Andrè van den Berg
“Beproef alle dinge; behou die goeie” - 1 Thess.5:21
" Elke oortreding van die waarheid is’n dolksteek in die siel van ons volk. Stel alles op die proef, onderskei tussen waarheid en leuen en hou aan die waarheid vas al is dit ook hoe ongewild. "
Die OuTestament leer ons dat God reguit houe met krom stokke slaan. Die Nuwe Testament leer ons dat God gelowiges help om reguit tree op krom paaie te gee. Sodra ’n mens tot bekering kom, wil jy geestelik groei, die Bybel leer ken en diensbaar in God se koninkryk wees – en daarvoor moet jou geestelike vuur hoog brand.
Geloof is nie soos ’n voorafvervaardigde huis wat in ’n kits staangemaak word nie, maar ’n lang groeiproses - soos ’n baba wat gebore word, groei en groot word. Ongelukkig kwyn baie se geestelike vuur na ’n tyd en begin ander dinge hul belangstelling prikkel. En dis hier waar dwaalleraars hul voet in die deur kry en geestelike weerlose mense mislei!
Hoe kan ons misleiding voorkom? Paulus gee ons twee riglyne: Stel jou eerstens oop vir die werking van die Heilige Gees. “Blus die Gees nie uit nie” (:19). Ken jou Bybel tweedens goed. “...verag die profesieë nie.” Leer en waak!
“Blus die Gees nie uit nie.” Hierdie blus beteken letterlik om ’n vuur uit te sit. Dit gebeur deur ’n vuur nat te gooi, te bedek sodat dit nie suurstof kry nie of te laat uitbrand. Dit kan ongelukkig ook in die geloofslewe gebeur!
Die Heilige Gees brand in elke gelowige totdat hy dit self blus. Dit gebeur wanneer ons God se opdragte veronagsaam, weier om oop te maak as Jesus aan ons harte klop, deur griewe te koester, weier om te vergewe, om deur slegte begeertes beset te word en om in God se diens lui te wees.
Een van die grootste geestelike brandblussers is om aan sonde gewoond te raak. In my eerste gemeente was die pastorie naby ’n boulevard met baie verkeer. Dit het my aanvanklik gepla, maar later het ek dit nie meer gehoor nie. Dit staan in sielkunde as adaptasie bekend; iets waaraan jy gewoond raak. Geen adaptasie is gevaarliker as sonde-adaptasie nie; dis ’n geestelike brandblusser!
Is jy dalk aan sonde gewoond? Miskien praat God al lank met jou om vir Hom iets in belang van sy Koninkryk te doen, maar jy minag sy Stem. Hoe verder jy uitstel, hoe swakker word sy Stem. Gevolglik brand jou geestelike vuur baie laag brand en is dit winter in jou gees.
Paulus sê verder: “...verag die profesieë nie”. Wat word met profesie bedoel? Nie toekomsvoorspelling soos die meeste mense dink nie. Dit gaan hier oor die leer van die Bybel. Dinamies vertaal, sê Paulus: “Moenie die Bybelse leer verdraai nie!” Die gelowiges in Thessalonika het onder dwaalleer deurgeloop.
As jy jou geestelike vuur hoog wil laat brand, moet jy dit met die brandhout van die waarheid voer. Daarvoor moet elke gelowige dit wat hy hoor, deeglik nagaan, dit aan die Bybel toets en selfs nog ’n keer toets. Dis ’n beginsel op baie gebiede van die lewe. Skrynwerkers sê: “Meet twee keer en saag net een maal”. Dis ook vir gelowiges waar: Toets dit wat geleer word; toets dit weer en tree dan op.
Die teksvers lui:“Beproef alle dinge; behou die goeie.” Selfs op godsdienstige gebied is daar baie dinge wat nie betroubaar is nie. Alles moet getoets word soos die gelowiges in Berea gedoen het: “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Hand.17:11).
Ons is in die laaste dae; ’n wêreld vol bedrieërs, valse profete, wolwe in skaapsklere en ketters. Gelowiges wat die waarheid verkondig is in die minderheid en die getalle krimp drasties. “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim.4:1).
Kyk hoe gebeur dit nie vandag nie - dwaalleër oorheers feitlik elke denkbare vorm van die media en plaas miljoene mense op ’n dwaalweg omdat hulle dit wat hulle geleer word nie nagaan en toets nie. Mense glo alles wat aan hulle opgedis word! “Baie sal in daardie dag vir My sê Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mt.7:23,23).
Die Bybel gee ’n paar kosbare riglyne hoe om misleiding te verhoed:
Luister eerstens na die stem van die Gees: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh.16:13). “...en jou ore sal ’n woord agter jou hoor en sê: Dit is die weg, wandel daarop!” (Jes.30:21).
Moet egter nie enige stem in jou sonder om dit te ondersoek as dié van die Heilige Gees aanvaar nie. Dis dalk jou eie stem wat jy op die Heilige Gees oor-projekteer! God moet in jou lewe spreek en nie buikspreek nie!
As jy egter na die stem van die Gees van God luister, sal jy dadelik ongemaklik voel met iets wat nie reg is nie. “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Rom.8:14). As dit nie die Gees is wat lei nie, sal die kind van God ongemaklik voel! Sodra jy ongemaklik met ’n boodskap of leerstelling voel, is dit ’n baie goeie teken dat jy moet stop, dit nagaan, toets en weer toets.
Dwaalleer is misleidend – weg van die waarheid na die leuen. “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van mense….en nie volgens Christus nie” (Kol.2:8) Luister na die Heilige Gees. Hy waarsku jou as die waarheid in gedrang kom. “...en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Joh.16:8).
’n Tweede riglyn is om jouself te vra: “Stem dit wat geleer word ooreen met die algemene lering wat in die hele Skrif vervat is? En hier moet ons baie versigtig wees vir mense wat tekse buite hul verband aanhaal. Dis geen kuns om ’n teks aan te haal ten einde ’n dwaalleer te staaf nie. Satan het dit ook tydens Jesus se versoeking gedoen!
Vra in die derde plek wat leer die res van die Bybel ons oor die betrokke saak? Hier is ’n konkordansie ’n wonderlike hulp. Gaan al die ander tekste oor die betrokke onderwerp na.
Vra vierdens of die betrokke lering iets verteenwoordig wat die kerk nog deur die eeue geglo het? By geleentheid het ’n TV-evangelis verkondig dat God uit nege dele bestaan. In die lig van die eeue oue leer van die Drie-eenheid is dit baie duidelik ’n dwaalleer!
Om die ware en valse leer te onderskei, is ’n basiese kennis van die Christelike geloof noodsaaklik. Wie dit nie het nie, val dwaalleraars maklik ten prooi! Baie kerkgangers het geen basiese kennis van Skrif-waarhede nie en stel ook nie belang om dit te wete te kom nie! “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” (Hos.4:6).
’n Vyfde riglyn is logika. Ware geloof is nie gevoel nie, maar logies en rasioneel. Sodra ’n persoon ’n onlogiese Bybelse aanspraak maak, flikker die gevaarligte en moet dit van nader ondersoek word. Weet een ding: Die ware geloof verbreek nooit die eenvoudige reëls van logika nie. Neem die sg. voorspoed-teologie wat in talle charismatiese kerke verkondig word as ’n goeie voorbeeld. Dwaalleraars sê: omdat God vir Abraham, Isak en Jakob ryk aan materiële besittings gemaak het, Hy jou ook ryk sal maak as jy soos hulle glo. Dis dwaling! Daar is hoegenaamd geen direkte verband tussen ons en die aartsvaders se stoflike rykdom nie!
Die Bybel moet reg verstaan word. In Ps.37:4 lees ons: “...en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart”. Sê die Bybel dat God vir gelowiges die begeertes van hul hart gee? Ja, met ’n voorwaarde: “...en verlustig jou in die HERE”. Dawid sê nie dat God ons al ons begeertes sal gee nie, maar as ons ons in Hom verlustig, dat sy begeertes ook ons begeertes sal wees.
Die sesde en laaste riglyn is eerlikheid. Is die leraar eerlik in sy omgang met die Bybel of minag hy met opset die verse wat sy standpunt weerspreek? Verander hy doelbewus aan woorde en/of hul betekenis? Daar is niks so verraderlik soos ʼn welsprekende leuenaar nie.
Die goue reël is: Toets alles aan die Skrif. “Beproef alle dinge; behou die goeie.” Die Woord van God is die enigste maatstaf vir die waarheid: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim. 2:15).
Ons is in die laaste dae. Elke oortreding van die waarheid is ’n dolksteek in die siel van ons volk. Stel alles op die proef, onderskei tussen waarheid en leuen en hou aan die waarheid vas al is dit ook hoe ongewild. Moet nooit aan die leuen toegee nie. ’n Klein bietjie toegewing is soos ’n klein bietjie gif in kos; dit maak ’n mens siek.
Geen siekte is erger as dié van godsdiens nie. Kyk hoe siek het duisende van ons volksgenote nie geword nie! Vervloek is elkeen wie se leuens die waarheid van God verdryf!