WORD 'N PASAANGEËR!

Ds Andrè van den Berg

“So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus ... En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word” - 1 Kor. 4:1,2                                

Alhoewel God miljoene engele tot sy beskikking het, maak Hy van mense wat aan sy stem gehoorsaam is gebruik om sy koninkryk op aarde uit te brei.  Jesaja is ʼn sprekende voorbeeld: “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur?  En wie sal vir ons gaan?  Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my”. (Jes.6:8).   Die kerk van Christus werk met mense wat God dien - godsdienstige mense wat nie los van mekaar funksioneer nie, maar wat onder leiding van verkose ampte as ʼn span saamwerk.

Hierdie werkswyse kan met ʼn langafstand-item tydens ʼn  atletiekbyeenkoms vergelyk word.   Daar is twee groepe mense – atlete en toeskouers.   Baie van die atlete het rus nodig en baie van die toeskouers het oefening nodig!   Dit geld ook vir die kerk.   Baie gemeentelede verwag van die leiers om die wedloop  alleen te hardloop. “ Hardloop jy, ek sal kyk”.   Sulke mense is gewillig om te kyk, maar nie saam te hardloop nie.    Gevolglik moet die hardlopers al die werk doen.   Die gevolg is dat die gemeente later met ʼn uitgeputte leierskap sit en die werk van die Here skipbreuk lei.

Waar pas lidmate en waar die ampte in?   In langafstandwedlope word daar dikwels van pasaangeërs gebruik gemaak.   So ʼn persoon hardloop nie vir die atleet nie, maar saam met hom om vir hom die pas aan te gee.   Dis die taak van die ampte – om lidmate te help om in pas met die werk van die Here te kom en enduit te werk.  “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou”(2 Tim.4:7).

Kerkleiers is pasaangeërs – hulle hardloop nie vir lidmate nie, maar saam met hulle.   Daarom durf geen gelowige op die pawiljoen sit nie.  Sy plek is op die baan!   Hoe gee leiers die pas aan?  Deur hul inbors, karakter en voorbeeldige lewe.  Hulle het nie titels nodig nie, maar lei sonder ophef.   Een van die merkwaardigste dinge van die NT kerkleiers was dat daar niks merkwaardig aan hulle was nie.  Hulle was doodgewone mense, meesal vissers.

In die kerk is die amp van ouderling die hoogste amp.   Daarom word bepaalde Bybelse vereistes aan hierdie amp gekoppel (1Tim.3; Tit.1).   Om ouderling te wees, is dit nie nodig om groot geleerdheid, rykdom of status te hê nie.  Dis  gewone gelowiges met onkreukbare karakters; eerlike manne wat hul vrouens liefhet en gehoorsame kinders het wat hul eerbied.

In 1 Kor.4 gebruik Paulus sy eie lewe om die saak van kerkleierskap te belig.   Die mense in Korinthe het na hom opgesien om hulle te help om leiers te kry.  Daarom begin hy deur te sê dat leiers dienaars van God is.   ’n Goeie leier is ’n volgeling.   Dis die belangrikste eienskap van enige leier – hy is nie ʼn heerser nie, maar ʼn dienaar van God.   Hy is soos ʼn slaaf aan Jesus vasgemaak; gebonde tot gehoorsaamheid, nie teensinnig nie, maar gewillig.  Hy het ʼn  behoefte om die wil van sy hemelse Meester te doen.

Dis hoe elkeen wat Jesus wil dien homself moet sien – ʼn gewillige slaaf wat onder toesig van ʼn hemelse Meester werk.   Dis die kerk-model wat die Skrif voorskryf.   En hier verskil Protestante skerp van die Roomse Kerk (RK) wat uit twee onderskeie dele bestaan – geestelikes en eenvoudiges.  Dis onskriftuurlik!

Alhoewel ons almal, by wyse van spreke van klei gemaak is, moet sommige die voortou neem en ander volg.   Dis op alle lewensgebiede waar, ook in die kerk.  Kerkleierskap is nie daar om mense te oorheers nie, maar om hulle harte vir Jesus te wen en tot gemeentes saam te snoer.  Leierskap is optrede, nie posisie nie.

Hierdie leiers gee slegs die pas aan deur by die geestelike behoeftes van die kudde aan te sluit.  Hulle dwing nie hul wil op mense af nie, maar vra eerder: “Hoe kan ek jou help?” Soos pasaangeërs nie alles vir die atlete doen nie, so ook nie die kerkleiers nie.   Hulle gee net die pas aan.   Die atlete moet self die hardloopwerk enduit voltooi.

Kerkleiers se dienswerk gaan egter verder as blote pas aangee.  Hulle moet soos goeie bestuurders na die gemeente omsien.   Dis immers die huishouding van God.  Hulle besit nie die huis nie, maar bestuur dit vir God wat allerlei heilige sake aan hulle toevertrou het.  Dit herinner aan die Gelykenis van die Talente waar die huisbaas kosbaarhede aan diensknegte toevertrou.   Dis die vertroue waarvan Paulus in vers 2 praat:  “En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word”. Hierdie getrouheid eindig nooit:  “Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).

Kerkleiers moet dit wat nie hul eie is nie oppas asof dit wel hulle eie is.  Dit wat God aan so ʼn persoon toevertrou, mag nie geskaad word nie.  Gevolglik moet ʼn kerkleier goed nadink en nie willekeurig met die dinge van God omgaan nie.   Vrywillige werk is nie willekeurige werk nie!

Een van die kosbaarste dinge wat God aan die ampte toevertrou, is die bewaring van die suiwerheid van die Evangelie.   Daaroor kan nie streng genoeg gewaak word nie!  Paulus waarsku:  “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg.... Want ek weet dit, dat na my vertrek, wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie” (Hand.20:28,29).

Om vir die Here te werk, hoef ʼn mens nie suksesvol, ryk of gewild te wees nie.  Jy staan per slot van sake net vir die hemelse Meester in totdat Hy terugkom soos die Gelykenis van die Talente dit duidelik uitspel.    Kerkleiers is nie daarop ingestel om gewildheid-kompetisies te probeer wen nie.   Hulle is diensknegte wat versigtig met hul woorde, maar sterk in hul optrede is.  Daarom vermaan Paulus die gelowiges om nie kerklui blindelings te kies net omdat hulle goed voorkom nie.  Dit het in Korinthe gebeur en die kerk geskaad.

In vers 7 word drie vrae gevra: Wat maak jou anders as ander mense?  Jyself?   Nee, God maak jou anderste.   Het jy iets om op te roem?   Wat het jy ontvang wat jy nie van God gekry het nie?   Niks nie!   Moet dan nie spog nie, dien God eerder!  Hy het vir jou alles gegee om in Sy diens te staan en soos ʼn Jesaja van ouds te sê “Here, hier is ek, gebruik my!”

Ons het onlangs by die kruisiging van Jesus stilgestaan en kennis geneem wat Hy vir ons gedoen het.  Wat doen jy vir Jesus?  Geen mens is ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar slegs vir wat hy gegee het.  Wat gee jy?  Vir gelowiges is diensbaarheid aan Jesus ons hoogste prioriteit.   Ons is diensknegte, nie met aardse vergoeding nie, maar met hemelse vergoeding: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel.  Gaan in in die vreugde van jou heer” (Mt.25:23).

Let op die woord dienskneg. Elkeen van ons kan naam in God se koninkryk maak omdat elkeen van ons kan dien.   Hy verwag egter nie van ons om mekaar se slawe te wees nie.   Dis nie altyd maklik om te dien nie.   Nogtans maak dit ons geestelik ryk en gelukkig.    Ja, wie God en sy medemens dien, slaap lekker.

God het ons die lewe gegee.  En dis kosbaar.  Diens is die huur wat ons Hom betaal vir die voorreg om te leef.   Maar dan moet ons uit ons gemaksone uitbeweeg.   Alvorens ons dit nie doen nie, beteken ons niks vir God se koninkryk nie.

Ons het ʼn groot behoefte aan pasaangeërs – ouderlinge en diakens.  Goeie kerkleiding is ʼn gawe van God waarvoor ons Hom kan bid: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Mt.7:11).

Bid baie ernstig saam met my vir hierdie saak dat die Here vir ons gelowige, gewillige manne as pasaangeërs sal gee.   Ons kerkleiding is ernstig uitgeput!

Amen!