, die donker van ons verlede, die smart van ons sonde. Net Hy alleen kan dit doen. Hy is die weg, die Waarheid en die Lewe.

Die benoudheid van ‘n dwaalweg kan Hy alleen verlig. Die sinloosheid van ons huidige werklikheid kan Hy in ‘n oomblik verander soos op die See van Galilea.

Soek na Jesus terwyl Hy nog te vinde is!