LEWE IN CHRISTUS

Ds Andrè van den Berg

                   “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense” - Joh.1:4              

Die lewe is soos ʼn valskermsprong; jy móét dit die eerste keer regkry.  Jy kry nie ʼn tweede kans nie.   Maar hoe spring ons hierdie belangrike sprong reg?   Deur die regte besluite te neem.   Die lewe is die somtotaal van ons besluite.  En besluite uit liefde en geloof geneem, is nooit verkeerde besluite nie.

Ons lewe gaan almal dieselfde eindig - met die dood.  Slegs die inhoud van ons lewens onderskei ons van mekaar.  Elke lewe is ʼn kunswerk wat deur die persoon wat dit leef self gevorm word.  Hoe vorm ons dit?   Deur die regte keuses in die lewe te maak. 

Ja, die lewe is vol wonderlike dinge wat net op die regte besluite wag en die belangrikste van almal is WAT JY MET JESUS MAAK.

Dit word ook die Pilatus-vraag genoem.  Tydens Jesus se verhoor vra Pilatus: “.... Wat moet ek dan doen met Jesus...?” (Mt.27:22).   Dis ʼn universele vraag wat elke mens se eindbestemming bepaal – wat doen jy met Jesus?

Daar is net twee moontlikhede – laat Hom in jou lewe in of sluit Hom uit.  Niemand kan neutraal teenoor Hom staan nie.   Jy moet ʼn duidelike besluit neem.   As jy Jesus inlaat, gebeur twee wonderlike dinge:

Eerstens tree Hy as die Lig in jou donker lewe in en verdryf die duisternis.

Tweedens verander Hy jou ewige lot van die ewige dood na die ewige lewe.

Dis wat redding is. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense”. Jesus het aarde toe gekom om deur sy dood verlossing van hierdie duisternis te bring.

Geen mens weet hoe groot sy sondeduister is alvorens hy in die lig tree, omdraai en agtertoe kyk nie.   Mense is soos grotdiertjies, gewoond aan die duisternis want hulle word in duisternis gebore:

Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang” (Ps.51:7).

Daarom kies mense die duister bo die lig.   Dis hulle aard.  Daarom roep Paulus in Rom.7:24 uit:

Ek, ellendige mens!  Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?”

Satan verblind mense doelbewus om die duisternis bo die lig en die dood bo die lewe te kies.  Daarom sê Jesus in die Bergpredikasie:

“Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mt.7:14).

Indien ʼn mens nie van hierdie duisternis verlos word nie, sterf hy daarin waarna ʼn erger duisternis op hom wag – dié van die ewige oordeel.

Luister wat sê Jesus van hierdie duisternis:

“En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande” (Mt.25:30).

Waarom is dit erger?  Omdat jy nie daaruit kan ontsnap om jou te bekeer, soos die ryk man in die verhaal van Lasarus en die Ryk man uitgevind het nie.  Mense sien eers die lig as hulle die regte ding met Jesus doen – hul bekeer.

Joh.1:4 sê dat Christus lewe en lig is.  En dis waar.  Die Satan daarenteen is duisternis en dood en het die mensdom in sy mag:

“Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Joh.5:19).

Daarom getuig so baie dinge op aarde van die invloed van Satan – dinge van die dood.  Let bv. op tatoeëring.  Dis skedels, doodbeendere, spinnerakke, drake, naaktheid, demone ens.   Getuig dit nie van die dood nie?  Ek het nog nooit ʼn getatoeëerde mens ontmoet wat ʼn kind van God is nie.  Dié wat ek sien, lyk eerder na dissipels van Satan!   Moet nooit ʼn lewensweg inslaan wat van Jesus af weglei nie!

Jesus is lig en waar daar lig is, is daar lewe.  Selfs die natuur getuig daarvan!    Waar daar duisternis is, heers die dood.   Die dood het baie deure waarby die lewe uitgelaat word.  Dwelm en drankverslawing, VIGS, misdaad en ander vergrype eis jaarliks miljoene lewens wêreldwyd.   Die tragiese van alles is dat dit nie net liggame doodmaak nie, maar ook siele hel toe stuur!

Jesus het as ʼn lig gekom om in mense se duisternis te skyn. Jesaja voorspel sy koms:

Die volk wat in duisternis wandel, het ʼn groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ʼn lig geskyn” (Jes.9:1).

God het Hom uit liefderyke ontferming gestuur omdat Hy nie wil nie hê dat mense in die hel moet beland nie:

Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose  nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy verkeerde weg en lewe.  Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde wee! Waarom wil julle tot sterwe, o huis van Israel?” (Eseg.33:11).

Ons lot word in oomblikke van besluitneming bepaal, ook ons ewige salige lot, die verlossing in Christus.  God het aan die mens ʼn vrye wil gegee.   Ons moet kies tussen lig en duisternis, lewe en die dood; ʼn keuse tussen Jesus, die lig en die ewige lewe en Satan, die heerser van die duisternis en die paspoort na ʼn ewige dood.

Toe Johannes die woorde van ons teksvers geskryf het, was hy spesifiek besig om met die Jode te praat.   Hulle het die eerste keuse gehad om tot die ware lig in Christus te kom.  Hulle wou nie God se raad aanvaar nie.  Ons hoor hoe hulle die duisternis bo die lig verkies as hulle voor Pilatus uitroep:

Kruisig Hom! Kruisig Hom!”   Hulle kon net sowel gesê het: “Weg met die Lig! Gee ons die duisternis!” Dis ʼn universele reaksie:

“Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters – omdat hulle wederstrewig was.... en die raad van die Allerhoogste verwerp het” (Ps.107:10,11).

Waarom verwerp die meeste mense Jesus?  Waarom verkies hulle die duisternis en die dood?  Omdat hulle hul eie god wil maak.  Die tragiek van die saak is dat wie sy eie god maak, ook sy eie hellevaart bewerk!  Wie die lig kies, leef egter vir ewig.  Salomo sê in Pred.12:5 dat die mens na sy ewige huis gaan.  Ja, die lewe is ʼn huiswaarts reis.  Wanneer God aan ons die lewe gee, bied Hy ons die  kans om sy siel vir die ewigheid voor te berei.

Die lewensreis is ʼn baie kort reis. Moses skryf in Ps.90:

"Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar....” (:10).

Dis nie baie nie.  Moses sê ook iets belangrik: "... ons bring ons jare deur soos ʼn gedagte” (:9).

God het ons die lewe gegee om voluit geleef te word.  Wie ’n lewe vir Christus leef, sal die aardse lewe sonder hartseer verlaat.   Daarom sien gelowiges die dood nie as ’n kwaad aan die einde van ’n goeie lewe nie, want wie in Christus ontslaap, is nie hartseer om te sterf nie.

Die lewe is te kort om ydele dinge na te jaag en te kosbaar om dit met booshede te besmet.   Bestee jou lewe aan iets wat langer as jou aardse lewe gaan duur.   Dít sal ware genot verskaf.   Want as jy jou lewe hier op aarde geniet, dink net hoeveel te meer jy dit in die hiernamaals gaan geniet!

Amen!