Ds Andrè van den Berg
“En Jefta het aan die Here ʼn gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee, dan sal ek wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die Here behoort, en ek sal dit as ʼn brandoffer bring”.
Die era van die Rigters was ʼn baie deurmekaar periode in Israel se geskiedenis. Vir 300 jaar het die een rigter die ander opgevolg om God se volk te lei. Name soos Ehud, Otniel, Gideon en Simson en selfs die van ʼn vrou, Debora, is aan ons bekend. Maar waarom was dit so ʼn deurmekaar tydperk? Omdat daar min stabiliteit in die Ou Nabye Ooste was en Israel gevolglik gereeld in oorlog verkeer het.
In Rigt.11 het Israel haar in ʼn ander soort oorlogvoering bevind nl. terrorisme.
Die Ammoriete het gereeld oor die grens gekom om die trans-Jordaniese deel van Israel se grondgebied te bekom. Die selfde grondgebied waaroor daar tans weer baklei word – Gazastrook.Die terreur aanvalle het Israel hoofbrekens besorg omdat die Ammoriete baie ondersteuners gehad het. En omdat Israel altyd soldate op die grense moes plaas, het hierdie uitgawe die ekonomie geskaad. Alhoewel oorlogvoering onafwendbaar was, was Israel baie versigtig vir openlike konfrontasie omdat hulle nie wis wie die Ammoriete almal kon saamsleep nie.
Omdat dinge nie vir altyd so kon aangaan nie, het Israel op ʼn dag besluit om oorlog te maak en ʼn gewapende mag op die been gekry. As leier het die keuse op Jefta geval. Van hom sê die Bybel dat hy ʼn dapper held was, iemand wat by talle geleenthede reeds sy staal moes gewys het. Destyds was die manne baie meer dapper as vandag want daar was nie pantservoertuie of militêre skuilings om in te skuil nie. ʼn Soldaat was eintlik sekerder van die dood as van die lewe!
ʼn Tweede ding wat van Jefta gesê word, klink minder goed - hy was die seun van ʼn prostituut. Prostitute was ʼn algemene gesig voor die stadspoorte van die Ooste waar hulle op kliënte gewag het. By geleentheid het Gilead, die vader van Jefta, voor so ʼn versoeking geswig en ʼn prostituut swanger geraak. Hy het vaderskap aanvaar die seun Jefta genoem – een wat oopmaak – en grootgemaak.
Toe Gilead later ʼn huwelik aangaan, het die seuns wat daaruit gebore is van Jefta se agtergrond verneem en hom verstoot waarna hy na die landstreek Tob is waar hy in die krygskuns onderrig is en ʼn vernuftige soldaat geword het. Hy het ʼn bestaan as bendeleier gevoer wat die Ammoriete se terrorisme met sy eie weergawe daarvan teengegaan het. Jefta en sy manne het in plekke ingegaan waar min dit sou waag. Ons kan van hom sê dat hy die eers recce-leier van die Bybel was! Vers 3 noem sy manskappe ligsinnig wat eintlik ʼn swak vertaling is. Dit moet eerder waaghalsig wees.
Op ʼn dag het daar ʼn militêre gesantskap, hoed in die hand, by Jefta aangekom. Hy moes Israel teen die Ammoriete lei. Nadat hy hulle goed gekapittel het, het hy die versoek aanvaar omdat hy geweet het dat die Here hom nodig gehad het. En so het hierdie man met die lelike verlede ʼn rigter van Israel geword.
Jefta was nie valslik optimisties oor die stryd wat vir hom voorgelê het nie. Die Ammoriete was gedugte vegters met baie simpatiseerders net soos die Palestyne vandag. Daarom het Jefta in gebed ʼn unieke belofte aan God gemaak: “En Jefta het aan die Here ʼn gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee, dan sal ek wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die Here behoort, en ek sal dit as ʼn brandoffer bring”.
God het Jefta se gebed verhoor en Israel die oorwinning gegee, iets waarvoor Jefta meer eer en roem as enige rigter voor hom verwerf het. Israel kon weer rustig lewe omdat die Here vir hulle goed was.
Die verhaal van Jefta eindig egter nie hier nie. Hy het aan God ʼn belofte gemaak. Jy maak nie aan God beloftes en verbreek dit daarna nie. God is nie ons speelmaat nie! Jefta het aan God ʼn menslike brandoffer belowe – die eerste persoon wat met sy terugkeer uit sy huis hom tegemoet sou gaan. ʼn Brandoffer is op ʼn stapel hout neergelê, keel afgesny en dan as geheel verbrand.
Miskien het Jefta gehoop dat dit een van sy slawe of ʼn diensmeisie sou wees wat hom tegemoet sou hardloop. Toe is dit sy enigste dogter! Wat moes Jefta doen? Sy belofte aan God verbreek? Nee, hoe hard dit ook al mag wees, het Jefta sy belofte gestand gedoen en haar geoffer. Jefta het God eerste gestel.
Wat maak ons met ons beloftes aan God? Dink aan u eie beloftes aan God tydens u eie voorstelling. Kom u dit nog na? Miskien is een van die hoof redes waarom dit so sleg met die Christendom gaan, dat ons die beloftes wat ons aan God doen so maklik verbreek!
Hoeveel jongmense het nie die afgelope jare voor hierdie kansel gestaan en vrome beloftes afgelê nie – om getrou aan die leer van die kerk te wees; eredienste getrou by te woon, die gemeenskap van die gelowiges uit te bou, aktief aan die werksaamhede van die gemeente deel te neem ens. In talle gevalle was dit die laaste sien van die blikkantien. Hulle het vir God gelieg!
Wat het van ons doopbeloftes as ouers geword dat ons die kinders wat God ons gegee het in sy vrese sal grootmaak? Kyk na ons verbondsonderrig hoe taan die getalle soos wat ouers hul kinders eerder Sondae tuis laat bly of op daardie dag aan wêreldse aktiwiteite laat deelneem.
Die grootste tragedie is nie die verval in kerklike betrokkenheid nie. Dis maar net ʼn simptoom van die werklike oorsaak – beloftes aan God wat nie nagekom word nie.
Wat ʼn ingrypende verandering sal daar nie in die kerk kom indien mense erns met hul beloftes maak nie! Dan sit ons die kerke soggens en saans vol. Die verbondsonderrig sal ʼn 100% bywoning hê. Susterskringe sal nie met vyf lede tydens ʼn afgekondigde vergadering sit nie. Die jeug sal spontaan onderling byeenkom. Kerkraadslede sal hul werk deeglik doen. Sal dit nie wonderlik wees nie! En waar begin dit? By ons beloftes aan God!
Wat is die oplossing vir die lamheid in ons kerke? ʼn Ander leraar, Kerkraad, ʼn ander dit of ʼn ander dat? Nie een daarvan nie. Ons verandering sal begin wanneer ons die hand diep in eie boesem steek en vra: Kom ek nog my beloftes aan die Here na? Kom jy dit na? Jou antwoord is bepalend vir die toekoms van ook joú gemeente!
Amen!