Ds AE van den Berg
“In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Hy het na sy eiendom gekom…” - Joh.1:1,2.11
’n Mens praat dikwels met iemand oor die foon wat jy nooit ontmoet het nie en beeld jou ’n prentjie in van hoe die persoon moet lyk. En wanneer jy hom ontmoet is jy dikwels teleurgesteld omdat hy nie met jou voorstelling van hom kom ooreenstem nie. Met God is dit presies dieselfde - mense het ’n sekere idee/verwagting van Hom wat dikwels nie met die werklikheid ooreenstem nie. Die probleem lê egter nie by God nie, maar die voorstelling van Hom.
Het u al gewonder hoe God lyk? By geleentheid wou Moses ook sien hoe God lyk waarna God op skrikwekkende wyse by Moses verby gegaan het terwyl hy sy gesig bedek het. Filippus het ook gewonder hoe God lyk en vir Jesus gevra:”…Here, toon ons die Vader en dit is vir ons genoeg” (Joh.14:8). Jesus antwoord hom: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien”.
Mense het geen probleem om Jesus as ’n goeie mens te sien nie, veral in die Kerstyd - ’n kindjie in ’n krip, leermeester of profeet nie, maar nie Immanuel (God onder ons) nie. Jesus het vir mense kom wys hoe God lyk. Daarom is die verhaal van Jesus van sy geboorte in ’n stal tot sy hemelvaart opwindend. Die Jode het eeue lank gewonder hoe God lyk. In Jesus het hulle Hom gesien.
Met sy optrede Jesus die beeld van God vir mense helder kom maak want Hy is God. Daarom begin Johannes sy Evangelie baie anders as die ander drie Evangelie-skrywers wat by Bybelfigure soos Adam en Abraham begin; almal in die tyd; bekende geskiedkundige figure. Johannes begin nog vroeër, voor die geskiedenis; voordat daar tyd was: “In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was God. Hy was in die begin by God”.
Mense heg baie waarde aan hul openbare beeld; hulle trek smaakvol aan om die regte beeld uit te dra, ry ’n sekere soort motor om die regte beeld uit te dra, bly in goeie woonbuurte om die regte beeld uit te dra dat mense goed van hulle moet dink. So ’n beeld is soms baie misleidend soos die Fariseërs in die tyd van Jesus wat soos gepleisterde grafte mooi van buite maar lelik van binne was.
’n Misleidende beeld is sleg, maar nie so rampspoedig as wanneer ’n skewe beeld op iemand afgedwing word soos die Jode met Jesus gedoen het nie. Hulle het Hom as Messias verwerp omdat Hy nie met die beeld wat hulle van die Messias geskep het ooreengestem het nie. Dieselfde ding het eeue tevore in die woestyn gebeur toe Israel ’n goue kalf gemaak het; hulle eie beeld van God, maar wat nie met die werklikheid ooreengestem het nie.
Jesus se openbare beeld was onaanvaarbaar. Vir baie Jode het Johannes die Doper eerder by die beeld wat hulle van die Messias gehad het gepas. Daarom het geroot skares na hom kom luister en het hy moeite gehad om hulle te oortuig dat hy nie die Messias was nie. Die Messias was aan God gelyk en hy nie!
Om te sê dat Jesus aan God gelyk was, doen geen afbreuk aan God se grootheid nie, maar bevorder dit eerder. Jesus het nie krampagtig aan sy posisie in die hemel vasgehou of onwillig daarvan afstand gedoen nie. Hy het dit vrywillig verlaat - God het in Jesus mens onder ons kom word!
Vers 11 lui: “Hy het na sy eiendom gekom…” Waarom? Om te dien. Dink aan ’n God op sy knieë besig om voete te was (Joh.13); ’n God wat dien eerder as om gedien te word, ’n God wat gewillig die bitterste lyding ervaar het. Ondenkbaar! Jesus se openbare beeld het die mensdom vir sy ware identiteit blind gemaak. Hy het Hom van sy geboorte tot kruisdood met die mens vereenselwig. Jesus was Immanuel, God in die vlees: “…. Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immanuel noem” (Jes.7:14). God het vlees geword sodat mense na Hom kon uitreik en Hom aanraak. Hulle kon sien hoe God lyk.
Die Jode was baie onthuts toe Jesus sê dat Hy die Seun van God is. Wat was daarmee verkeerd? Het hulle dan vergeet dat hulle deur God geskep en derhalwe ook kinders van God was? “….Julle is gode en julle is almal seuns van die Allerhoogste – nogtans sal julle sterwe soos mense en soos een van die vorste sal julle val” (Ps.82:6,7). Jesus het mense daaraan kom herinner wie hulle eintlik was; kinders van die Skepper-God.
Luister hoe verwys Lukas aan die einde van die geslagsregister wat hy in sy Evangelie opteken na Jesus: “… die seun van Adam, die seun van God” (Luk.3:38). Hy beklemtoon die menslike ketting wat mense met God verbind. Ons eie skepping maak ons elkeen ’n kind van God. Dis ’n unieke identiteit wat God op ons afgedruk het en wat mense jammerlik uit die oog verloor het.
Waarom is mense nie hiervan bewus nie? Omdat sonde ons van hierdie goddelike identiteit beroof het. Daarom was dit nodig dat Jesus hierdie sonde met sy kruisdood moes wegneem en ons deur die wedergeboorte, nuwe kinders van God te maak: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy die mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh.1:12). In Jesus is God se beeld in gelowiges herstel.
Wat verlang/verwag Jesus van ons? Om soos Hy te wees, ’n dienskneg onder mense. Wil jy in die koninkryk van God groot wees? Dan moet jy dien! Jesus eis van die dissipels om mekaar se voete te was, dorstiges water te gee, siekes en gevangenes te besoek. Dis wat gelowiges groot maak.
Moses wou nie Egipte toe gaan nie. Hy het hom te swak en onbekwaam beskou om vir God van nut te wees. Deur so op sy swakheid te fokus, het hy sig van sy ware identiteit verloor. Moses het nie die man gesien wat God gesien het nie; hy moes dien. “En die Here het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ’n god vir Farao en jou broer Aaron sal jou profeet wees” (Ex.7:1). Die Israelitiese slawe het Moses as ’n god in hul midde beskou. Die beeld van God het in Moses geskyn!
As ons net ons swakheid bly raaksien, sal ons nooit diensbaar vir God wees nie. God gee ons die krag en genade om ander mense tot diens te wees. Gelowige dienslewering getuig van Jesus in ’n ons lewe en bevoordeel ’n gemeenskap. In Handelinge lees ons van Dorkas wat weens haar diensbaarheid hoog geag is. Sy het haar liefde vir Christus met diens aan behoeftiges bewys. So ook die huisgesin van Stefanas waarvan Paulus aan die Korintiërs skryf.
Hoe verskil gelowiges nie van ongelowiges wat eerder gedien wil word nie! God maak ’n kragtige inpak op die wêreld met gelowiges wat dien. Dit maak die Christendom anders as afgodsdiens - dis ‘n godsdiens van opoffering en diens omdat dit op die grootste offer van alle tye gebou is; die offer van die vleesgeworde God aan ’n kruis op Golgotha.
Om Christen te wees, beteken om soos Christus te wees. En om soos Christus te wees, is om soos Hy te dien. Christenskap is nie ʼn ontvlugting van die wêreld nie, maar eerder ʼn intense betrokkenheid by die wêreld. Daarom sê Jesus in die Bergpredikasie dat ons sout en lig vir die wêreld is – ons beïnvloed dit. En dis net moontlik deur diensbaarheid.
Dis nie altyd maklik nie. Dit verg soms groot opoffering, maar dit maak gelowiges gelukkig. Ons dien sonder om iets terug te verwag - diensbaarheid aan Jesus is vreugde. God het in Jesus gekom om sondaars te dien. Gaan doen jy dieselfde!