HEMEL OF HEL? MAAK JOU KEUSE! (1)

Ds AE vd Berg

Lees reeks by HEMEL OF HEL? MAAK JOU KEUSE!

IS DAAR WERKLIK 'N HEL?

Skrif:  Luk.16:19-31

“En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam”  (:24)

Daar is min woorde wonderliker as 'redding.'   Jy bevind jou bv. op ‘n skip wat sink en ‘n reddingsvaartuig daag ter elfder ure op.  Jy word in ‘n brandende gebou vasgekeer en ter nouer nood deur brandweerpersoneel gered.  Waarvan is jy gered?  Van ‘n gewisse dood.  Jy moes eintlik gesterf het, maar jy lewe - teen die verwagting in!

Wat is die wonderlikste redding denkbaar?  Om van die ewige dood gered te word.   Daar is drie tipes van dood. 
(i)  Die geestelike dood.  Dis as mense nie in ‘n lewende verhouding met Jesus staan nie en soos geestelike lyke is. 
(ii)  Die tydelike dood.  Dit gebeur as jy sterf en ‘n skeiding tussen liggaam en siel ontstaan. 
(iii)  Die ewige dood.  Dis as die band finaal met God verbreek word en die ongeredde mens vir ewig en altyd in die hel beland sonder enige omdraaikans.

Watter een is die wonderlikste redding?   Om van die ewige dood gered te word.  Dit gebeur as God my in sy genade uit die see van vernietiging red amper soos wat Jesus een stormnag vir Simon Petrus op die See van Galilea van gewisse verdrinking gered het.   God het Jesus soos ‘n brandweerman gestuur om ons van ‘n vlamme-ewigheid te red wat kortweg die hel genoem word.

Die hel – wat ‘n vreeslike woord!   Dit verwek vrees en afkeur by baie mense. Vrees omdat dit as die weersinswekkendste plek beskou word om in te wees en afkeur by diegene wat dit as die produk van ‘n siek verbeelding afmaak.   Dan is daar ook mense wat sinies daaroor lag en die hel as ‘n bangmaak-simbool beskou wat deur die ou Jode bedink is om mense te verhoed om verkeerd te leef.

Die hel is ‘n werklike plek net soos wat die hemel ‘n werklike plek is.  In Joh.14:1 sê Jesus vir sy dissipels dat Hy vir hulle plek gaan berei om vir ewig by Hom in die hemel te kan wees.  Dis ‘n belofte vir alle gelowiges.   Die hel is die plek vir diegene wat nie daar gaan wees nie.  Na jou dood gaan jy in een van die twee plekke wees!

Baie leraars preek nie oor die hel nie omdat hulle bang is dat dit mense kan ontstel.   Hoe durf ‘n leraar nalaat om mense oor die naderende oordeel te waarsku?  As leraars meer oor die ewige redding en ewige verderf preek, kan daar selfs minder misdaad wees!  Miskien kan die groot verval in Suid-Afrika ook teruggevoer word na die feit dat daar nie meer oor die hemel of die hel gepreek word nie!

Baie mense glo nie aan ‘n hel nie omdat dit nie met hulle idee van ‘n liefdevolle God strook nie.   Dit maak nie saak wat mense sê nie, die hel is en bly ‘n werklikheid!   Dis die ontstellendste feit van die lewe en die grootste vraagstuk waarmee ‘n ongelowige te kampe het totdat dit met sy bekering opgelos word.

Andersyds is daar min Bybelse leerstellings wat onverskilliges al so tot hul sinne gebring het soos die leer oor die hel.   Vrees vir die dood en die hel het menige sondaar van sy verkeerde pad laat wegswaai en aan die voet van die kruis gebring.  Desondanks moet geen mens hom bekeer omdat hy bang is vir die hel nie.

Ek wil nie met vreesprediking u in die hemel probeer indwing nie.  Ek preek nie oor die hel omdat ek dit geniet nie, maar omdat Jesus daaroor gepraat het.  Ek wil u enersyds waarsku om nie daar te beland nie.   Andersyds wil ek u ook bemoedig met die woorde van Christus aan die gemeente in Smirna: “.....Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).

Mense is lief om mekaar bang te maak.  Ja, selfs om vrees vir die hel onder mekaar aan te wakker!   Die filosoof Dante (geb.1265) het bv. in sy verbeeldingryke boek Inferno ‘n vreesaanjaende hel van rooi duiwels met drietandvurke in ‘n vuuroond beskryf.   Mense wat die boek gelees het, was amper te bang om te gaan slaap!   Ja, ongelowiges weet maar al te goed van die hel en hulle sidder vir die oordeel!

Vir baie is die hel nie ‘n werklikheid nie, maar ‘n spreekwyse.  Iemand sal bv. sê: “My huwelik is hel!” of: “Hy het my hel op aarde gegee”  Baie mense meen dat hulle geen hel in die hiernamaals sal smaak omdat hulle dit alreeds op aarde ervaar het.  Wat ‘n onaangename verrassing wag daar nie op hulle nie!

Is daar werklik ‘n hel?   Wat sê kerke?  Talle staan deesdae skepties daaroor, veral van die ontspoorde kerke.   Nie lank gelede nie was daar in ‘n NG Kerk Sinode ‘n hewige debat daaroor wat selfs die koerantopskrifte gehaal het.   Etlike teoloë glo nie meer aan ‘n hel nie!

Wat glo u?  Ek het vir u goeie en slegte nuus.  Die slegte nuus is dat daar wel ‘n hel is.   Die goeie nuus is dat gelowiges nie daarin beland nie!  “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).   Uitwerp hou met die hel verband.  In die gelykenis van die talente sê die teleurgestelde werkgewer: “En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis...” (Mt.25:30).  Die kind van God het die heerlike versekering dat dit nie met hom sal gebeur nie.   In Jesus Christus word hy van ‘n ewige hel gered!

Maar waarvan word ons eintlik gered?   Van God se toorn.   Sonde maak God kwaad!   Ons het oortree en moet boet.  Dit word nie sito-sito oorgesien nie.  God se heiligheid en geregtigheid laat dit nie toe nie net soos ‘n regter ‘n misdadiger nie oorsien nie omdat die wet straf vereis.   Dis geen vreemde gedagte nie.  Bybel is vol daarvan. “Want die dag van die Here is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom” (Obad 1:15).  In sy profesie teen Babel skryf Jeremia: “Vergeld hom na sy werk, doen met hom net soos hy gedoen het, want hy was vermetel teen die Here....” (Jer.50:29).

Oor een ding moet ons nooit bedenkinge hê nie nl. dat daar wel ‘n hel is en dat ‘n oordeelsdag in aantog is.   Dis nie verbeelding of ‘n gogga-maak-vir-baba-bang storie nie; dis ‘n werklikheid!   Die vraag wat ons onsself moet afvra, is: Is ek van God se toorn gered?  Wie nie daarvan gered is nie, het die grootste probleem denkbaar!

Ten spyte daarvan dat alles in die lewe van tydelikheid getuig, dink mense nie graag aan ewige dinge nie.   Miskien is dit een van die groot redes waarom dit so sleg met die mensdom gaan.  Die mens het, soos die ryk man van Luk.16 sy ewigheidbesef verloor.   Hy is op die hier en die nou ingestel, en dit maak hom geestelik stiksienig.

Kyk ‘n bietjie rondom jou.  Alles is tydelik.  Die lewe is soos ‘n eindelose begraafplaas.  Geslagte kom en geslagte gaan.  Vandag staan ons by die graf van ons ouers, môre staan ons kinders by ons s’n.  Al wat ewig is, is God die lewe hierna. “Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet...(Ps.90:4).

Vir die deursnee mens is die ewigheid iets baie ver in die toekoms en nie iets om hom nou oor te bekommer nie.  Dis onduidelik, onbepaalbaar, onverstaanbaar, vaag.   Hy besef nie dat dit wat van hom ‘n unieke mens maak, slegs met ‘n nietige naelstring van sy asem aan ‘n bewustelike bestaan gekoppel is nie!   Die ewigheid kan enige sekonde vir hom aanbreek.  Net ‘n dwaas is, soos die ryk man in Luk.16, nie op die ewigheid voorberei nie.

Ons is vir ‘n kort proefperiode op die aarde.  Ons word hier getoets of ons reg is vir die hemel of nie.  Gelowiges is burgers van die ewigheid wat deur die bekering vrede met God gevind het en daarna uitsien om die ewigheid saam met Hom in die hemel deur te bring.  Ofskoon ons op die aarde is, het ons geen vaste verblyfplek hier nie.  Ons is, soos Ps.119:19 sê vreemdelinge op die aarde.

Ek het onlangs van ‘n mooi grafskrif gehoor.  Die oorledene was lief gewees om te reis.  Op sy graf verskyn die volgende woorde: “Ek was ‘n reisiger op aarde.  Die reis is verby en ek is terug!”

Die verhaal word vertel van ‘n koning wat dikwels neerslagtig geraak het.  Om hom op te beur, is ‘n hanswors aangestel wat ‘n vertroueling van die koning geword het.   Eendag het die koning ‘n goue muntstuk aan hom gegee met die opdrag: “Gaan deur my hele koninkryk.  En as jy ‘n groter gek as jyself vind, gee dit vir hom”   Die man het lank deur die koninkryk gereis, maar geen groter gek as hyself gevind nie.   Op ‘n dag het die koning baie siek geword en die hanswors laat kom. “Ek gaan op ‘n baie lang reis waarvandaan ek nie gaan terugkeer nie”  het hy vir hom gesê.  Toe vra die hanswors: “Het u vir diè reis gereed gemaak?”  Die koning het sy kop geskud: “Nee, ek het nie”, waarop die hanswors vir hom die goue muntstuk gee omdat hy ‘n groter gek as hyself gevind het!

Luk.16 vertel ook van ‘n man wat nie vir die onafwendbare reis in sy lewe reggemaak het nie.  Hy het soos die koning geleef - asof daar nooit ‘n einde aan sy lewe sou kom nie en eers tot sy sinne gekom toe dit te laat was om sy saak met die Here reg te maak.  Moenie dieselfde fout maak nie!