HOE LYK JOU BAKKIE LENSIESOP?

Ds Andrè van den Berg

"Alles het by ʼn bakkie lensiesop begin.  Wat is jou bakkie lensiesop?  Wat verruil jy tans vir God se beloftes aan jou, met ander woorde jou sieleheil?  ʼn Sondige lewensstyl?  Iets waarmee jy nie wil breek nie?"

“.... So het Esau dan sy eersgeboortereg verag” - Gen.25:34                                          

In die sestigerjare koop ʼn vrou ʼn ring vir R20 op die Kaapse parade nadat die smous haar verseker het dat dit ʼn diamantring was.  Sy was skepties maar dit nogtans gekoop.   Toe sy dit laat waardeer, was dit ʼn diamant van twee karaat!   So het talle mense al bitter min vir kosbaarhede betaal.   Maar nog nooit in die geskiedenis is iets so kosbaars vir so min gekoop as in die gelese gedeelte nie.  ʼn Mens wil jou kop skud as jy die droewige verhaal van Esau se geringskatting van dit wat vir hom kosbaar moes wees, lees.  Dit staan egter met ʼn doel in die Bybel.  Hierdie en ander verhale is opgeteken sodat ons nie dieselfde foute maak nie.  Paulus skryf: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ʼn waarskuwing aan ons...” (1 Kor.10:11).

Esau was nie ʼn gelowige nie en het derhalwe nie insig in geestelike dinge gehad nie en derhalwe die spoor byster geraak.   Hy het soveel gehad om vir God te lewe!   Dink maar aan die talle beloftes van grond en rykdom aan die nageslag van Abraham.   So ook ʼn geestelike erfporsie – God se seën.

Waarom het Esau al hierdie kosbaarhede verag?  Omdat die voordele daarvan nie vir hom werklikheid was nie.  Dit het alles te ver in die toekoms gelê.  Hy kon nie daaraan raak nie.  Dit was nie hier en nou vir gebruik gereed nie.   Al werklikheid was dit wat voor hom was, die lensiesop; hy kon dit fisies geniet.

Esau se impulsiewe, onheilige leef-vir-nou-houding het hom en sy nageslag bitter duur te staan gekom en dien vir ons as ʼn waarskuwing: “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Heb.2:1).  “en pas op dat niemand in die genade veragter nie... soos Esau wat vir een spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.... toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer” (Heb.12:15-17).

Omdat ons volkskultuur nie die eersgeboortereg ken soos wat die ou Joodse kultuur dit geken het nie, sal ons nooit werklik verstaan wat dit vir ʼn oudste kind beteken het nie.   Dit was ʼn eenmaal in ʼn leeftyd aanbieding.  Ons, aan die ander kant, word daagliks deur adverteerders met sg. eenmaal in ʼn leeftyd aanbiedinge oorval, wat dit nie is nie.  Esau het wel so ʼn aanbod van ʼn leeftyd gehad en dit verag.  Dit wat Esau verag het, was nie kleinigheid nie.   So ʼn  eersgeboortereg het geestelike sowel as fisiese beloftes bevat.  En wat ʼn wonderlike erfporsie het God nie aan die nageslag van Abraham bemaak nie – ʼn volkstaat, ʼn naam onder die volke, nasionale aansien.   Sy nageslag sou soos sand van die see wees, die beloofde land Kanaän betrek en op pad daarheen oorwinnings oor die vyand behaal.  Sy nageslag sou ʼn mag van goedheid op aarde wees veral omdat die Messias uit hulle sou kom.  Gevolglik sou Esau se naam groot wees onder sy nageslag, iets waarop die ou Jode baie gesteld was!

Esau sou ná Abraham se dood skatryk erf.  Hoor wat sê een van Abraham se knegte:  “En die Here het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee” (Gen.24:35).

Met al hierdie wonderlike beloftes wonder 'n mens wat Esau daartoe beweeg het om sy eersgeboortereg te verkoop?  Hy wou sy fisiese behoeftes onmiddellik tevrede stel.  Esau was nie ʼn man vir wag nie.   Hy wou die fisiese genot onmiddellik versadig!   Is dit nie baie van ons se kwaal nie?   Laat ons maar nie ʼn vinger na Esau wys nie.

Die mense van sy tyd het nie die geleenthede gehad wat God ons in Christus Jesus bied nie.  Hy bied ons ʼn wedergeboortereg: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh.1:12).   Die wedergeboorte is ʼn eenmaal in ʼn ewigheid geleentheid:  “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus...” (Rom.8:16,17).  Dis ʼn geestelike erfreg.

Wat doen ons met ons eenmaal in ʼn ewigheid geleentheid?   Die meeste mense doen maar min daaraan.   Paulus skryf aan die Korintiërs dat baie aan die resies deelneem, maar dat min goed hardloop omdat hulle nie die dinge doen wat hulle kan laat wen nie. “.. Hardloop so dat julle dit sekerlik kan behaal... Ek hardloop dan soos  een wat nie onseker is nie...” (1 Kor.9:24,26).

Om ʼn wedergeboortereg te geniet, verg opoffering; gelowiges moet soos Moses van ouds die wêreldse genot van die hier en die nou doelbewus weier. “Deur die geloof het Moses, toe hy groot geword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ʼn tyd lank die genot van die sonde te hê... want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (Heb.11:24,25,27).  Hy het God voor oë gehad en aan sy geestelike beloftes laat vasklou.  Moses se hart was reg!

Met Esau was dit net die teenoorgestelde.   Sy hart was nie reg nie.  Daarom het hy nie sy erfporsie opgepas nie. Jesus sê: “want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mt.6:21).   Mense verkoop gewoonlik net iets as hulle aan iets anders meer waarde heg.  Esau het sy eersgeboortereg te laag geag en dit vir nietigheid verruil.  Hierdie ongeërgdheid het hom na die onmiddellike versadiging van vleeslike genot laat gryp.   Onmiddellike versadiging van behoeftes het sy lewe oorheers en dit vir hom onmoontlik gemaak om in geloof te leef.   Dit beroof jou van ʼn toekomsvisie - jou fisiese behoeftes vereis onmiddellike versadiging en dis al wat belangrik is.  Al wat vir Esau saak gemaak het, was dinge wat hy nou kon hê.  Hy wou nie wag nie.

Hy het geen opoffering gemaak ten einde sy geestelike erfporsie te beskerm nie.  Dit het hom met een onbesonne daad ontval.   In Hebreeus is die woord verag wat Moses in die teksvers gebruik, ʼn baie sterk woord.  Dit beteken om iets met veragting te behandel.  Ons sien ook iets hiervan in die NT: “Laat niemand ʼn hoereerder wees nie, of ʼn onheilige soos Esau wat vir een spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het” (Heb.12:16).  Esau se veragting van wat heilig was, word op gelyke voet met hoerery geplaas!

Die Griekse woord wat hier gebruik word, beskryf iemand wat letterlik voor ʼn tempel staan, maar nie ingaan nie omdat hy verkies om geen ware kennis op te doen nie.  Dit wat waardevol moet wees, word tot iets algemeen verlaag.  En dis presies wat Esau gedoen het - iets wat heilig is as iets algemeen te behandel.

Esau demonstreer sy afvalligheid ook in sy keuse van volksvreemde vroue. “Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Judit, die dogter van Beeri, die Hetiet, vir hom as vrou geneem, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet.  En hulle was vir Isak en Rebekka ʼn bitter verdriet” (Gen.26:34,35).  Hy was nie in die minste oor God, die dinge van God, sy volk of die toekoms gepla nie.

Alles het by ʼn bakkie lensiesop begin.  Wat is jou bakkie lensiesop?  Wat verruil jy tans vir God se beloftes aan jou, met ander woorde jou sieleheil?  ʼn Sondige lewensstyl?  Iets waarmee jy nie wil breek nie?  Is dit werklik die moeite werd? “Want wat baat dit ʼn mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?  Of wat sal ʼn mens gee as losprys vir sy siel?” (Mt.16:26).  Ons is geneig om te sê niks nie!  Tog spreek dade sterker as woorde.   As ons anders optree as wat ons praat, is ons in dieselfde bootjie as Esau!   As ons keuse nie met God se standaarde strook nie, het ons optrede ons bakkie lensiesop geword!

Hoe lyk die tipiese bakkies lensiesop?  Gal.5:19-21 gee vir ons ʼn lys van die werke van die vlees.  Enigiets wat ons toelaat om ons van ons geestelike erfenis te beroof - sonde, gedrag, wat ook al, beroof ons van God se goedheid en word ons bakkie lensiesop.  Sommige mense steek hierdie bakkie baie goed weg. Maar dis alles  tevergeefs: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Heb.4:13).

Esau moes liewer honger gebly het in plaas van ʼn wonderlike toekoms vir ʼn miserabele bakkie sop te verruil.    Om jou geestelike erfporsie te verkry, is geen maklike ding nie.   God wil sien of ons dit baie graag wil hê en opofferings daarvoor maak.   Dis ʼn toets.  Dit kos deursetting, opoffering en konsentrasie om op dit wat ewigheidswaarde het, gefokus te bly. “Want ons ligte verdrukking wat vir ʼn oomblik is, bewerk vir ons ʼn alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Kor.4:17,18).

God het so baie om te gee. “U sal my die pad van die lewe bekend maak,; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig” (Ps.16:11).   Pas jou siel op!

Amen!