Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
" Die ekumeniese kerk is misleiding in sy ergste vorm! Dis nie ’n dienskneg van God nie, maar die bruid van die Antichris! "
Daar word al jare lank op plaaslike en internasionale vlak gepoog om kerke in ’n eenheid saam te snoer. Mense is kwansuis nie so verdeeld as wat gemeen word nie. Al wat nodig is, is dat kerke hulle teologiese verskille opsy moet skuif en hul vir gemeenskaplike dinge beywer.
Kerke moenie so onverbiddelik met hul leer wees nie, maar toegee. Hierdie toegeeflikheid word ekumenisme genoem en as volg omskryf: Die georganiseerde poging om samewerking en eenheid onder alle Christene te verkry.
In die praktyk kom dit op kerklike Babilon-bouery neer, ’n ding wat jare gelede by die Wêreldraad van Kerke (WRK) begin het.
Die WRK bestaan hoofsaaklik uit liberale kerke wat basiese Bybelse leerstellings soos die onfeilbaarheid van die Bybel en die liggaamlike opstanding van Christus bevraagteken. Die AP Kerk het geen gemene sake met enige ekumeniese organisasie nie!Die plaaslike kerklike toneel is vandag ’n droewige toneel van ontsporing en verval. Kerke het weens afvalligheid in die greep van die Satan beland; een van die tekens van die naderende wederkoms van Christus. “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God….” (1 Pet.4:17).
Hierdie ontsporing het aanvanklik as ’n ligte bries begin, vandag waai dit stormsterk in die meeste kerke. Die gees van toegeeflikheid kom van die duiwel en laat oral ’n spoor van verwoesting na. Dit wat vandag op kerklike terrein gebeur, het ook in Eden gebeur. Satan vra aan Eva: “Is dit ook so dat God gesê het….” (Gen.3:1). Wanneer sy bevestigend antwoord, staan Satan God teen: “Julle sal gewis nie sterwe nie”( Gen.3:4).
Die Woord van God bevat kardinale leerstellings waarsonder niemand gered kan word nie soos die genoegsaamheid van die Skrif asook die regverdiging deur die geloof alleen. Ontspoorde teoloë gee dit prys ten einde deel van ’n internasionale kerkliggaam te word wat agter die skerms deur die Roomse Kerk georkestreer word. Rome het 500 jaar gelede gesweer dat elke Protestantse kerk nog na haar sal terugkruip!
Die verkondiging van die onvervalste Woord van God neem oorhand af. Ek slaan my hande saam as ek hoor wat van sommige kansels af gepreek word! Nog nooit in ons volksgeskiedenis was die waarheid in so ’n stryd met die leuen gewikkel soos tans nie. En dit neem toe!
Christenwees beteken vandag iets geheel anders as ’n paar jaar gelede. Dis as’t ware heromskryf met die klem op verdraagsaamheid. Daarbenewens word ervaring belangriker as die waarheid geag. Diegene wat aan die gesonde leer vashou en onverskilliges vermaan en teregwys, word as verdeeldheidsaaiers en liefdelose boelies veroordeel terwyl die teenoorgestelde waar is. “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het en vermy hulle” (Rom.16:17).
Die ekumeniese wêreld het ’n broertjie dood aan verdeeldheid en probeer dit met ’n valse verdraagsaamheid te besweer. As hulle maar net hul Bybels lees, sal hulle sien wat verdeeldheid veroorsaak. Dis die gevolg van dwaalleer; leerstellings wat nie die toets van die Skrif slaag nie! Wie dwaalleer verkondig, oortree teen God: “Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie…” (2 Joh.1:9).
Sonder die suiwere leer van Christus (die Bybel) is geloofseenheid onmoontlik. Die Bybel is die basis van ons geloof, die Evangelie, ons kennis van Jesus asook ons kennis van die waarheid. Sonder die Bybel kan daar geen gemene sake tussen kerke wees nie al het hulle ook miljoene lidmate, groot kerke en geld!
Die ekumeniese terminologie skitter slegs uiterlik, dis in werklikheid net so hol soos ’n seepbel en net so moeilik om vas te vat. Ekumene is georganiseerde ongeloof. Die Bybel roep ons op om ongeloof met die swaard van die Woord van God teen te staan sodat ongelowiges tot bekering kan kom (Efes.6:10-20).
Ware geloof noop die AP Kerk om die waarheid in ’n wêreld van leuens te laat seëvier. Dit wat die afgelope 25 jaar in ons land plaasgevind het, getuig van ’n droewige kerklike verval weens gruwelike kerklike misleiding; dit waarteen Christus baie duidelik waarsku:
”Nie elkeen wat vir my sê Here, Here! Sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Mt.7:21-23).
Gelowiges se grootste vyand is daardie persoon wat daarop aanspraak dat hy ’n Christen is, maar mense met leuens mislei om ’n valse godsdiens aan te hang. Hoe op aarde kan kerke sê dat hulle in die Bybel glo, maar dinge duld wat nie daarmee ooreenstem nie? Daar is net een antwoord: Mense lees nie meer die Bybel nie. Hulle gaan saam met die stroom en glo wat die kerk ook al sê.
In Hand 17 word iets merkwaardig van die gemeente in Berea gesê: “En hierdie mense was edelmoediger as die in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (vers 11). Daar is geen ander waarheid as die Bybel nie: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh.8:31,32).
Om in die geloof vas te staan en volksgenote leiding te gee, sal die AP Kerk aan die Bybelse leer moet vashou. Om dit te doen, sal elke lidmaat hom/haar daaraan moet onderwerp en toelaat dat die Woord van God hul siel, gees en verstand oorheers. Die waarheid maak mense waarlik vry.
Die stryd om die waarheid in kerklike kringe te laat seëvier, bring egter ook verdeeldheid. Dis egter ’n geseënde verdeeldheid. “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid, want van nou af sal daar vyf in een huis wees, drie teen twee en twee teen drie” (Luk.12:51, 52). ’n Liefde vir die waarheid bring selfs verdeeldheid tussen gesinslede, want wie die waarheid liefhet, skei hulle af van diegene wat leuens liefhet.
Vir die AP Kerk staan die heiligheid van God sentraal. God verlang nie strukturele eenheid onder gelowiges nie, maar heiligheid, dis sy primêre eienskap. Hy noem Homself 55 keer in die Bybel die Heilige Een. God word 59 keer as heilig beskryf. Die woord heilig kom in geheel 651 keer in die Bybel voor. Baie kerke kyk hierdie eienskap van God mis terwyl dit die as is waarom al God se ander eienskappe draai.
Wanneer ons in die Onse Vader om die uitbreiding van God se koninkryk bid, bid ons nie vir uiterlike resultate soos kerkeenheid nie. Ons bid vir die liefde vir die Woord van God en die waarheid wat mense verander en deel van God se kudde laat word. Enige uiterlike verandering wat nie met die Bybel ooreenstem nie, is niks anders as mensegeregtigheid nie. ’n Verandering van verstand beteken nie noodwendig ’n verandering van hart nie!
Daarom waarsku die AP Kerk volksgenote dringend teen die opkomende ekumeniese kerk. Dis misleiding in sy ergste vorm! Dis nie ’n dienskneg van God nie, maar die bruid van die Antichris! Ekumenisme se beloftes van kerkeenheid klink vroom. Dis egter vals. Dit plavei die pad vir die Antichris en nuwe wêreldgodsdiens. Paulus skryf aan die Romeine om hulle van almal wat die weg van Christus nie volg nie af te keer: “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het en vermy hulle” (Rom.16:17).
Is kerkeenheid dan taboe? Ja, as dit valse eenheid is. Ware eenheid is wel moontlik, maar word nie deur toegeeflikheid, ’n afskaling van geloofswaarhede of deur voor te gee dat daar geen verskille is, verkry nie. Ware eenheid bestaan juis in die erkenning daarvan.
Daarom fokus die AP Kerk sedert haar ontstaan op vasstaande Skrifwaarhede soos die maagdelike geboorte van Christus, sy godheid, versoening, opstanding, die gesag van die Skrif en die wederkoms van Christus.
God het geen behae in mensgemaakte eenhede nie. Hy wil ’n heilige volk hê. Kerkeenheid laat nie heiligheid herleef soos wat die ekumene glo nie. Hulle orde is verkeerd. Eenheid bring nie heiligheid nie. Heiligheid bring eenheid.
Wanneer gelowiges God ernstig begin soek en Hom in Woord en waarheid aanbid, sal Hy hulle antwoord en harte verenig. Ons kan net in Jesus een word. Wie die mensdom op ’n ander manier probeer verenig, is met die program van die Antichris en derhalwe met die dinge van die Satan besig!