Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
“...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie….en die oor sal afkeer van die waarheid….”- 2 Tim.4:3,4
Is godsdiens vir jou belangrik? Vir mense wat weet dat hulle eendag gaan sterf is godsdiens baie belangrik. Dis nie net een van ons diepste versugtinge nie, maar ook die steenwerk wat ’n gemeenskap aan mekaar hou. As die steenwerk van ’n gebou nie reg is nie, kan dit mense se dood veroorsaak. Ook godsdiens as dit nie reg (eg) is nie. ’n Siek godsdiens is skadelik.
In die tyd van Jeremia was Juda se godsdiens ook siek. Die priesters het koning Jerobeam gebuikspreek deur dit wat die koning behaag het te preek. Hulle het ’n nuwe soort godsdiens verkondig wat baie vreemd aan die oue was. Die gevolg was dat die waarheid gesneuwel en die godsdiens baie siek geword het. Geen godsdiens oorleef sonder die waarheid nie.
God het Juda teen hierdie nuwe soort godsdiens gewaarsku: “So spreek die HERE: Staan op die weë en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siele…” (Jer.6:16). Die nuwe weg wat die Joodse kerk ingeslaan het, het baie mense onrustig gemaak; iets wat ’n mens beslis nie in ’n kerk wil hê nie!
Die priesters was vals voor God. En wie vals voor God is, kan nie opreg met mense wees nie. Juda het nie na die profeet van God geluister en na die ou paaie teruggekeer nie, maar met hul siek godsdiens volhard. Dit het hulle hul vryheid gekos en in ballingskap laat beland. God straf misleiding!
Wanneer word godsdiens siek? Wanneer dit aan die waarheid ontbreek; dit waaroor Paulus in sy tweede brief aan Timotheus, ’n jong leraar, skryf. Satan het die kerk met dwaalleraars aangeval en Timotheus se werk bemoeilik. Op daardie tydstip was Paulus ’n terdoodveroordeelde in Rome. Gevolglik was 2 Tim.4 sy laaste woorde aan Timotheus.
Mense se laaste woorde is gewoonlik belangrik. Paulus gee Timotheus ’n opdrag: “verkondig die woord”. Verkondig het ’n interessante betekenis. In die ou dae het konings/goewerneurs aankondigers (heroute) gehad wat mense oor belangrike sake ingelig het. So ’n persoon het ’n welluidende stem gehad. Hy was nie ’n onderhandelaar nie, maar ’n boodskapper van sake wat die koning wou hê mense moes weet. Daarom het hy met koningsgesag gepraat en het mense het na hom geluister asof die koning self met hulle gepraat het. So moes Timotheus in opdrag en met die gesag van God preek.
Woordverkondiging is vir die mensdom baie belangrik. Niks kan die plek van suiwere Woordverkondiging inneem nie; allermins nie godsdienstige vermaak nie. Waar die Woord nie suiwer verkondig word nie, is Jesus afwesig.
Paulus vermaan Timotheus om te volhard met Woordverkondiging - tydig en ontydig. Gelowiges moet elke geleentheid gebruik om dit te verkondig. Kyk waar het Paulus oral die Woord verkondig – in sinagoges, op straat, in howe, op die stormsee, op ’n granietrots (Areopagus) en selfs in die tronk!
Benewens te preek, doen ’n Woordverkondiger drie dinge. (i) hy weerlê dwaalleringe met die waarheid, (ii) bestraf dwaalleraars met die Woord en (iii) bemoedig gelowiges; waarsku, vermaan en vertroos in die Here. Prediking is nie die vertel van Bybelverhale nie, maar die verklaring en toepassing van die Bybelse leerstellings soos God dit in sy Woord openbaar. Mense moet dit weet: “Hoe kan julle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?” (Rom.10:14)
As die waarheid nie verkondig word nie, word godsdiens siek: “want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie….en die oor sal afkeer van die waarheid”. Dis altyd ’n versoeking om te preek wat mense graag wil hoor. Daarom moet ouderlinge toesig oor die prediking hou.
In die prediking gaan dit oor God se Woord (die waarheid) en nie oor mooipraatjies nie. ’n Gemeente mag nooit in rustigheid verval en die tyd nie uitgekoop nie. Gelowiges durf nooit verslap nie, maar waaksaam wees en waarsku omdat die tyd van die ewige oordeel naby is. Daarbenewens moet hulle hulself soos koning Dawid voor God ondersoek: “Deurgrond my, o God en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart en lei my op die ewige weg!” (Ps.139:23,24).
Paulus sien iets ontstellend in die toekoms raak – ’n siek kerk waar mense nie meer die waarheid wil hoor nie, maar leuens sal aanhang. Dis die wêreld waarin ons tans leef – ’n wêreld van godsdiensverval soos nooit tevore nie.
Soos in die tyd van Jeremia het volksgenote ’n behoefte om na die ou paaie wat God ons meer as drie eeue laat bewandel het terug te keer. Die nuwe paaie van die reënboognasie is almal doodloopstrate en baar net chaos en verdeeldheid. Die meeste hoofstroom kerke het die gesonde leer verlaat en noodlottige paaie met mensgemaakte leerstellings soos die Handves van Menseregte aantrekliker gevind. Ek dank God dat ons in hierdie kerk dieselfde leerstellings volg as wat die apostels die eerste kerk geleer het.
Paulus se opdrag aan Timotheus is ook ons opdrag: “verkondig die woord”. Dis ’n opdrag en nie ’n keuse nie! Daarbenewens moet ons “weerlê” d.w.s. die leuen uitwys. Wie dit doen, gaan nie baie gewild wees nie. Hy sal egter die regte ding doen. Ons het geen groter verantwoordelikheid teenoor mense as om die waarheid te verkondig nie. Wys mense op die leuen. Die beste manier om te bewys dat ‘n stok krom is, is om ‘n reguit een langs dit neer te sit.
Ons moet ook “bestraf” d.w.s. waarsku. Mense moet weet wat met hulle gaan gebeur indien hulle hul nie bekeer nie. Jy gaan weereens nie baie gewild wees nie. Mense wat die waarheid praat, ervaar altyd teenstand. Dis egter die regte ding om te doen.
Ons moet “vermaan” d.w.s. op die Bybel se antwoord en oplossings wys. Ons sal al dié dinge egter geduldig en “in alle lankmoedigheid” moet doen. Almal sal nie dadelik reageer soos wat ons dit graag sal wil hê nie, ons sal net moet aanhou – tydig en ontydig. Ons moet ook gerat wees om “lering” te verskaf. Mense weet nie alles van God nie en moet geleer word.
Woordverkondiging staan nie ongeskonde van die aanslag van Satan nie. Dit word van meet af aan met namaaksels geskaad. Veral vandag! Mense soek in kerke na vermaak. Vermaaklikheidskunstenaars op kansels trek groot skares. Wees gewaarsku – ’n groot skare is nie altyd ’n teken van God se seën nie. “Baie sal in daardie dag vir My sê Here, HERE, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My. Julle wat die ongeregtigheid werk” (Mt.7:22,23).
Ons leef in ’n wêreld waar alles nagemaak word. Net die waarheid kan nie nagemaak word nie. ’n Leuen word nie ‘n waarheid omdat baie dit glo nie. Nog minder word die waarheid ʼn leuen omdat die meeste mense dit minag.
Mense hou nie van die waarheid nie. Selfs nie eens in kerke nie. Al hoe meer mense soek geestelike spyse sonder die waarheid, al bevat dit min geestelike kilojoules, solank dit net lekker smaak!
Suid-Afrika is so anders as die res van die wêreld, nog betreklik godsdienstig. Maar hoe lyk ons godsdiens? Is dit siek of gesond? Ek is bevrees dat dit baie siek is! Wat kan ons daaraan doen? Die Woord en Gees van God roep ons op om die Woord baie ernstiger te verkondig. En dis ’n uitdaging! In tye van kerklike misleiding is die verkondiging van die Woord en die waarheid ‘n rewolusionêre daad soos in die tyd van die Hervorming. Ons staan weer daar!
Die prys vir die stryd om die waarheid is alreeds baie hoog. Dit gaan nog hoër word namate die ryk van die Antichris gestalte begin aanneem. Desondanks mag vrees ons nie laat terugval nie. God stry saam met hulle wat terwille van die waarheid ly. “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Jos.1:9).
Al kos ons liefde vir die waarheid baie, wen ons altyd meer. Die waarheid maak ons vry en aan die einde baie bly. Niemand klim die berg van die waarheid tevergeefs nie. Die liefde vir die waarheid getuig van God se beeld in ons. Om jou in die Here te verbly, beteken om jou in die waarheid te verbly. Mag ons ywer vir die waarheid van die Woord altyd met ‘n hemelse vuur swanger wees.
Amen!