Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Volk met ‘n gelowige leier is baie geseënd. Sy gees is te edel om die volksvyand te bevoordeel en sy liefde vir sy volk te groot om hulle leed aan te doen. So ‘n leier sterf in werklikheid nooit nie, maar bly vir altyd in die gees van sy volk voortleef.
GEEN MENS KAN SONDE ONTSONDIG NIE
Ds Andrè van den Berg
“Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” - Hebr.13:4
Saamblyery is ’n stuk heidendom wat in Suid-Afrika skrikwekkend toeneem. In 1990 is die getal mense wat in ons land buite die huwelik saambly op 10% bereken. Dit staan tans op 43%! Saamblyery is ʼn belediging vir God wat juis die huwelik ingestel het. Saamblyery dra al die wesentlike kenmerke van ’n gewone huwelik, maar een waarin Christus doelbewus uitgejaag word. En sulke siele is verlore! “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (Rom.5:25).
In 1970 het die NG Kerk so sterk teen saamblyery gevoel, dat sy die regering van die dag gevra het om alle saambly verhoudings buite die huwelik met wetgewing strafbaar te maak. In 2009 het dieselfde kerk opslae in die media gemaak toe sy die moontlikheid van groter verdraagsaamheid jeens saamblyery begin ondersoek het. Dit het gevolg nadat verskeie lidmate die kerk versoek het om ernstig daaroor na te dink ten einde dit te ontsondig.
Die NG Kerk het tot op hede geen amptelike beleid oor saamwonery nie. Gevolglik verdra baie lidmate mense wat God se voorskrifte oor die huwelik minag en in sonde saamwoon. Hulle redeneer - as die kerk homoseksualisme eers veroordeel en later ontsondig het, waarom dan nie saamblyery nie?
Geen kerk durf sonde ontsondig nie! Paulus se woorde in Rom.1:32 is ʼn waarskuwing aan ontspoorde kerke: “...mense wat – al ken hulle die verordeninge van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien – dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hul goedkeuring skenk aan die wat dit doen”.
In die verlede was daar talle pogings om saamwonery goed te praat. Nie een van die argumente het egter die toets van die Skrif geslaag nie. Die Bybel sê dat dit ’n verbreking van die sewende gebod en onkuisheid is. Gelowiges moet binne en buite die huwelik kuis leef: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees...” (Heb.13:4).
Mense wat saambly, sê so maklik: “Dis my lewe; wat ek daarmee doen, is my saak en niemand anders s’n nie.” Dis dwaas! Die Heidelbergse Kategismus leer ons op grond van die Woord van God dat ons met liggaam en siel nie aan onsself behoort nie, maar aan God. Wie baasspeel oor dit wat nie sy eie is nie, is vermetel!
Saamblyery verbreek nie net die sewende gebod nie, maar ook die derde een wat eerbied vir God se Naam eis. Die Bybel roep gelowiges op om God te loof. “Laat alles wat asem het, die Here loof…” (Ps.150:6). Sy Naam is groot en moet geheilig word. En dis net moontlik indien gelowiges uit dankbaarheid vir die verlossing in Jesus ook hul liggame aan God wy.
Saamblyery is niks nuuts nie. Daar was maar altyd mense wat die reëls van ʼn kuise samelewing verwerp en nie omgegee het wat mense van hulle dink nie. Mense wat God nie eer nie se lewens is gewoonlik slordig. Angus Buchan draai nie doekies om as hy sê dat saamwonery hoerery is nie! Paartjies wat saambly, het Jesus beslis nie lief nie omdat dit vir hulle oor hul eie belange en nie God se belange gaan nie. Hoe kan sulke mense vrede in hul harte hê? Wat maak hul met die stem van die Heilige Gees wat hulle van sonde aankla?
Saamblyery is ook ’n verbreking van die tweede gebod wat afbeeldinge van God verbied. Die mens is na die beeld van God geskep. Daarom moet daar dan iets van God in sy lewe sigbaar wees. Ons word nie net verbied om ’n beeld van God te maak nie; die Skrif eis van ons om die beeld van God in onsself te vertoon: “... om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun...” (Rom.8:29). Enige optrede wat die beeld van God oneer aandoen, is sonde.
In Mt.5:14 eis Jesus van ons om ons lig te laat skyn. Ons het dit nie in onsself soos ʼn ster nie, maar weerkaats God se lig soos ʼn planeet of ’n spieël na diegene wat in sonde-duister verkeer. Hierdie spieëls moet skoon wees. Sonde maak dit vuil: “Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Fil.2:14,15).
Sonde maak mense stil en getuienis dood. Ek het nog nooit mense wat saambly, oor hul saligmakende geloof in Jesus hoor praat nie. Sonde maak mense stom en kragteloos. Niemand kan sonder die krag van die Heilige Gees van Jesus getuig nie: “...maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees…” (Hand.1:8).
Ons moet egter deeglik met die sondige wêreld rekening hou. Die wêreld word al hoe slegter. Gelowiges moet aan die wêreld toon hoe om reg te leef deur anders te wees. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed…” (Rom.12:2).
Die Bybel leer net een salige samevoeging tussen man en vrou en dit is die huwelik; ’n instelling van God waardeur een man en een vrou lewenslank deur liefde en trou aan mekaar verbind word. Die Bybel sê dat die huwelik ’n afbeelding van die verhouding tussen Jesus en sy gemeente is. Daarom kan geen huwelik sonder Jesus geseënd wees nie. En dis die probleem met saamblyery – dis ’n soort van huwelik wat aangegaan word, maar waar Jesus uitgesluit word. Jesus is dan juis die Rots waarop die huwelik gebou word!
Sondaars beskou saamblyery as ’n proefhuwelik om te sien of dinge in die toekoms in ʼn huwelik sal uitwerk. Die Skrif praat nêrens van so ʼn reëling nie. Dis waarvoor daar ʼn verlowingstydperk is. As die huwelik ’n afbeelding van die verhouding tussen Christus en sy kerk is, kan saamwonery eerstens as ʼn spottery met Jesus en tweedens ’n mismaaksel daarvan veroordeel word.
Jare gelede skryf ’n Hollander ’n boek Satan ben de aap van God en sê dat Satan God in alles naboots. In hierdie lig gesien, is saamblyery Satan se nabootsing van die huwelik. Die Skrif waarsku: “...en gee aan die duiwel geen plek nie... En bedroef nie die Heilige Gees van God nie…” (Efes.4:27,30).
Gevolglik wys die AP Kerk alle saamwoonverhoudings buite die huwelik af en dring terselfdertyd by Verbondsouers aan om toe te sien dat hul kinders God nie tart nie. Kragtens ons doopbelofte het ons ʼn lewenslange verantwoordelikheid teenoor ons kinders en durf nie toelaat dat ons kinders in skynhuwelike saambly nie. Ons moet God vrees en nie ons kinders vrees nie!
Indien die AP Kerk haar boodskap oor die heiligheid van die huwelik enigsins sou verwater, sal sy nie geen boodskap van vergifnis oor die sonde kan verkondig nie. As die kerk in die verlede saamblyery as sonde beskou het, is dit vandag nog sonde. Ons kan nie die Bybel verander om by die gebruike van ons dag aan te pas nie. “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Mt.24:35).
Ons het in die AP Kerk ’n taak om van die Bybel se onveranderlike waardes in ’n veranderende samelewing onder mense met afvallige lewenswaardes te getuig. God het hierdie kerk met ’n doel tot stand laat kom; om as ʼn lig in die donker wêreld van kerklike verwarring aan die suidpunt van Afrika te skyn. Ons is die kragdraad waardeur God se elektriese stroom vloei.
Talle van die groot Afrikaanse kerke is deur vrysinnige teoloë geskaak en hul kerke op ʼn vervoerband geplaas waarvan hulle nie kan afklim nie. Dit waarmee begin is, word enduit geneem. Dis een van die tekens van die eindtyd: “...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hul eie begeerlikhede” (2 Tim.4:3).
Gelowiges word opgeroep om heilig en opreg te leef, God se instelling van die huwelik te eerbiedig en alles wat daarvan afwyk, te vermy. Kortom: Leef volgens die Gees! “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal.5:16). Doen dit!