BID VIR DIE GEESTELIKE DOOIES IN ONS VOLK

“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” Miga 6:8

Die Bybel maak dikwels melding van mense wat ʼn besondere verhouding met God gehad het omdat hulle baie na aan Hom geleef het.  Hulle verhouding met die Here word as ʼn wandel met God beskryf.  Wat was hulle geheim?   Hoe kon hulle so naby aan God leef?  Enersyds omdat die Heilige Gees kragtig in hulle gewerk het om God op ʼn baie besondere wyse te volg.   Andersyds was dit ʼn wilsbesluit.  Elkeen van hulle het bewustelik gekies om God so te volg.

God het ʼn behae in almal wat met Hom wandel.  Daarom het Hy deur die eeue mense geroep om op ʼn baie besondere manier met Hom te wandel, veral in moeilike tye soos dié van Miga.   Miga tree in ʼn tyd op toe Israel geestelik so veragter het, dat sy kwalik as die uitverkore volk geëien kon word en min van die heidendom verskil!   Hosea, ʼn tydgenoot van Miga, skryf van misdaad in Israel wat die hoogte ingeskiet het - bedrog, inbrake en rowers wat mense aanval.   Dit klink baie modern!

Niemand hou God vir die gek sonder straf nie!  “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb. 10:31).  Desondanks het mense die tempel gereeld besoek en offers gebring.  Alles was egter kunsmatig.  Israel was nie opreg met die Here nie, maar blind vir haar geestelike verval.   Daarom het God vir Miga geroep om Israel se oë oop te maak.  Israel moes wakker word!

Israel het op daardie tydstip werklik nie besef hoe groot haar sonde is nie.  Alvorens ʼn mens nie weet hoe groot sy sonde is nie, sal hy nie daarvan ontslae raak nie.  Dit sê HK baie duidelik.   Mense oortree soms onwetend.   Alvorens iemand jou nie daarop wys nie, gaan jy daarmee voort.   Maar waarom sou iemand jou teregwys?   Omdat hy vir jou omgee - presies wat God met Israel doen.  Omdat Hy Israel liefgehad het, het Hy Miga gestuur om hulle tereg te wys.   Israel moes herstel en met God wandel.

God het hard met Israel gepraat en hulle soos in ʼn regsaak aangekla.   Die klagstaat was lank en die aanklagte was soos simboliese laste wat op hulle rug geplaas is totdat hulle dit nie verder kon dra nie.   Israel moes tot die skokkende ontdekking kom dat hulle godsdiens nutteloos was en dat hulle God daarmee kwaad gemaak het. Israel het die offers wat die Wet van Moses voorgeskryf het, pynlik presies nagekom.

Die Jode het slegs deur offerandes versoening van sonde verkry.  Waar sulke offerandes egter nie met sondeberou gepaard gegaan het nie, was dit ook tevergeefs. Die probleem was dat baie mense gruwelik geleef, maar God met hul offers probeer paai het!   Hulle het as’t ware die boete vir hul sondes betaal, maar die sonde nie laat staan nie.   Daarom vra Miga in vers 7: “Sal die Here ʼn welbehae hê in duisende ramme...”  Stel God in die offer of die berou belang?   Israel wou eerder bly boete betaal as om van hul sonde ontslae te raak.  Die sonde was al te lekker!

Israel was eng godsdienstig, maar nie godvrugtig nie.  En dis die probleem van die kerk deur die eeue.  Godsdiens is vir baie mense niks anders nie as ʼn gewetestiller.  Mense lees die Bybel, bid en gaan kerk toe net om hul gewetes te stil.  En dit maak God kwaad!   As jy nie met Hom wil wandel nie, moet jy liewers ophou Bybellees, bid en kerk toe te gaan.  Dit gaan jou in elk geval niks baat nie!

In vers 7 vra Miga: “Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?”  Alhoewel die Bybel mense-offers verbied, kan ʼn mens jou nouliks ʼn groter offer indink as iemand wat sy eie kind offer.  Dink maar aan Abraham se sielewroeging toe hy aangesê is om Isak te offer!

Heidene het gereeld kinders geoffer; ʼn gruwel wat ook in tye van geestelike verval in Israel en Juda voorgekom het.   Koning Agas het dan van sy eie kinders aan die afgod Molog (Baäl) geoffer!   Sulke kindertjies was gewoonlik nie ouer as vier jaar nie en is al gillende in ʼn oop vuur gegooi om lewendig te verbrand, net om ouers se gewete te stil.   Desperate blindheid laat mense dikwels lelike dinge doen!

Miga sluit hierby aan en sê dat al sou ons selfs ons kinders vir God offer, d.w.s. die beste wat ons het vir Hom gee, maar ons wandel nie opreg met Hom nie, sterf daardie kind tevergeefs!   Daar is geen plaasvervanger vir ʼn opregte wandel met God nie!

Met die koms van Christus het God ʼn ander pad van versoening vir sondes voorsien.  Gelowiges wat opreg met Hom wandel, het in Christus ʼn voorspraak en ontvang vryspraak deur sondebelydenis.  Ons offer nie meer nie, maar bely ons sonde in berou voor God.  Hy vergewe (1 Joh.1:8,9).

Reeds in die OT het God opregte geloof bo godsdienstige gewoontes verkies: “en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers” (Mark.12:33).

In die teksvers sê Miga hoe hierdie gehoorsaamheid moet lyk en noem drie vereistes.  Gelowiges moet doen (i) goeie dinge te doen (ii) in liefde met mekaar leef en (iii) God opreg dien.   Die eerste twee het met die tweede tafel van die Wet te doen; ons optrede teenoor ons naaste.   Die derde vereiste het met die eerste tafel te doen – om God nie ʼn rat voor die oë te wil draai, maar eerder opreg met Hom te wandel.

Wanneer wandel ons opreg (ootmoedig) met God?   As ons die lewenspad in diepe afhanklikheid van Hom stap.   Ootmoed beteken om geestelik met jou hoed in die hand te staan.  Ons is bedelaars voor God.  Ons het niks om op te roem nie.  Alles is genade.

As ek met God wandel, gee Hy my iets wat geld nie kan koop nie – vrede.  En dis ontsaglik belangrik – om vrede met God te hê.   In Amos 3:3 sê die profeet: “Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?”   Daarna sê hy in vers 8 dat om sonder vrede met God te probeer wandel, is soos ʼn man wat in die bos loop en ʼn leeu hoor brul.   Hy is onmiddellik onrustig want sy lewe word bedreig!   So is die mens sonder God – hy het geen rus vir sy siel nie, omdat hy bang is vir die oordeel en hel wat op hom wag!

As jy nie tot rus in God gekom het nie, kan jy nie met Hom wandel nie.  Jy bly altyd onrustig omdat daar vyandskap tussen jou en God is.  Daar is, in Amos se woorde, geen afspraak tussen jou en God nie.  Sonder ʼn afspraak, kan geen verhouding ontwikkel nie.  Ons moet eers ʼn afspraak met God hê alvorens ons met Hom kan wandel.  En dit bring vrede en rus.  In Efes.2:14 sê Paulus: “Want Hy is ons vrede...”

So, dis waar die wandel met God begin – vind eers vrede en rus met Hom.  En dit geskied deur die bekering.   Daarsonder is alle godsdiensywer tevergeefs – gebede, Bybellees, kerkgang, gemeentebetrokkenheid – alles tevergeefs!

ʼn Mens aanvaar nie geskenke van jou vyande nie.  God nog minder.  Almal wat die genade van God in Christus verwerp, is sy vyande.  Sulke mense moenie met gebede, Bybellees, kerkgang of wat ook al vir God geskenke aandra nie.  Vir hulle sê Hy soos vir die vyf dwase maagde wat aan die feessaal se deur klop: “....Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie” (Mt.25:12).

Om met God te wandel is heerlik, maar nie maklik nie, want dit gaan teen die grein van die natuurlike mens in om met God te wandel.   Die mens is van nature in opstand teen God.  Hy verwerp sy gesag en skaad selfs sy Koninkryk soos Paulus voor sy bekering gedoen het.  Daarom verdien elkeen van ons die ewige dood en is dit net genade as God ons natuurlike weg omkeer, ons die bekering laat smaak en ons in Christus tot rus laat kom.

Die vrede en rus van God is wonderlik.  Dis net iets anders!   Dit wend nie alleen die hel af nie, maar help ons om by ons eintlike taak uit te kom – die verheerliking van God.   Dis die primêre doel van ons wandel met God.  Ons soek nie vrede met God omdat ons nie in die hel wil brand nie, maar om Hom te verheerlik en so aan ons hoofdoel te beantwoord.

Waarom het God alles gemaak; mense, plante, diere?  Tot sy verheerliking.  “Alles het die Here gemaak vir sy doel...” (Spr.16:4). “U is waardig, o Heer, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur U wil bestaan hulle ...” (Openb.4:11).

God wil dat ons Hom as ʼn genadige, vergewende God sal ken en verheerlik.  Elkeen wat met Hom wandel, moet dit geniet en weet dat dit die beste ding is wat hy ooit kon doen.  Daar is selfs loon aan verbonde! “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ʼn skild en jou loon is baie groot” (Gen.15:1).  Christus sê in die Bergpredikasie: “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele...” (Mt.5:12).   Dis nie net heerlik om met God te wandel nie; dis ook lonend!

Vir een ding moet ons egter bitter versigtig wees: Moenie ʼn wandel met God met godsdienstigheid verwar nie!   Nêrens in die Bybel eis God van ons om godsdienstig te wees nie.  Hy eis wel dat ons Godvrugtig moet wees.  Godsdienstigheid maak dat miljoene mense nooit in hul lewe met God wandel nie.   Dit was Israel se probleem in die tyd van Miga.   Die Jode was uiters godsdienstig, maar nie Godvrugtig nie.  Hulle het gemeen dat die wandel met God uit die nakoming van sekere pligte bestaan soos om die Woord van God te lees, elke dag te bid, gereeld tempel toe te gaan, offers te bring en die feesdae by te woon.   Hierdie valse pligsbesef het hul geestelik dood  gemaak.  Dooies kan nie loop nie, laat staan nog met God wandel!

Kom ons bid vir die geestelike dooies in ons volk.   En daar is baie!   Dink aan God se woorde aan die gemeente Sardis: “....Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (Openb.3:1).   Kom ons bid dat ons volksgenote nie ʼn tweede Sardis sal wees – dit lyk asof ons leef, maar eintlik is ons dood!   Ons het net een lewe.  Laat daar eendag op jou graf geskryf staan:  Hy/sy het met God gewandel!