DAAR IS BAIE WERK!

Ds AE van den Berg

ONS LAND IS VUIL - GAAN JY HELP SKOONMAAK?

“En die oorblyfsel van Jakob tussen die nasies sal onder baie volke wees soos  ’n leeu onder die diere van die woud, soos ’n jong leeu onder troppe kleinvee; wat, as hy deurtrek, vertrap en verskeur sonder dat iemand red”- Miga 5:7.                                    

God werk nie met groot getalle om sy doel te bereik nie.  Gideon se 300 man wat die Midianiete oorwin het, is ’n sprekende voorbeeld hiervan.  Met 12 man het Jesus die Christendom gevestig.  Waarom God met klein getalle werk, weet ons nie.  Dis egter hoe Hy te werk gaan om dit wat vuil is skoon te maak.  Die Bybel noem hierdie klein gesuiwerde getal mense waarmee Hy deur die eeue reuse-werk verrig ’n oorblyfsel.

Let op die Kerkgeskiedenis, veral die 16de eeuse Hervorming o.l.v. Luther.  Satan het die Roomse Kerk tot stand gebring om die Christendom met die ou Babiloniese afgodsdiens te besoedel en miljoene siele in die verderf gestort.   God het egter ’n oorblyfsel bestem wat deur die eeue die ware leer bewaar het om op sy bestemde tyd ’n ingrypende hervorming te laat plaasvind wat die besoedelde kerk van die drek van afgodery gereinig het.

Kyk wat in ons eie land gebeur het toe hoofstroom kerke deur vyandige magte geskaak is en die vyand onbeskaamd gehelp het om die Christelike orde in Suid-Afrika om te keer en die heidendom te vestig.  God het die land nie aan sy eie lot oorgelaat nie, maar weereens ’n groepie mense bestem (’n oorblyfsel) om die verrotting in die kerk teen te werk – die AP Kerk!

Die profeet Miga ken twee karaktertrekke aan die oorblyfsel toe - dis eerstens ’n seën soos reën vir ’n land: “Dan sal die oorblyfsel van Jakob onder baie volke wees soos die dou van die Here, soos reënbuie op die plante…” (Mig.5:6).  Tweedens is die oorblyfsel dapper soos ’n leeu:  “En die oorblyfsel van Jakob tussen die nasies sal onder baie volke wees soos ’n leeu onder die diere van die woud, soos ’n jong leeu onder troppe kleinvee; wat, as hy deurtrek, vertrap en verskeur sonder dat iemand red” (:7).

Let op die karakter van ’n leeu; dis sterk en vlug nie vir teenstand nie.  So ook die stryders van die waarheid wat die volle wapenrusting van God aantrek.  Hulle leeue-dapperheid lê in hul ywer vir die waarheid.  Daarom is die AP Kerk anders as die meeste kerke want ons hou aan die waarheid van die Woord vas wat verhoed dat ons kerklik uitrafel.   Die AP Kerk is die oorblyfsel van God aan die suidpunt van Afrika; min in getal, maar dankbaar vir sy genade!

Om die leuen te beveg, moet jy onverskrokke optree soos ’n leeu wat ’n groter dier aandurf.   Al is die leuen reusagtig, skrik dit ons nie af nie.  Ons laat die leuen nooit met rus nie omdat dit van Satan kom en die Evangelie skaad.   Daarom bied ons in die AP Kerk onverskrokke weerstand: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag tot van God tot redding vir elkeen wat glo….” (Rom.1:16).   Die Evangelies sê dat baie in Jesus geglo het, maar uit vrees vir vervolging op die agtergrond gebly het.  Nee, ons is nie op die agtergrond nie, maar op die voorgrond!  Niemand het die waarheid lief alvorens hulle God liefhet nie!

Die Bybel waarsku dat die laaste oorblyfsel ernstig vervolg gaan word.  Dit moet ons nie afskrik nie: “Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus” (2 Tim.2:3).   Watter vorm dit gaan aanneem, weet ons nie; miskien liggaamlike leed, verwerping, uitsluiting, verlies aan goedere, gevange-nisstraf?   Paulus het dit self beleef.  Jesus sê :“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mt.16:24). Mense wat die waarheid verkondig, ervaar altyd teenstand.  God stry egter saam met hulle wat ter wille van die waarheid ly.

Soos wat die eerste Christene vir die vestiging van die Christendom geywer het, sal die laaste Christene vir die behoud daarvan veg.    Die leuen is besig om die waarheid so onder druk te plaas, dat baie mense die twee nie meer onderskei nie.  Soos vir Eva lyk die waarheid na die leuen en die leuen na die waarheid!  En dis hier waar die laaste oorblyfsel inkom – om die waarheid tydig en ontydig as ’n teenvoeter vir die leuen te verkondig.  Dis wat die AP Kerk in Suid-Afrika onderskei; ons liefde vir die waarheid van God se Woord!

Wie die waarheid verdedig, kan dit nie in eie krag doen nie, maar slegs met God s’n wat Hy beloof: “Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ek help jou, spreek die Here, en jou Losser is die Heilige van Israel” (Jes.41:14).

God staan sy kinders in die verdediging van die waarheid kragdadig by: “Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ’n Helper en ek sal nie vrees nie, want wat sal ’n mens aan my doen?” (Heb.13:6).

Soos wat die leeu in die diereryk eerbied van ander diere afdwing, dwing die oorblyfsel in God se ryk eerbied vir Jesus af.   God maak van hulle geloofsreuse wat leuenaars beskaam.  Die geskiedenis het talle voorbeelde van bose mense wat die geloofsreuse van hulle tyd gevrees het.  Agab en Isebel was bang vir Elia.  Herodes was bang vir Johannes die Doper.   Mary Queen of Scots was banger vir die gebede van John Knox as vir ’n vyandige leer.  Ja, Satan sidder in die teenwoordigheid van God!

In die tyd van Miga was dié wat die waarheid liefgehad het, dikwels moedeloos.  Die godsdiens van hul tyd was ’n leë dop.  Mense het kerktoe gegaan, maar dinge gedoen wat ten hemel geskreeu het.  Priesters is gemanipuleer om dit wat die koning wou laat hoor, vanaf kansels te verkondig – agente vir verandering, soos eeue later ook aan die suidpunt van Afrika gebeur het!   Elke leuen wat van ’n kansel verkondig is, was soos ’n dolksteek in die hart van Miga.   En deur leuens te herhaal, het die arme drommels later geglo dat die hel die hemel is.

Met die uitsondering van Hiskia was al die konings korrup en oor internasionale aansien begaan.  Hulle het met die vyand geheul en het alles, van die godsdiens tot die burgerlike regering op ’n afdraande pad laat beland.   Niemand kon reguit treë op krom paaie gee nie.   Desondanks het die priesters die koning as ’n redder opgehemel: Laat Heer U seën op hom daal!

In tye van misleiding is die verkondiging van die waarheid ‘n rewolusionêre daad soos Miga ook ervaar het.  Alles het in duie gestort.  Al waaraan Miga en die gelowiges van sy tyd vasgehou het, was die wonderlike toesegging dat Hy sy oorblyfsel sal bewaar en sterk maak soos leeus.

Dit wat 800vC gegeld het, geld ook nog vandag.  God het nie verander nie, nog minder sy beloftes.   God werk met ’n oorblyfsel!   Maar dan moet hierdie oorblyfsel nie ledig wees nie, maar kragtig in die Here en sy Woord word en die leuen teenstaan sodat die waarheid seëvier.  Al word dit wat ons vir die waarheid verkondig, deur dwaalgeeste as kettery verag, moet dit nooit ons geestelike spoed breek nie.  Die waarheid moet wen!  Gelukkig is die leuen ’n ligte ruiter wat maklik deur die waarheid afgegooi word.

Een ding mag ons egter nooit, maar nooit doen nie – om oor die leuen te swyg!  Onthou ’n mens is nie net ’n leuenaar met woorde nie, maar ook deur sy swye. ʼn Hond blaf as sy eienaar aangeval word.  Hoe durf ’n kind van God swyg as die waarheid aangeval word?  Laat ons liewers sterf omdat ons die waarheid praat, as om te leef en oor leuens te swyg!

Die oorblyfsel waarmee God aan die suidpunt van Afrika werk, is soos ’n gedugte leër met geen plek vir lafaards nie.   Dis die werklike oorblyfsel van Jakob: ”En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29).  Kom, APKaners, ons het ’n goddelike taak.  Die stryd vir die waarheid is ons lewenslange verpligting.  Ons het geen groter verantwoordelikheid as teenoor die waarheid nie.

Daar is nooit ’n regte of verkeerde tyd om die waarheid te spreek nie; dis altyd nou!  Die AP Kerk huisves geen dwaalleer nie.  Derhalwe is ons ’n heilige geslag, ja, die leeu onder die Boerevolk.

Ons land is vuil – met leuens besaai.  God plaas vanjaar die besem van die waarheid in die oorblyfsel se hande om Suid-Afrika mee skoon te maak.  Ja, ons is straatveërs in sy diens. Gaan jy help skoonmaak?  Daar is baie werk om te doen.  Mag die prys vir die stryd om die waarheid nooit te hoog wees nie.