Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons besef dat vreugde en hartseer 'n tweeling is sal ons ophou om die twee te probeer skei – hartseer maak ons gereed om vreugde met meer waardering te geniet.
IS U DIE PRIESTER IN U HUIS?
Ds Andrè van den Berg
“Dan maak Job die more vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van hulle; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig...” Job 1:5
In die vroeë 70er jare is ʼn 19 jarige jongman ter dood veroordeel – Rodney Axe. Toe regter Baker die doodstraf oor hom uitspreek, het hy ʼn vinger na Rodney se alkoholis-vader gewys en gesê: “Ek moes jou eerder die doodstraf opgelê het!”
Baie kinders het al weens swak ouers in die lewe gestruikel. Sommige het selfs vroeg in ʼn graf beland. Gelukkig is daar baie kinders wat op hul lewe kan terugkyk en God vir voorbeeldige ouers dank. Ongelukkig was daar ook kinders wat maar net te bly was om van die slegte invloed van hul ouerhuise verlos te word!
Die bekende Engelse prediker C.H Spurgeon skryf: "Ek is in ʼn godsdienstige huis gebore en is met sorg opgevoed sodat ek van kleins af met die Evangelie bekend was. Die pragtige voorbeeld van my ouers het egter die grootste indruk op my gemaak. Dit het my verhoed om na sonde te gaan soek”
In die gelese gedeelte ontmoet ons ʼn gelukkige gesin; ʼn pa, ma en 10 kinders. Die klem val egter op Job, die vader van hierdie gesin. Job was, soos dit ʼn goeie vader betaam, priester in sy huis. Priesters het ʼn groot rol in die kerk van destyds gespeel - hulle moes na die geestelike welstand van ʼn gemeente omsien.
So ook ʼn vader teenoor sy gesin. Sy eerste verantwoordelikheid is teenoor God naamlik die geestelike versorging van sy gesin wat God aan sy sorg toevertrou het. En dis waar alle kinderopvoeding begin; by die geestelike versorging van sy gesin. God gee aan hom kinders. Kinders is skatte. Daar word gesê dat jy niks saam met jou hemel toe kan neem nie. Nee, jy kan: jou kinders! As jy hulle tot die ware bekering lei, sal hulle saam met jou in die hemel wees!
Ongelukkig het vaders so besig met tydelike dinge geraak, dat hulle hul belangrikste taak, die geestelike versorging van kinders, afskeep en selfs versaak. Wat ʼn nood het ons Boerevolk nie aan vaders wat werklik priesters in hul huis is nie!
Jesus sê baie reguit dat onverskillige ouers die dood verdien: “Maar elkeen wat een van hierdie kindertjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ʼn meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see”(Mt.18:6).
Job was ʼn wonderlike vader. Sy karakter word met “En een wat afgewyk het van die kwaad” opgesom (Job.1:1). Kan kinders vir ʼn beter vader as dit vra? Job het God eerste in sy lewe gestel en sorg gedra dat sy kinders God eer. Hulle het van kleins af geweet dat hy ʼn kind van God was en eerbied vir hom gehad. Ek wonder hoeveel van ons volk se kinders kan dit van hul eie vaders sê?
Die geseënde invloed van gelowige ouers op kinders kan nooit in geldwaarde bereken word nie. Dit val die oog op. Paulus skryf aan Timotheüs: “en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Lois en in jou moeder Eunice, en wat – daarvan is ek oortuig – ook in jou is” (1 Tim.1:5).
Gelowige ouers is God se instrumente; die hand van liefde waarmee God die kinders in daardie huis aan sy eie hart druk. Daar word gesê dat kinders God se gawes aan ouers is. So ook godvresende ouers aan kinders. Hulle kinders loop selde skeef!
Job was vir sy kinders ʼn toonbeeld van Godvresenheid om na te volg. Die spreekwoord sê: Woorde wek, maar voorbeelde trek. Gelukkig is daardie kinders wie se ouers se woorde sowel as hul voorbeelde hulle ʼn liefde vir Jesus en die goeie in die lewe gee.
Job is die toonbeeld van ʼn verbondsvader. Hy was nie ʼn pretbederwer nie en het selfs toegelaat dat sy kinders gereeld partytjies hou en die jong lewe geniet. Nogtans was daar by hom altyd ʼn heilige besorgdheid oor die eer van God. Hy was maar altyd bekommerd dat sy kinders God oneer in hul feestelike stemming kon aandoen. Daarom het hy na elke partytjie versoeningsoffers aan die Here gaan bring; so ernstig het Job die verbond met God opgeneem!
Erns met die verbond lei tot heiligmaking en heiligmaking tot godsvrug wat God behaag. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar – die gebrekkige nakoming van die verbond lei tot godsdiensverval en godsdiensverval tot volksverval soos tans in Suid-Afrika gebeur. Ons gesinslewe lyk soos ons land se kerklike strukture - alles stort in duie. Al wat oorbly, is doppe – van buite mooi maar van binne leeg!
Wat vandag in ons land gebeur, is alles tekens van die eindtyd. Paulus skryf aan Timotheüs oor die verval net voor die einde: “...mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het...” (2 Tim.3:5). Hy skryf in dieselfde trant aan die Tessalonisense: “ ... want eers moet die afval kom en die mens van die sonde geopenbaar word ... sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:3,4). Sodra die afval ʼn sekere punt bereik, word die Antichris openbaar.
Kerklike afval neem onrusbarende afmetinge aan; alles aan ʼn verlies van ʼn nakoming van die verbond te wyte. Satan haat die verbond, verbondsouers en verbondskinders. Hulle staan in sy pad om die mensdom aan hom te verslaaf. Ek wonder hoeveel ouers weet nog iets van die verbond? Hoeveel voed hul kinders met die oog daarop op? Wat het van ons verbondsouers geword? Wat het van hul doopbeloftes geword? Is hulle soos ʼn Job nog enigsins besorg oor God se eer?
Job is ook ʼn goeie voorbeeld van getroue gebedslewe. Ons lees dat hy nie net offers vir sy kinders se moontlike oortredings gebring het nie, maar ook vir hulle gebid het. Hy was weereens priester in sy huis. Job bid nie vir sy kinders se veiligheid, voorspoed of geluk nie. Hy bid dat hulle God se eer nie sal skaad nie. Is dit by jou ook prioriteit?
Verhale van jong mense wat struikel, neem onrusbarend toe en die ouderdomme al hoe jonger. Laersskoolkinders wat by losbandigheid, dwelms, satanisme en ander gruwels betrokke is, is algemene nuus. Waar is die verbondsouers?! ʼn Kind loop nie sommer skeef nie. Dit begin in ouerhuise minus die verbond.
Vaders speel ʼn deurslaggewende rol in ʼn gesin. Ek dank God vir ouers wat hul kinders in gehoorsaamheid aan hul doopbelofte in die vrese van die Here opvoed. Dit behoort elke vader se voorreg te wees om priester in sy huis te wees. Ongelukkig is baie ouers so bang om as ʼn pretbederwer uitgewys te word, dat hulle eerder skiet gee i.p.v. die leisels vaster te vat. En as daar fout kom, verontskuldig hul hulself!
Ons is nog vars in die nuwe jaar. Maak van 2016 ʼn nuwe begin met jou gesinslewe. Leer jou kinders om Christus eerste te plaas. Mag God jou ook met ʼn heilige besorgdheid oor hul sieleheil seën. Dis al manier hoe ons hierdie verval in ons volk en kerk kan teenstaan.
Amen!