Ds A.E. van den Berg
2. Jesus is God met mag oor die dood
“...en ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan ’n kruishout op te hang. Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het”(Hand.10:39-41).
Het Jesus uit die dood opgestaan soos wat die Skrif en die belydenisskrifte leer of was dit ʼn klug soos ongelowiges en verraderlike teoloë vandag voorgee? Nee, Jesus het wel uit die dood opgestaan. Talle ooggetuies het dit destyds bevestig. Die wonder van sy opstanding uit die dood bevestig sy aanspraak dat Hy waarlik God is. Indien Hy nie uit die dood opgestaan het nie, sou die Christendom moontlik verdwyn het. Jesus se opstanding uit die dood is een van die grootste heilsfeite van die Christendom waardeur Jesus sy mag en oorwinning oor die dood getoon het. Hy het werklik fisies opgestaan. Talle van sy volgelinge het na sy opstanding aan Hom geraak. Ander het saam met Hom geëet.
Ongelukkig word hierdie kernheilswaarheid in talle vrysinnige teologiese skole en Sinodes bevraagteken. Sommige teoloë ontken dit selfs openlik sonder om leertug op hulle toe te pas! Indien Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, sou dit ernstige gevolge vir die Christendom gehad het. Dit sou ʼn streep deur alles wat Hy van Homself gesê het, getrek het. Dit sou dit die sin van die lewe en werklikheid van die mens se ewige eindbestemming in gedrag gebring het.
Gelowiges glo vas dat Jesus uit die dood opgestaan het. En dit gee aan hulle ʼn eindelose hoop. Vir ongelowiges beteken dit egter ʼn hopelose einde! Jesus se opstanding uit die dood is ʼn kerngebeure. Indien dit nie gebeur het nie, was Jesus niks beter as enige ander godsiensleier wat geleef, gesterf en begrawe is nie. Daarom getuig sy opstanding onteenseglik van sy goddelikheid en maak dat die Christendom van alle ander godsdienste verskil. Al die leiers is dood sonder dat een uit die dood opgestaan het.
Daar is vier moontlike verklarings vir Jesus se opstanding uit die dood.
- Dat Hy in werklikheid nooit aan die kruis gesterf het nie; wel baie gely, maar later herstel het
- Dat die verhaal van sy opstanding ʼn opgemaakte storie was
- Dat die dissipels aan sinsbedrog gely het en
(iv) Dat Jesus wel uit die dood opgestaan het soos wat die Bybel getuig.
Die graf waarin Jesus se liggaam neergelê is, was dié van Josef van Arimathéa. Hy was ʼn gesiene Joodse raadslid. Dat sy naam genoem word, bevestig dat hy wel geleef het. Was dit nie daarvoor nie, sou die Jode die opstandingsgebeure onmiddellik as bedrog afgemaak het. Dit sou ook die einde van die berig oor die leë graf gewees het.
Om seker te maak dat Jesus aan die kruis sterf, het ʼn soldaat ʼn spies in Jesus se sy gesteek. Daarna is sy liggaam afgehaal, na ʼn graf gedra en met ʼn swaar klip toegemaak. As verdere voorsorgmaatreël is Jesus se graf 24 uur per dag deur ʼn Romeinse wag bewaak sodat niemand ongemerk sou kon ingaan nie. Daarom het die leë graf Jesus se teenstanders so ontstel, dat hulle die storie dat sy liggaam in die geheim deur die dissipels weggeneem is, opgedis het.
Kon Jesus se liggaam enigsins gesteel gewees het? Nee, met ʼn opgeleide Romeinse wag wat uit 4-16 man bestaan het, was dit volstrek onmoontlik. Wagte wat destyds met ʼn waak misluk het, is dood gemaak. Gevolglik was dit onmoontlik om verby so ʼn wag-eenheid te sluip, ʼn twee ton steen weg te rol en ʼn liggaam weg te neem. Desondanks is die klip weggerol, maar nie met mensehande nie!
Indien Jesus se liggaam wel deur sy dissipels weggedra is, sou Hy nie na drie dae aan die vroue wat na sy graf besoek het, verskyn het nie. Daarna het Jesus vir die 40 dae aan talle mense verskyn. Petrus getuig hiervan:
“...en ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan ’n kruishout op te hang. Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het” (Hand.10:39-41).
Paulus skryf aan die Korintiërs:
“Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene”(1 Kor.15:3-8).
Indien daar nie ʼn opstanding was nie sou Paulus dit nie vir die Korintiërs gesê het nie. Paulus sy hele betoog voor die Joodse raad het oor die opstanding van Jesus uit die dood gegaan. Niks anders nie.
Die berig dat Jesus uit die dode opgestaan het, het soos ʼn skokgolf deur Judea en ander streke getrek. Baie mense het nie daarvan gehou nie. Dis vandag nog so. Dis waar al die pogings om dit weg te redeneer vandaan kom, die een aanslag sterker as die ander, selfs vanuit ontspoorde kerke. Niks kan en sal ooit die feit dat Jesus die dood oorwin en opgestaan het vernietig nie!
Jesus se opstanding het nuwe hoop vir sy volgelinge gebring. Hulle het nie langer oor Hom gerou nie. Hy het vooraf vir hulle gesê dat Hy deur ʼn dissipel in die groep verraai gaan word, erge lyding sou verduur, ʼn kruisdood sterf en drie dae later uit die dood opstaan. Alles het waar geword; ʼn duidelike bewys dat Hy wel die Messias is. Daarna het die dissipels nie langer weggekruip nie en vreesloos getuig dat Jesus tot in ewigheid lewe.
Jesus se opstanding uit die dood is die sterkste getuienis van sy godheid. Dis ʼn geskiedkundige feit wat die gang van die geskiedenis vir altyd verander het.
“En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (Rom.8:11).).
Dis ook gelowiges se waarborg dat daar wel lewe na die dood is en dat niemand Jesus tevergeefs dien nie:
“As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense” (1 Kor.15:19).
Gelowiges leef met die belofte en volle versekering van ʼn ewige lewe saam met Hom wat God is:
“Werp dan julle vrymoedigheid, wat ’n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ’n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe “ (Hebr.10:36-39).
Jesus se opstanding uit die dood getuig van God se mag oor die dood:
“En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor.15:54.55).
Indien Jesus nie uit die dode opgestaan het nie, sou sy dissipels ontnugterd en mismoedig na hulle ou lewe teruggekeer het - minus enige saligmakende geloof. Daarom was Jesus se opstanding uit die dood ʼn inspuiting vir die nuwe geloof wat spoedig in die wêreld versprei het. Selfs Jakobus, Jesus se skeptiese broer, het eers na sy opstanding tot bekering gekom en die leier van die eerste gemeente in Jerusalem geword.
Benewens ʼn bekwame geneesheer was Lukas ook ʼn befaamde geskiedskrywer. Sy verslag van die verloop van die Christendom is in Hand.4-5 opgeteken:
“En terwyl hulle besig was om met die volk te spreek, het die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom, baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig. En hulle het die hande aan hulle geslaan en hulle in die gevangenis gesit ... En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd ... en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? ... en die hoëpriester het opgestaan en almal wat saam met hom was ...en hulle was met nydigheid vervul, en hulle het die hande aan die apostels geslaan en hulle in die openbare gevangenis gesit ... Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring...En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan”.
Die opstanding van Jesus uit die dode op die eerste dag van die week het so ʼn impak op die gelowiges gehad, dat hulle voortaan nie meer die Joodse sabbat nie maar die eerste dag van die week, die dag van Jesus se opstanding, as rusdag begin vier het. Hulle het dit die dag van die Here genoem. Johannes het die openbaring op ʼn Sondag ontvang:
“Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ʼn groot stem gehoor...” (Openb.1:9).
Dank God vir die opstanding van Jesus want daarsonder sou die kerk nooit kon groei nie.
Slot volg...