Ds AE van den Berg
"Polities gesproke gaan ons ’n onseker toekoms tegemoet – 2014 gaan myns insiens ’n waterskeiding, ’n maak-of-breek jaar wees. Doemprofete voorspel aaklige dinge vir die Boerevolk. Moenie ontsteld word nie; laat Christus toe om die drogbeelde van moontlike onheil te verwilder... In ’n krisis sien ons net donkerte en jaag ons graag selfvervaardigde gedrogte op. Jou keel trek toe en jou hart is onstuimig, ja, jy raak so bang vir die toekoms, dat jy nie geleef kry nie! Daarvoor is daar net een medisyne – om in jou nood Jesus opnuut te ontdek. Hy is ook daar waar jy Hom nie verwag nie!"
“…..Toe spreek Hy dadelik met hulle: Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie” - Mark.6:50
Baie mense presteer slegs as hulle toegejuig word. Jesus was weer op sy beste as Hy alleen was. Hy was nie kollig behep nie, maar wel van die onderskraging van sy Hemelse Vader afhanklik. Daarom het Hy hom telkens afgesonder om alleen in gebed met sy Vader te verkeer en van ’n diepe afhanklikheid van God getuig. En dis die agtergrond van ons gelese gedeelte.
Jesus is gereeld deur skares omring en het by twee geleenthede op wonderbaarlike wyse hulle van voedsel voorsien. Die skare wat Jesus in Jerigo ingewag het, was so groot dat die arme Saggeüs in ’n boom moes klim om Hom te kon sien. Dink ook aan die vrou wat aan bloedvloeiing gely het wat net aan Jesus se mantel se soom kon raak. In Mt.21 lees ons van ’n groot skare wat Hom met sy intog in Jerusalem met hosannas toegejuig het. Mense het Jesus bewonder!
In die gelese gedeelte sien ons dat Jesus 'n behoefte gehad het om alleen te wees. Hy het die dissipels na Betsaida, ’n dorp oos van die inloop van die Jordaan in die See van Galilea gestuur. Betsaida beteken vishuis en het ’n vissersgemeenskap gehuisves. Dit was die tuisdorp van Petrus, Andreas en Filippus. In Mt.4 lees ons van Jesus wat dissipels soek en hulle in Betsaida vind; vissermanne van beroep. Hy roep hulle om ander vis te vang – mense wat verlore is en maak hulle kragtige getuies vir Hom – baanbrekers vir die Christendom.
Om Betsaida te bereik, moes die dissipels oor die See van Galilea vaar, ’n lang vaart met net seile vir aandrywing. Hulle sou met donker nog op die water wees. Die See van Galilea lê in ’n skeurdal meer as 300 meter onder seevlak en was bekend vir sy storms wat skielik opgesteek het wanneer woestynwinde in hierdie skeurdal afgewaai en geweldige momentum verkry het. Wanneer dit gebeur het, moes die vissermanne op die water die seile laat sak en roei. Daar was geen noodradio of ’n noodfakkel om op te stuur nie, want daar was geen reddingsinstansie wat jou te hulp kon snel nie. Vissermanne het maar net gehoop dat ’n storm hulle nie in die nag oorval nie. Donkerte op die see is die donkerste donker wat ’n mens kan kry!
So oorval ’n storm die dissipels een nag tydens die vierde nagwaak op die water. Markus maak hier van die Grieks-Romeinse nag-indeling gewag. Die eerste nagwaak was 18:00-21:00, die tweede 21:00 tot middernag, die derde van middernag tot 3:00 en die vierde van 3:00-6:00.
Dus was die dissipels in die vroeë oggendure in die stikdonkerte op die see en het die dood soos ’n werklikheid voor hulle opgedoem. Die seile is laat sak en daar is vir die vale geroei sonder om vordering te maak. Hulle was alleen, altans so het hulle gedink. In vers 48 skryf Markus dat Jesus hulle gesien het. Hoe was dit moontlik as dit donker en Hy op land was? Jesus is God alsiende! Al was hulle myle van die land af, het Hy hulle in hul nood gesien. Hy sien daar waar ons baie keer dink dat Hy nie kan nie!
Jesus is met die lot van sy kinders vertroud. Hy weet wat in elkeen se gedagtes omgaan: “Here, U deurgrond en ken my…U verstaan van ver my gedagte…en U is met al my weë bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, Here, U ken dit geheel en al” (Ps.139). Dis een van die grootste troosboodskappe van die geloofslewe – ons is nooit alleen nie, soos die lied sê: “God is watching us from a distance”. En as ons sê dat Jesus van ons weet, is dit nie bloot kennis neem nie, maar dat Hy handelend in ons belang optree. Hy neem waar en help; Hy sien en bring uitkoms.
Dan skryf Markus iets vreemd in vers 48 – Jesus wou by die skipbreukelinge verbygaan. Wat beteken dit? Wou Hy soos die priester en die Leviet verby die beroofde Jood in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan gaan en hulle aan hul eie lot oorlaat? Nee, dit het ’n geheel ander betekenis. Hy het aangekom. “En toe Hy verbygaan, sien Hy Levi…” (Mark.2:14). Die mense sê aan die blinde man van Jerigo: “Jesus, die Nasarener, gaan verby” Hy is hier!
As Jesus verby sy kinders gaan, kom Hy hulle juis te hulp. Soms voel dit vir jou asof jy alleen met jou sorge is en Jesus, soos die priester en die Leviet verby dit kyk. Weet een ding – as Jesus verby jou gaan, bring Hy juis uitkoms. Hy gaan jou in werklikheid nie verby soos wat dit op die oog af lyk nie, maar toets ook jou geloof in Hom. Jesus se verbygaan was om die aandag van die dissipels op Hom te vestig. Hy daag op as die gevaar op sy hoogste is. Die dissipels wou boedel oorgee. Hulle het op ’n waterdood gewag. Verdrinkings was algemeen in daardie dae. Hulle s’n sou niks ongewoon wees nie.
Wat ’n mens verder opval, is dat hulle in hul nood nie aan Jesus dink nie. Waar is die geloof dan? Is hulle nie sy kinders nie? Het hulle Hom dan nooit iets wonderbaar sien doen nie? As Hy duisende kon voed, kon hy nie ’n handjievol red nie? Hulle was te besig met hul eie krisis en het vergeet dat Jesus kan help. Hy is mos nie net daar as die son in ’n gelowige se lewe skyn nie. Hulle het Hom nie in hul uur van nood verwag nie! Die dissipels is nie die enigste wat Jesus in hul uur van nood vergeet het nie; baie gelowiges het dit al gedoen!
Dan verskyn Jesus, maar hulle herken Hom nie. Hulle skrik hul boeglam vir iets wat in werklikheid nie bestaan nie. Dan spreek Jesus die magswoord: “Dit is Ek”. Hulle moes moedhou; Hy is by hulle in hul nood. Hulle hoef nie langer vir hul lewe te vrees nie, want Jesus is die lewe. Daarna het Hy by hulle in die skuit geklim en weereens waarheid aan die profesie van Jesaja verleen: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou”.
Jesus het nie net in hul nood ingeklim nie, maar ook beheer van die situasie oorgeneem. Die wind het onmiddellik bedaar en die see rustig geword. Wat ’n wonderlike bewys dat Jesus werklik God almagtig en alles onder sy beheer is! Jesus gryp wonderlik in vreesbevange gelowiges se lotsbestemming in en gee hulle die lewe i.p.v. die dood. Hulle verleentheid het sy geleentheid geword.
Die dissipels se optrede is so sprekend van die mens: as die storms van die lewe om hom woed, meen hy dat hy alleen is; Jesus is afwesig. Hy is net Sondae in die kerk te vind en nie op die oop see van lewensstorms nie. Daar roei jy alleen! Luister na die doemprofete – dis alles verby, gooi handdoek in, sluit by die vyand aan, lek sy kastydende hand soos ’n tjankende hond. Dis wat baie van ons volksgenote doen!
Daarbenewens skrik ons gereeld vir ons selfvervaardigde spoke. In ’n krisis sien ons net donkerte en jaag ons graag selfvervaardigde gedrogte op. Jou keel trek toe en jou hart is onstuimig, ja, jy raak so bang vir die toekoms, dat jy nie geleef kry nie! Daarvoor is daar net een medisyne – om in jou nood Jesus opnuut te ontdek. Hy is ook daar waar jy Hom nie verwag nie!
Dit het 600 v.C. in Babel gebeur nadat Juda in ballingskap weggevoer is. Daar op die walle van die Kebarivier waar die ballinge aangehou is, het hulle gedink dat God hulle verlaat het. Hy was mos net in die tempel in Jerusalem honderde kilometer daarvandaan te vinde. Hulle het teenoor Hom oortree en is gestraf; hul verdiende loon! Die feit was dat Hy nie meer by hulle was nie, altans, so het hulle gedink. Toe God later op die walle van die Kebarivier aan Esegiël ’n hemelse gesig gee, het die ballinge besef dat hulle verkeerd was – God was by hulle in hul nood. God was nie net in die sonskyn van hulle lewe te vind nie, maar ook in die donkerte! Hy het hulle dan ook jare later vrygemaak.
Polities gesproke gaan ons ’n onseker toekoms tegemoet – 2014 gaan myns insiens ’n waterskeiding, ’n maak-of-breek jaar wees. Doemprofete voorspel aaklige dinge vir die Boerevolk. Moenie ontsteld word nie; laat Christus toe om die drogbeelde van moontlike onheil te verwilder. Baie van die drogbeelde is geen werklikheid nie, maar dinge wat ons self gemaak het – ons skrik vir ons eie gedagtes! Laat Jesus jou kleingeloof met die hamer en die beitel van geloof in Hom vernietig. Kap dit stukkend want Jesus is by jou in die boot. Hy sê ook vanoggend vir jou: “Moenie vrees nie, dis Ek!”