WETTELOOSHEID...

...het 'n chaotiese samelewing op aarde geskep

Stephanus Hennig

"Kan 'n maghebber heerskappy voer oor 'n volk sonder enige reël? Kan 'n volk voortbestaan as daar geen regering is om hulle as 'n eenheid te rig nie? As hierdie dinge moontlik is, waarom kan die publiek nie toegelaat word om hulle eie reg te verdedig, en hulleself te wreek op misdadigers nie? Selfs onder die vervalle humanistiese regerings van die aarde word so iets nie toegelaat nie, want dit sal in algehele chaos eindig. Daarom is sentrale regering nodig om 'n sentrale riglyn te verteenwoordig onder die volk."

Die regering van God, in die hemel sowel as op die aarde, kan nie anders geskied as deur wetgewing nie. God verklaar Homself as heilig! Dit wil sê: as een wat die wet van die geregtigheid vervul. "Heilig" kan tog geen ander betekenis hê, as sondeloos nie. Soos die woordeboek dit verklaar – sonde is om die wet te verbreek. Daarom word sonde wetteloosheid genoem. - Joh.3:4.

As sonde dan wetteloosheid is, dan moet ons aanvaar dat die duiwel en sy magte vyande is van die wet van God. Hulle het sonde in die skepping ingebring, en daarom die wet van God weerstaan, en in II Thes.2:8 noem Paulus die antichris "die wettelose" (avojuoa), en in vers 7 van dieselfde hoofstuk noem hy hulle bedrywigheid "wetteloosheid" (avojuoo), dieselfde woord wat in I Joh.3:4 gebruik word.

En Daniël sê dat die antichris in die laaste dae tye en wet sal probeer verander; en dat hy die waarheid op die grond sal neerwerp. Ons sien dus dat die antichris nie geopenbaar kan word alvorens die wet van God nie vernietig is nie, volgens II Thes.2:6,7.

Dit is waarom die antichristelike magte evolusie versin het, want evolusie erken geen Skepper nie, wat natuurlik die gevolgtrekking afdwing dat daar geen wet hoër as dié van die mens is nie. Daarom het hulle die wettelose regime van humanisme geïmplementeer onder die volke van die aarde.

Maar hoe het hulle die wêreld sover gekry om hierdie wettelose stelsel van hulle te aanvaar, terwyl die wet 'n inherente, instinktiewe gewaarwording was in die mens deur al die eeue? 'n Mens se godsdiens vorm altyd die basis van sy lewensoortuiging, ter wille van sy godsdiens sal die mens sy familie en vriende verlaat; vir sy godsdienstige oortuigings is hy bereid om te sterf.

Godsdiens is aan die wortel van die persoon se lewensywer. As jy die mens se lewensbeskouing wil verander moet jy sy godsdienstige oortuigings verander. Ook weet ons dat die magte van die duisternis nie bekommerd is oor die wette van afgodedienaars nie, maar wel oor die wet van Israel en die kerk van Jesus Christus. Daarom het hy in die kerk leraars verwek wat die Christendom vervul het met die leuen van wetteloosheid.

Net soos hulle die wet van God in sy tempel in Jerusalem vervang het met die wet van Babel, so het hulle die wet van God in die kerk vervang met die leuen van "geen wet nie, net genade!"

Júlle, die gemeentes van Christus, wat die wet van God moes handhaaf tot vrede, het die wet van Christus verlaat vir die wettelose regering van die antichris. Julle het hom gehelp om in sy doel te slaag deur slagspreuke wat julle onder mekaar gebesig het sonder om te verstaan wat julle sê.

Slagspreuke soos: "Ons het niks met die wet te doen nie"; "ons is nie onder die wet nie"; "moenie wetties wees nie!" Julle het die stede en dorpe van die aarde gevul met jul baniere wat julle hoog laat wapper het in verset teen die wet van God.

Paulus verklaar wel in Rom.6:14 dat: "Ons is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade." Maar wat bedoel hy? Eers wys hy vir ons dat ons nie deur die wet geregverdig kan word nie, en dan sê hy, ons moet die wet vervul. Al wat Paulus vir die gemeentes wou sê, is dat ons nie meer staan onder die letter van die wet nie -- ons is nie op ons eie kragte verlaat om die wet se voorskrifte op papier na te kom nie.

Maar ons het deur genade die Heilige Gees ontvang, wat die liefde van God in ons harte uitgestort het. En hierdie liefde vervul die hele wet van God. Dit is die Gees van God uit ons binneste, en nie meer ons wat op ons menslike vermoë verlaat is nie.

Selfs die kerke wat tydens elke sabbat die tien gebooie voorhou, het die wet nie vervul nie, maar hulle sonde (wetteloosheid) verskoon onder die prediking van genade. "Ons is almal sondaars!" sê hulle. So gee julle getuienis teen julleself, dat julle die wet van Christus nie hou nie.

Paulus sê: "Die liefde is die vervulling van die hele wet." En die opdrag is dat ons God sal liefhê met die hele hart, wat neerkom op die vervulling van die hele wet, anders het die woorde van God geen betekenis meer nie. Die getuienis van die Nuwe Testament is duidelik en veelvoudig, want in Rom.3:31 vra Paulus die vraag: "Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof?" Dan antwoord hy beslis: "Nee, stellig nie! In teendeel ons bevestig die wet." Ons wat glo vervul deur die geloof die wet van God. Ook in Rom.8:4 sê Paulus: "Sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die gees. "Verder verklaar hy in I Kor.7:19 dat: "Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God. “

Waarlik, die Christene wat nog die wet van God verbreek, het geen verontskuldiging nie.

Maar julle, o Christendom, verbreek nie net self die wet van God nie, maar julle het die hande van die Wettelose Een versterk, deurdat julle die wet van God tot niet verklaar het onder die vaandel van die Nuwe Testament.

Julle wetteloosheid openbaar julle as dissipels van die antichris, die Wettelose Een.

Oordeel self, is daar enige mag in die skepping wat regeer sonder wet?

Kan 'n maghebber heerskappy voer oor 'n volk sonder enige reël? Kan 'n volk voortbestaan as daar geen regering is om hulle as 'n eenheid te rig nie? As hierdie dinge moontlik is, waarom kan die publiek nie toegelaat word om hulle eie reg te verdedig, en hulleself te wreek op misdadigers nie? Selfs onder die vervalle humanistiese regerings van die aarde word so iets nie toegelaat nie, want dit sal in algehele chaos eindig. Daarom is sentrale regering nodig om 'n sentrale riglyn te verteenwoordig onder die volk.

Genade vergewe sondes van die verlede en onwetende huidige sondes, en is geen vryspraak vir bewustelike huidige sondes nie. Genade voorsien juis die krag om die hele wet van God te vervul. Deur die genade van God onder die Nuwe Testament is ons met die krag van die Heilige Gees toebedeel, om die wet van sy liefde te vervul. Daarom sê Paulus in Rom 5:5 dat HIERDIE LIEFDE deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is.

En HIERDIE LIEFDE is die vervulling van die wet, en nie die verbreking daarvan nie. Hy wat God liefhet vervul die wet van God; maar hy wat HIERDIE LIEFDE nie in hom het nie is 'n sondaar, en daarom 'n verbreker van die wet van God.

Elkeen wat die wet van God weerstaan, weerstaan die ewige lewe, en verstaan niks en weet nie dat die lewe in Christus net deur gehoorsaamheid aan die wet ons deel kan word nie. Die duiwel weet goed dat die lewe en Vrede van die mens lê in gehoorsaamheid aan die wet van God, daarom het die antichris en sy magte tot nou toe gewoed teen die wet van God, en die naam "wettelose" verwerf.

Wee die Christendom wat die wet van God tot niet verklaar het, en self wetteloos geleef het, en ander verhoed om die wet van God te onderhou. Ook het hulle diegene vervolg wat aan God gehoorsaam was!

Daarom gee God julle dan ook oor aan die mag van die wettelose, om hom te dien en dan saam met hom geoordeel te word. Wie anders is die verborge Babilon as die kerk wat die wet van haar man nie onderhou het nie?