Ds Andrè van den Berg
“Moenie wat heilig is aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie” - Mt.7:6
Die Skrifgedeelte begin met ʼn waarskuwing: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie”. Mense is geneig om vinnig te oordeel en stadig te dink in plaas van net anders om. Adam se veroordeling van Eva nadat hy van die verbode vrug geëet het, is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Het hy dan niks van die vrugteverbod geweet nie?
ʼn Mens mag nie veroordeel nie, maar slegs beoordeel. Dit moet ook net aan die hand van God se Woord geskied. Gelei deur sy Woord en met die hulp van die Heilige Gees help God gelowiges om tussen reg en verkeerd te onderskei. En om dit te doen, oefen die mens sekere voorkeure ter wille van sy eie behoud uit.
Die anglisisme vir die uitoefen van voorkeure is meer bekend – diskriminasie. Mense hou nie van dié woord nie omdat die liberale media, verraderlike politici en ontspoorde kerklui dit met allerlei negatiewe inhoude gelaai het om na ʼn onvergeeflike sonde te laat klink.
In werklikheid beteken diskriminasie niks anders as om voorkeure uit te oefen nie. As dit om my geestelike welstand en gesonde volkswaardes gaan, vind ek niks in die Bybel wat gesonde voorkeure verbied nie!
In Mt.7:6 bring Jesus vier dinge onder ons aandag - dinge wat heilig is, pêrels, honde en varke. Die eerste twee is nie moeilik om te verstaan nie. Dit gaan hier oor die skat van die Evangelie nl. redding. Gelowiges moet baie versigtig met dinge van ewigheidswaarde omgaan omdat dit van God kom. Dis nie vir almal bedoel nie. Jesus sê bv. vir die Kananese vrou: “Dit is nie mooi om die brood van die kindertjies te neem en vir die hondjies te gooi nie” (Mt.15:26).
Daar is mense wat aan God se verbond deel het en ander nie. Jesus vra in die teksvers dat ons versigtig moet wees om God se genade nie goedkoop te maak nie. Dis heilig en moet as sulks so behandel word.
Gevolglik moet gelowiges nie hul krag en tyd op nuttelose sake mors nie. Wie nie uitverkies is nie, sal nooit tot bekering kom nie! In 1 Sam.25 sê Abigail vir Dawid dat hy sy asem sal mors om met haar man Nabal, te praat. Luister wat sê Jesus vir sy dissipels op hul eerste sendingtog: “En as julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En as iemand julle nie ontvang nie, en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af” (Mt.10:12-14). Jesus het nooit die Evangelie aan mense opgedring nie. Die kerk soek by niemand witvoetjie nie.
Een van die grootste probleme vandag is dat kerke te gebruikersvriendelik geword het. Die Bybel leer ons dat die wêreld by die kerk aanpas en nie die kerk by die wêreld nie!
By geleentheid is Jeremia baie radeloos oor die verval van die kerk. Niemand luister meer na die stem van God nie. Niemand ag dit wat heilig is van waarde nie. Moet jy nie maar saam met die vloei beweeg nie? Dan sê God: “Laat hulle na jou terugkeer, maar jy moenie na hulle terugkeer nie” (Jer.15:19).
Die Evangelie wat ek verkondig, is ʼn waardige evangelie. Daar was al verskeie pogings om hierdie goddelike standaard na die wêreld toe af te wentel. Ek het dit telkens teengestaan en sal tot en met my afskeidspreek daarmee volhard!
Oral waar God se standaard verlaag word, beland die pêrels voor die varke. In plaas daarvan dat die kerk die wêreld inbeweeg, gaan die wêreld die kerk binne. Dit lei tot vervlakking. Kerke word ʼn kilometer breed, maar bly net ʼn sentimeter diep!
God is heilig; so ook alles wat aan Hom behoort. Heilig beteken opsy sit of afsonder – m.a.w. iets wat nie soos die wêreld lyk nie. Let ʼn bietjie op God se heiligheid.
- Niemand vergelyk met Hom nie; nie Allah, Boeddha of een van die agt miljoen Hindoe-afgode nie.
- God se Woord (Bybel) is heilig. Niks vergelyk daarmee nie, nie die Koran, Vedas of Roomse tradisies nie.
- God se huis is heilig. Dis nie ʼn jollie bymekaarkomplek, klub of uithangplek nie, maar iets geheel anders; afgesonderd en heilig.
- Ook die liedere wat ons in die kerk sing, getuig van God se heiligheid. Dis nie melodieë waarop gedans of jolyt gevier kan word nie. Dis afgesonderd en heilig. Alles in die AP Kerk se erediens getuig van eerbied vir God se heiligheid.
Die Christelike kerk het ʼn ernstige probleem wat na kerke met ʼn Gereformeerde belydenis uitkring – die ontheiliging van dit wat heilig behoort te wees. Die sieklike gedweep met dit wat onpeilbaar diep behoort te wees, krap gelowiges om. Die universele broederskap van liefde word oral uitbasuin met plakkate met Jesus loves you. Die Christendom het vlak en heiligheid goedkoop geword!
Nêrens sê die Bybel dat God alle mense ongekwalifiseerd liefhet nie. Selfs nie eens Joh.3:16 nie. God se liefde is vir sy kinders – hulle wat uitverkies is en die wedergeboorte gesmaak het. “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Almal hoor die Evangelie, maar reageer nie eenders op die uitnodiging nie. In die tyd van Christus het baie mense na Hom gekom en gelowig geword het selfs uit die laagste samelewingsordes - tollenaars, straatvroue en misdadigers.
In Mt.7:6 waarsku Jesus gelowiges om versigtig met hul ywer vir die Evangelie te wees. Kinders van die Here hardloop nie sommer halsoorkop in ʼn saak in nie. Toe Jesus sy dissipels op hul eerste Sendingtog stuur, sê Hy: “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe”(Mt.16:10). Werk versigtig met dit wat heilig is!
Die Bybel is ʼn waardevolle skat. Dis nie ʼn boek met towerresepte wat rondge-strooi kan word en wonders geskied nie. Dit moet biddend bestudeer en met groot eerbied hanteer word, veral deur leraars wat die verantwoordelikheid het om vir gemeentes te sê: “So spreek die Here!”
Al is leraars ook maar net feilbare mense, gebruik God hulle nogtans om verlore sondaars tot die bekering te lei. Paulus skryf: “...dit het God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo te red” (1 Kor.1:21). Miljoene mense het al deur prediking tot bekering gekom. Gevolglik moet daar leraars wees. Luister wat sê die Ethiopiese dienaar vir Filippus: “Hoe kan ek tog verstaan as niemand my die weg wys nie?’ (Hand.8:31).
Paulus was ʼn befaamde prediker. In sy brief aan die Romeine benadruk hy die belangrikheid van die amp van leraar: “Hoe kan hulle hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? “ (Rom.10:24,25).
Vir gelowiges is daar geen belangriker boek as die Bybel nie. Voordat daar drukperse was, is dit met die hand oorgeskryf en gevolglik bitter duur. Vandag is daar in elke huis een of meer Bybels en relatief baie goedkoop. Gelowiges het die dure verpligting om dit met eerbied en ontsag te hanteer. Onthou: Dis nie vir almal bedoel nie, maar slegs vir die dorstige en hongerige. Moet nooit dit wat vir God heilig is, goedkoop maak nie. Het honde eerbied vir dit wat heilig is of varke vir pêrels? vra Jesus in ons teksvers. Net so min voel die ongelowiges iets vir die dinge van God.
In ons teksvers vra Jesus eerbied vir dit wat heilig is. Dit kan ons alleen doen indien ons self heilig/afgesonderd vir God leef. Laat dit ons roeping onder hierdie verdraaide geslag van volksgenote wees!
Amen!.