Prof Willem Jordaan
Die dood bly vir meeste van ons die vreeslikste verskrikking wat voorlê.
Die Bybel leer ons dat die dood die gevolg van die sonde is, en sonde is die wegbreek van God af. In Romeine 6:23 sê Paulus dat die dood die loon is van die sonde. In Genesis 3:15 beloof God 'n vyandskap tussen die mens en die sonde en dat die sonde uiteindelik die onderspit sal delf. Dit is die troos wat die mens het in lewe en in sterwe.
Die gelowige behoort met liggaam en met siel aan die Here. In Johannes 6:47 word die mens die ewige lewe beloof as hy in Hom glo, dit wil sê onsterflikheid. Die mens se liggaam is van materie (stof-klei) gemaak maar God het in die mens se neusgate lewe ingeblaas (Genesis 2:7). Met die diere het God dit nie gedoen nie. Die siel van die mens is dus deur God aan die mens gegee. Die mens se liggaam keer terug tot die aarde (stof tot stof), maar die mens se siel keer nie terug na die aarde nie. Hoe weet ons dit?
“...en die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Prediker 12:7).
Die dood is die gewelddadige skeiding van liggaam en siel. Dit is 'n oordeel en daarom iets verskrikliks. Die liggaam en siel hoort bymekaar en die liggaam is nie 'n kerker waarin die siel gevange gehou word nie. Die liggaam is die voertuig van die siel en verrig deur die sintuie die bevele van die siel.
Die siel is daarom die vernaamste deel van die mens. Dit maak die mens tot lewende wese, 'n persoonlikheid wat die een mens van die ander onderskei. En dit is hierdeur waarom gesê word die mens is geskape na die beeld van God. Daarom heers die mense oor ander wesens op aarde.
Deur die sondeval is die samebinding (van liggaam en gees) wat deur die Godsgedagte saamgebind behoort te wees, ontbind. So het die natuurlike dood ontstaan. By die dood word die siel en liggaam geskei.
“Daar is 'n natuurlike liggaam en daar is 'n geestelike liggaam” (1 Kor 15:44).
Die aardse liggaam vergaan heeltemal (tot stof) en by die wederkoms verkry die verloste mens 'n onverganklike liggaam (1 Kor 15:42). In Lukas 16:22-31 waar ons lees van Lasarus en die ryk man, maak Jesus dit baie duidelik dat die gelowige onsterflikheid onmiddellik by sy dood ontvang. Die mooiste voorbeeld is dalk toe Jesus vir die moordenaar aan die kruis langs Hom gesê het:
“Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”.
Jesus en Stephanus gee hulle "gees" (siel) aan God by hulle afsterwe. Die Kerk van alle eeue het aan hierdie waarheid vasgehou en sal dit ook in die toekoms doen. As die siel immers sterflik is, is God 'n god van dooies.
Ter afsluiting is die woorde van Gesange 184:4 gepas:
Heiliges van vroeër jare het ook eens gedra hul kruis. Nou 'toef hul met eng'skare salig in die Vaderhuis. Juigend sal ek met hul wag tot die groot verrysingsdag.
[Met erkenning aan prof SP Engelbrecht, in lewe hoogleraar aan die UP]