Ds Andrè van den Berg
“... dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel....” (:28).
Ses blinde mans kom eendag by ʼn dieretuin aan en huur vir hulle ʼn gids om hulle rond te neem en van die diere te vertel wat hulle nie kon sien nie. Die gids neem hulle toe na ʼn mak olifant en gee aan elkeen die geleentheid om aan een deel van dier te vat en vir hom te sê hoe ʼn olifant vir hom voel.
Die eerste blinde het aan die stert gevoel en gesê dat ʼn olifant soos ʼn dik tou voel. Die tweede een het aan die poot gevoel en gesê dat ʼn olifant soos ʼn boomstomp voel. Die derde een het aan die sy vel gevoel en gesê dat ʼn olifant soos ʼn skurwe muur voel. Die vierde blinde het aan die olifant se oor gevat en gesê dat dit soos ʼn groot waaier voel. Die vyfde een het aan die slurp gevoel en gesê dat ʼn olifant soos ʼn groot slang voel. Die sesde een het aan die tand gevoel en gesê dat ʼn olifant soos ʼn sabel voel.
Omdat hulle almal blind was, kon nie een van hulle die werklikheid sien nie. Dis ook in ʼn geestelike sin waar. Dit was trouens Asaf se probleem toe hy sy ongunstige omstandighede vanuit ʼn verkeerde hoek bekyk het; ʼn fout wat gelowiges dikwels maak as dinge vir hulle skeef loop. Dan sien hulle net soos daardie blindes nie die groter prentjie nie.
Ps.73 leer gelowiges hoe om hul oë van ongunstige omstandighede af te wend en 100% op God te fokus. Want waar jy staan, bepaal wat jy sien! In vers 1 staan Asaf op harde grond. Hy het van jongs af geleer dat God niks anders as goedheid is nie. Jesus herhaal ook hierdie waarheid: “... Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God...” (Mt.19:17).
Toe Asaf groot word, het hy gevind dat dit wat hy van God geleer het nie met sy lewenservaring geklop het nie. Dit het hom op die gladde grond van verwarring en twyfel laat beland: “.... my voetstappe het byna uitgegly” (:2).
Dit gebeur as gelowiges die goedheid van God uitsluitlik as aardse seëninge verstaan. Vra maar vir Job! Was Job se beproewinge vir hom vir een sekonde genotvol? Allermins! Nogtans het dit hom nader aan God gebring wat hom op die ou einde ryklik vir sy getrouheid geseën het.
Baie gelowiges reken dat as hul reg leef en goeie dade verrig, God genoodsaak is om hulle te seën. Dis ʼn skadelike misgissing! God laat soms dinge in ons lewe toe wat so swaar raak, dat ons onder die gewig daarvan struikel. Dis nie aangenaam nie, maar noodsaaklik. Moenie vergeet dat ons klei in God se hande is nie en dat Hy besig is om van uitskotprodukte meesterstukke te maak nie!
Vyf dinge het Asaf gehinder. Eerstens kan hy nie verstaan waarom goddelose mense dikwels so voorspoedig is terwyl talle gelowiges bitter swaar kry nie. Hy bely openlik dat dit hom met afguns vervul het: “Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien” (:3).
ʼn Tweede ding wat hom gehinder het, was dat die goddeloses kommerloos hulle gang gegaan en net so gesterf het: “Want daar is geen kwelling by hulle nie, gesond en vet is hulle liggaam” (:4). Alles verloop seepglad. “In die moeite van sterwelinge is hulle nie...” (:5) Hoe kan ʼn regverdige God dit toelaat?
Nog ʼn ding wat Asaf gehinder het, was dat die goddeloses gemaak en gebreek het asof daar geen God in die hemel is nie: “En hulle sê: Hoe sou God dit weet....” (:11). Hulle voorspoed het Asaf verbitter: “Kyk, so is die goddelose mense; en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom! Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou... Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite....” (:12,13,16). Dit het vir Asaf gevoel asof sy godsdiens tydmors was!
Hoeveel gelowiges het nie al so gevoel nie! In tye van beproewing is die versoeking daar om verkeerd te dink en te wonder of dit nie beter sou wees om soos die res van die wêreld te leef, siende dat daar geen oënskynlike voordeel daarin is om God te dien nie?
Onthou: Waar jy staan, bepaal wat jy sien, veral in beproewing wanneer die versoeking groot is om net op jouself en jou eie beleweniswêreld te fokus. Jy vra: Waarom ek? Hoe gaan ek hier deurkom? Gaan daar ooit vir my uitkoms wees? Wie gee om wat van my word? Alles draai om die EIE EK. Sulke denke kan rampspoedig wees want dit laat jou die ellende waarin jy verkeer vanuit ʼn verkeerde hoek beoordeel en soos Asaf in die versoeking kom om aan God se bestaan te begin twyfel. En dis glibberige grond!
Asaf getuig vanaf vers 17 dat God hom omgedraai het om die lewe vanuit God se oogpunt te sien. En so het Asaf deur die genade van God van glibberige grond na vaste grond beweeg. Hy het waarskynlik tempel toe gegaan om met God te gaan praat en toegelaat dat God met hom praat. Dit het gemaak dat sy fokus van die eie ek na die regverdige God en sy vergelding van die goddelose verskuif het. Daar in die tempel het Asaf se oë oopgegaan: “...totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het” (:17).
Asaf het ingesien dat die goddelose hoogstens aardse genot ervaar het. Dit sou met hul laaste asem eindig waarna ʼn ewige verdoemenis sonder God op hulle gewag het: “Hulle sal as straf ondergaan ʼn ewige verderf, weg van die aangesig van die Here....” (2 Thess.1:9). Dit is die enigste hiernamaals wat ʼn onbekeerde ooit sal ken!
Goddeloses leef in werklikheid op geleende tyd. God leen aan hulle tyd om deur die bekering in ʼn persoonlike verhouding met Hom te tree. As hulle tyd op die parkeermeter van die lewe verstreke is, wag die ewige verderf op hulle. Is dit iets om na uit te sien?
Toe Asaf dit besef, bely sy dwaasheid aan die Here: “toe was ek dom en het niks geweet nie; ek was soos ʼn dier by U” (:22). Dit gebeur as ʼn mens die sorge van die lewe deur die bril van die eie ek bekyk. Moet nooit na jou ellende kyk en die beloftes van God in sy Woord betwyfel nie.
Wanneer ʼn beproefde sê: “God gee nie vir my om nie!” sê die Woord: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Pet.5:7). Wanneer ʼn beproefde sê: “God hoor my nie!” sê die Woord: “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie” (Jer.33:3). Wanneer ʼn beproefde sê: “God is afwesig in my leed” sê die Woord: “... Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en nooit verlaat nie” (Heb.13:5). Moet God nooit in tye van beproewing vergeet nie want dis juis die tyd dat jy Hom die nodigste het!
Toe Asaf hegter sielegemeenskap met God ervaar het, het hy dinge anders begin insien en besef dat gelowiges seëninge gehad het wat bokant die aardse genot van goddeloses uitgetoring het. Asaf het God se nabye teenwoordigheid in sy uur van krisis beleef: “Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat” (:23). Hy was in die branding van sy beproewing nie alleen nie; God het daardie pad saam met hom gestap. Baie jare later het Daniél se drie vriende dieselfde geloofswonder in die brandende vuuroond in Babel ervaar!
Die wete dat God altyd met sy kinders is, is ʼn seën wat aardse genot oorskry. ʼn Gelowige is nooit alleen nie. God is met hom in elke vallei, elke donker nag, die ergste siekte, die slegste omstandigheid. Ons ervaar sy besondere bystand en troos in Jesus Christus wat gesê het: “... Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld “(Mt.28:20). Asaf bely dat God voor sy kinders uitloop: “U sal my lei deur U raad...” (:24). Geen beproewing ruk ons uit sy hand nie.
Asaf kom tot die besef dat hy vir sy aardse bestaan niks meer as God nodig het nie: “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek niks op aarde nie” (:25). Hy is nie meer afgunstig op die skynbaar voorspoedige goddelose nie. Daar is vir hom geen groter genot as om in ʼn persoonlike verhouding met God te staan nie!
Wie niks anders as Jesus in sy lewe begeer nie, kan nooit teleurgestel word nie. Wie egter sy oë van Jesus af wegneem en na die genot van die wêreld kyk en dit begeer, word altyd ontnugter. Wie niks anders as Jesus het nie, het alles wat hy nodig het! “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Mt.5:6).
Asaf het met die genade van God uiteindelik by die plek uitgekom waar God alle gelowiges wil hê; om die lewe vanuit God se oogpunt te betrag en te besef dat dit baie lonend is om ʼn kind van God te wees. Hy som dit in vers 28 as volg op: “...... dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel....”
Moenie dom wees soos daardie mans by die dieretuin en jou blind staar vir dit wat voor jou is nie. Bid God om jou altyd die volle prentjie te laat sien want waar jy staan, bepaal wat jy sien!
Amen!