Ds AE van den Berg
“...wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk vergewe – want U leer hulle die goeie weg waarin hulle moet wandel...” 1 Kon.8:36
Baie mense bid, maar niks gebeur nie omdat hulle verkeerd bid. Egte gebed begin by dit wat in die hart aangaan en soos Dawid eerlik voor God te wees. “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ʼn weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps.139:23,24).
In die gelese gedeelte hoor ons Salomo met die inwyding van die tempel bid. En hy begin reg – by die kwellinge van sy hart. Hy verwys na onaangename dinge wat Israel hulself op die hals gehaal het omdat hulle van God afgedwaal en Hy hulle getug het. Salomo het geweet dat Israel se onreine harte ʼn groot rol in God se oordeel oor Israel gespeel het. Dit leer ons ʼn baie groot waarheid; jy kan nie vir die geestelike genesing van jou volk bid sonder dat jou eie hart genees is nie! Ons besef nie hoe die verdorwenheid van ons eie harte die toekoms van die Boerevolk raak nie!
God se oordeel oor volke en enkelinge is persoonlik van aard – Hy ondersoek harte: “Ek, die Here, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë...” (Jer.17:10).
Salomo leer ons dat dit wat in ons hart aangaan, ons volk se toekoms raak! Hierdie waarheid vind ons al so vroeg as Gen.6 waar ons lees dat God besoeking oor die mensdom gebring het oor “die versinsels wat hy in sy hart bedink.” (:5). Daarna is die mensdom, op agt na, almal deur ʼn sondvloed vernietig. Die spreekwoord sê dat jou mond maak dat jou boude slae kry. So maak jou hart dat jou volk slae kry! Gevolglik moet die mens wat vir sy volk se herstel bid, eers sy eie hart skoonmaak!God kan een mens wat sy eie hart ondersoek, gebruik om ʼn omwenteling te bring. Moenie dink dat slegs ʼn regering of kerk omwentelings kan bring nie. Die Bybel het talle voorbeelde van enkelinge wat die verdorwenheid van hul eie hart voor God uitgestort en omwentelings in hul gemeenskappe teweeg gebring het. Abraham, Josef, Josua, Dawid, Ester en Nehemia is kragtige voorbeelde hiervan! God gebruik mense wat met die verdorwenheid van hul hart worstel om die gang van die geskiedenis te verander. Hy is so naby aan sy kinders, dat Hy enigeen, selfs vir jou, kan gebruik om die Boerevolk na Hom toe te laat terugkeer. Daarom bid Salomo tereg dat God diegene sal verhoor wat met die verdorwenheid van hul eie hart worstel.
Egte gebed begin by die behoefte dat God my hart sal regeer. Daarom gee Jesus die dissipels opdrag om te bid dat God se koninkryk op aarde sal kom soos in die hemel. Soos wat God in die hemel regeer, moet Hy ook in my hart regeer. En dis net moontlik indien ek dit skoon hou. God regeer nie op ʼn vuil troon nie, daarvoor is Hy te heilig! Hy is egter gewillig om die gebede van sondaars wat met die verdorwenheid van hul harte worstel en alles wat vuil is op te ruim, te verhoor en volke te herstel.
Die Bybel het talle voorbeelde hiervan. Nehemia is een van die treffendste. Hy het in ʼn tyd geleef toe dit baie sleg met Israel gegaan het omdat hulle aan God ongehoorsaam was en Hy hulle gestraf het. Wanneer Nehemia bid, is hy ook van sy eie sonde bewus wat daartoe bygedra het dat Israel getug moes word. Hy doen die regte ding en pleit net so skuldig soos sy volk: “...laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid.... terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig” (Neh.1:6).
Om die verdorwenheid van jou eie hart te verstaan, is die begin van ʼn groot ommekeer. Daniël het dit ook geweet: “...ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk” (Dan.9:5). Hy staan nie eenkant en vinger wys nie, maar sien homself aandadig aan die volksverval!
Die boek Rut wat tydens die rigtertydperk geskryf is toe dinge in Israel skeef geloop het, leer ons dieselfde waarheid. In hoofstuk een lees ons van Naomi wat alles verloor het en dan sê: .... Noem my nie Naomi nie; noem my Mara. Want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen” (:20). Al klink dit of Naomi God verkwalik, worstel sy in werklikheid met onsuiwerhede in haar eie hart. Sy glo nog steeds dat God by haar is en by magte om haar te red, wat dan ook daarna gebeur het. Naomi het God se Woord toegelaat om haar in die regte rigting te lei. Daarom het sy selfs in haar bitterheid aan Rut opdrag gegee om God se wet te gehoorsaam.
Hoe gaan dit met ons volk? Die slegste ooit! Sal jy graag ʼn verandering in hierdie land wil sien? Wat doen jy daaraan? Bid jy vir ons Boerevolk? As jy egter om herstel bid, maar jy sluit jouself by hierdie proses uit, bid jy verkeerd. Dis maklik om te bid en jouself daarna uit die voete te maak. En as daar niks gebeur nie, is jy teleurgestel in God. Dit werk beslis nie so nie!
Die eerste Christene is geleer om eers hul eie hart reg te kry voordat hulle die wêreld wil verander. En jy kan as enkeling groot verandering teweeg bring! Jesus leer ons dat ʼn klein bietjie suurdeeg die hele brood deurtrek en die kleinste saadjie (mosterdboom) ʼn groot boom word. Christene word van vroegs af geleer om eers die verkeerde dinge in hul lewe op te ruim voordat hulle die wêreld wil verander.
Jakobus som die hart van al die probleme in die wêreld sowel as in die kerk op: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Onderwerp julle dan aan God: weerstaan die duiwel en hy sal van julle wegvlug... Reinig die hande.... en suiwer die harte...” (Jak.4:1, 7,8). Jakobus se boodskap kom uit die hart van die OT – die bron van die wêreld se probleme setel in die hart van die mens. Die predikers van die eerste eeu het baie klem daarop gelê dat die enigste ding wat die wêreld kon verander, ʼn suiwering van die hart was.
Ek vra weer: Is jy bekommerd oor ons volk? Booshede verteer ons soos roes yster verteer. Kan ons iets doen of is ons magteloos hierdie booshede? Ja, ons kan iets doen; nee, ons staan nie magteloos nie. Deur jou hart te ondersoek, gee God jou die potensiaal om die wêreld te verander. Moenie van politieke party verander nie; verander van hart! As ons volk se harte nie gaan verander nie, sal niks verbeter nie, eerder versleg!
God gee ons ʼn kragtige Gees om ons te help om ons harte skoon te maak – die Heilige Gees. Laat jou hart in lyn met God se doel kom. Daarvoor moet ons wakker wees en nie toelaat dat verkeerde dinge ʼn tuiste in ons hart vind nie. Dis ʼn daaglikse stryd wat ons slegs met die hulp van die Heilige Gees kan stry. “...terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Efes.6:18).
God is besorg oor die dinge in my hart want ʼn beter wêreld, land, gemeenskap en gesin begin op geen ander plek as in my hart nie. As ons met rein harte gaan begin bid, sal ons verbaas staan oor wat God met Suid-Afrika doen! Ons land is vuil omdat die heidendom alles wat skoon is vuil maak. Suid-Afrika moet skoongevee word en daardie besem staan in ons eie hart.
By geleentheid moes ʼn predikant sy seuntjie oppas. Om die outjie besig te hou, het hy ʼn stuk deurskynende plastiek gevat, ʼn landkaart van Suid-Afrika uit ʼn tydskrif geneem en dit in stukkies geknip. Daarna het hy die seuntjie gom gegee en aangesê om die kaart weer aan mekaar te kry. Toe hy na ʼn paar minute die volledige kaart bring, vra sy verbaasde pa: “Hoe het jy dit so gou reggekry?” Die seuntjie het trots gesê: “Op die agterkant was daar ʼn foto van ʼn oom. Dit was makliker om hom aan mekaar te sit. Toe ek dit omdraai was die land ook aan mekaar!” Ja, as die stukkende mens geheg word, kom die land vanself reg!
Amen!