STAP IN GELOOF, NIE OP SIG

Ds Andrè van den Berg

“... Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ʼn aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens” - Dan.6:6                             

Dit wat destyds met Daniël in Babel gebeur het, gebeur nog steeds.  Die wêreld  hou gelowiges se lewens baie fyn dop en huiwer nie om ongerymdhede aan die groot klok te hang nie, veral as dit ʼn persoon met ʼn sterk openbare beeld is.   Daarom moet gelowiges se lewens skoon wees om skandale te vermy en God te verheerlik.  God gebruik dikwels ons voorbeeld om goddelose mense te laat vrees.  En wanneer Hy dit doen, kan dit vir gelowiges selfs lewensgevaarlik lyk.  Vra maar vir Daniël!

Dan.6 vertel die verhaal van ʼn gelowige man wat saam met heidense kollegas ʼn baie hoë staatspos beklee het.  Daniël se uitsonderlike verstandelike vermoë het hom egter bo sy kollegas laat uitgestyg, iets wat hulle bitter afgunstig op hom gemaak het.  Afguns is ʼn baie lelike ding want dit maak van mense vlermuise.  Vlermuise werk mos altyd teen donker agtergronde.  En dis presies wat Daniël se kollegas gedoen het.

Sy kollegas het in die geheim begin beraadslaag om van Daniël ontslae te raak. Hulle het egter ʼn groot probleem gehad.   Omdat sy lewe skoon was, kon hulle geen aanklag teen hom vind nie.  Wat ʼn wonderlike getuigskrif vir enige kind van God!   Daar het dus net een uitweg vir hulle oorgebly – Daniël se geloof in die lewende God:  “... Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ʼn aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens”.

Uit ʼn menslike oog het dinge vir Daniël nie goed gelyk nie.  Hy sou sy werk verloor.  Maar uit ʼn geloofsoog het dinge anders gelyk - God was in beheer van alles.   Met hierdie verhaal van Daniël wat tussen die leeus beland het, het God eerstens sy almag aan die heidene getoon en tweedens die onreg teen Daniël met die dood gestraf.

Daniël se konkelaar-kollegas het geweet dat koning Darius agting vir Daniël gehad het en geen slegte woord oor hom sou glo nie.  Gevolglik was daar vir hulle net een uitweg  – wetgewing.   Darius moes met wetgewing gedwing word om van Daniël ontslae te raak.

Na ʼn geheime spoedvergadering het hulle met ʼn versoek op Darius afgestorm.   Hulle was voltallig en eenstemmig; iets wat Darius waarskynlik beïndruk het.  Mense maak mos nie eenparig foute nie!   Hulle plan was fyn uitgewerk; hulle vra die koning slegs vir 30 dae se koningsverering.   Dit sou genoeg tyd wees om van Daniël korte mette te maak.   Hulle het geweet dat geloof so ʼn ernstige saak vir Daniël was, dat hy nie vir 30 dae sonder gebed sou klaar kom nie.

Omdat die booswigte hulself en hul medeburgers wou beskerm, wou hulle nie met die koningsverering ʼn nuwe godsdiens in Babel van stapel stuur nie.  Almal het uiteraard nie dieselfde gode aanbid nie.  As dit egter net vir 30 dae was, sou almal die versoek kon hanteer.   Heidene het ook by geleenthede tot ander gode gebid.   Die konkelaars se planne was met venyn deurdrenk – hulle sou Daniël spreekwoordelik op sy knieë vang!

Darius het egter van geen sout of water geweet nie.  Miskien het hy dit selfs verwelkom dat sy onderdane hom wou verheerlik.  Keisers en konings is dikwels as gode aanbid.   Dis waar die groet vandaan kom: Mag die koning vir ewig lewe!

Toe die konkelaars Daniël by Darius aankla, het hy te laat besef dat dit ʼn bose plan was.  Al was hy die koning, was hy magteloos.  Ja, Satan is genadeloos en het nie eens vir sy eie volgelinge tyd nie!    Darius kon die nuwe wet, al was dit net vir 30 dae van krag, nie tersyde laat stel nie.  Dit kon tot ʼn paleisopstand  lei en selfs sy lewe kos!  Gevolglik moes hy maar die handdoek ingooi.

Darius het egter geweet dat Daniël getrou tot God gebid het want toe hy die leeukuil persoonlik verseël, sê hy vir Daniël: “Mag jou God, wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos!” (:17).

Daniël se lewe het Darius mateloos beïndruk.   Gelowiges val nie slegs die oog van goeie mense op nie, maar ook dié van ongelowiges.   Darius het besef dat daar iets baie sterk in Daniël se lewe was wat hom nie eens in die aangesig van die dood van sy geloof laat afsien het nie.   Hierdie man se sterk optrede was in ʼn vaste geloof in die lewende God ingebed.

Darius het ook die leegheid van sy eie bestaan besef.   Hy wat deur sy volk aanbid is, was magteloos om een enkele lewe te red.   Hy het seker ook besef dat sy eie kortsigtigheid en ydelheid indirek tot Daniël se dood sou lei.  Geen wonder dat hy daardie nag nie kon slaap nie!

Kom ons bekyk egter die saak van Daniël se kant af.   Hy was ʼn Joodse balling in ʼn vreemde land sonder om vir een sekonde van sy geestelike gemeenskap met God afstand te doen.  Daarbenewens was hy ʼn begaafde man wat onder baie moeilike omstandighede gewerk en God onverpoosd verheerlik het.

Satan het lank aan hierdie plan gewerk om van Daniël ontslae te raak.  Alles was in plek, veral die mense wat hy wou gebruik.   Desondanks het Daniël aan die geloof vasgehou soos ʼn drenkeling aan ʼn plank.  Sy geloofsbeginsels het nie net van ʼn liefde vir God getuig toe die son in sy lewe geskyn het nie, maar ook ʼn vaste vertroue toe dit bitter donker om hom geword het.    Daarom het hy in sy uur van nood nie paniekerig geword nie.  Hy het geweet aan Wie hy hom toevertrou het.

Vroeg daardie volgende oggend is Darius haastig na die leeukuil.  Waarskynlik het die konkelaars hom daarheen vergesel omdat dit ook vir hulle ʼn oomblik van spanning was.  Sê nou net dinge het nie uitgewerk soos wat hulle beplan het nie?  Wat sou van hulle word?   Dan roep Darius: “Daniël, was die God wat jy vereer, in staat om jou te verlos?” Dan kom die antwoord helder en duidelik: ” Ja, Hy het!”

God het Daniël bewaar deur ʼn engel te stuur wat die leeus verbied het om hom enige leed aan te doen.   Die oordeel was God s’n.  Waar daar dood moes wees, het Hy vir Daniël die lewe gegee.   Laat ons egter vir Daniël dié krediet gee: sy geloof was groter as sy vrese.   Toe hierdie doodse vrees aan die deur van sy lewe kom klop het geloof geantwoord: “Daniël is nie tuis nie!”

Toe dit vir die konkelaars gelyk het asof Daniël se son vir goed onder gegaan het, het God dit in sy genade laat verrys.   Ja, Daniël was soos ʼn teesakkie – sy krag het in warmwater van die lewe na vore gekom!

Die verhaal eindig egter nie hier nie.  Die konkelaars het in hul eie strik getrap!  Die feit dat Daniël geleef het, het nie net sy onskuld bewys nie, maar ter selfde tyd ook die konkelaars se bose plan aan die lig gebring.  Hulle val toe self in die gat wat hulle vir Daniël gegrawe het, geval – leeukos!

Daardie dag het daar nie net in Daniël se lewe iets groot gebeur nie, ook in die koning se lewe.   Toe Darius die wonder in die leeukuil aanskou, het hy tot inkeer gekom.   Hy het besef dat Daniël ʼn God aanbid wat tussen reg en onreg onderskei en hierdie reg selfs teen die strengste wet handhaaf.

God het oorgenoeg genade vir sy kinders.  Hy tree self tot gelowiges se stryd toe.   Hy gee die oorwinning; iets wat die heidene nie geken het nie.   Ja, sonder geloof is niks moontlik nie, maar met geloof niks onmoontlik nie!

Die lewe is vol beproewing.  Gelowiges ontvang egter soos Daniël geesteskrag om  staande te bly.   Net soos met ʼn Darius van ouds gebeur het beskik God dat mense deur ons voorbeeld tot bekering kom.   Maar wees gewaarsku: Hy vernietig egter ook diegene wat sy wil teenstaan!

Mag die verhaal van Daniël ons aanspoor om aan te hou glo en te bid al gaan dit swaar en al kan ons nie God se wil verstaan nie.  Wie weet, miskien gebruik God ons geloofsvolharding om ander tot bekering te bring!   Wat ʼn nood het die wêreld nie aan gelowiges wat aanhou om gelowig te leef  nie; mense wat, soos Daniël, sonder God geen treë wil gee nie, maar met Hom tot aan die uithoeke van die aarde die dood tegemoet sal loop!

As die pad voor jou toe gaan, stap dan in die geloof en nie op sig nie.  Moenie vergeet dat die God wat Daniël se lewe beheer het, ook jou lewe beheer nie.   God was saam met Daniël in daardie put van die dood.  Gelowiges het geen beproewing waarvan Hy nie weet nie.

Amen!