Ds Andrè van den Berg
Ons leef in ‘n wêreld met baie probleme. Die meeste daarvan is verhoudingsprobleme wat ontstaan omdat mense verkeerd teenoor mekaar optree. Die grootste daarvan is verbrokkelende gesinslewe. En ek praat nie van familietwiste en egskeidings nie, maar van die verwaarlosing van kinderopvoeding – dan gee 'n volk se ruggraat in.
Die huisgesin is die kleinste sosiale kring met die grootste uitwerking op die samelewing. As dinge hier skeefloop, kring dit na al die ander lewensinstansies uit: die skool, kerk en gemeenskap.
‘n Mens sien dikwels op TV hoe advertensies in trurat afspeel. Dit begin bv. by ‘n varsgebakte koek wat voorgesit word. Dan begin die advertensie agteruitbeweeg om by die eintlike geheim van die lekker koek uit te kom totdat dit eindig met die vrou wat ‘n sekere soort koekmeel, bakpoeier of botter gebruik. Wat die adverteerders daarmee wil sê, is dat die sukses van die koek aan daardie spesifieke bestanddeel te danke is.
Kom ons volg dieselfde patroon met kinderopvoeding en begin by die professor wat kla dat ‘n sekere student hom swak gedra en sy hoërskoolonderwysers blameer wat hom nie reg geleer het nie. Sy hoërskoolonderwysers het ook hulle hande met hom vol gehad. Hulle blameer weer die laerskoolonderwysers dat hulle so ‘n onvoorbereide kind hoërskool toe gestuur het. Sy laerskoolonderwysers het egter net soveel moeilikheid met hom gehad en sy ouers daarvoor blameer. Sy ouers was laaste in die ry en kon niemand kry om vir sy swak gedrag te blameer nie, want hy was die produk van ‘n verkeerde kinderopvoeding.
Baie jare gelede is Rodney Axe in Kaapstad aan moord skuldig bevind en ter dood veroordeel. Hy was slegs 19 jaar oud. Met die vonnisoplegging het die regter vir Rodney se pa gesê: “Ek moes jóu eerder vandag ter dood veroordeel het!”. Rodney Axe was die produk van ‘n mislukte kinderopvoeding.
Die groot Engelse prediker, Charles Spurgeon, het by geleentheid gesê: “Ek pleit dat julle so sal leef dat as julle miskien eendag by die graf van een van julle kinders moet staan, daar nie ‘n stem uit die graf sal kom wat sal sê: ‘Pa, jou nalatigheid was my ondergang', of: 'Ma, jou biddeloosheid was die rede vir my verdoemenis nie’ ”.
Aan die ander kant is dit wonderlik indien kinders kan terugkyk op ouers se voorbeeldige lewens en die betekenisvolle invloed wat hulle op hul kinders se lewens gehad het. Ongelukkig is daar ook gevalle waar ‘n kind moes terugkyk en sê:“Dankie, Here, dat U my van die bose invloed verlos het waaraan ek as kind in my ouerhuis onderwerp was! "
Dis belangrik dat ouers hulle kinders van jongs af leer om die regte lewenspad te volg. Wat egter belangriker is, is dat hulle self hierdie pad moet loop! ‘n Mens hoor so dikwels ‘n pa vir ‘n kind sê: “Moenie maak soos wat ek maak nie; maak soos ek sê”, en almal lag oor so ‘n misplaaste kwinkslag, as ‘n mens dwaasheid enigsins so kan noem. Ek wil vir so ‘n pa sê: Jou dwaas! Daar is niks om oor te lag nie. Mag die Here gee dat jy nie eendag oor jou kind se mislukking gaan huil nie! Ouers, moenie julle kinders vertel watter pad om te volg nie, wys eerder vir hulle deur voor te stap.
Ouers kla dikwels dat hulle kinderprobleme het. Meestal is dit egter andersom: kinders het ouerprobleme! Geen gevaar bedreig kinderopvoeding soos ouers wat slegte voorbeelde stel nie. ‘n Ouer wat goeie raad wil gee, maar slegte voorbeelde stel is soos ‘n swendelaar wat ‘n lesing oor eerlikheid wil hou. Verkeerde voorbeelde verwar kinders. Ouers raak kwaad as kinders die huishoudelike toerusting skraap. Maar wat van die skrape en diep wonde wat hulle nie met hul swak voorbeelde op hul kinders laat nie?
Hoe kan kinders goeie menseverhoudings aanleer as hulle dit nêrens sien nie? Hoe kan hulle leer om met mekaar as gesinslede oor die weg te kom indien ouers mekaar gedurig in die hare vlieg en selfs ten aanhoor van hul kinders vloek?
Daar is ongelukkig by baie ouers ‘n wanbegrip oor wat ouerskap beteken. Baie meen dat dit beteken om kinders te hê. Nee, dis net so onsinnig as om te glo dat jy ‘n pianis is indien jy ‘n klavier besit. Net soos wat dit vir ‘n pianis oefening en nogmaals oefening verg ten einde bedrewe te raak, gaan dit ook baie oefening kos om die kuns van suksesvolle ouerskap te bemeester.
Daar is ongelukkig geen plaasvervanger vir of kort paadjies na suksesvolle ouerskap nie. Dit verg inspanning, geduld en baie kniewerk. Ouers op hul knieë se kinders struikel nie! Die invloed van ouers op hulle kinders is baie sterker as dié van predikante, onderwysers of wie ook al. Mislukte ouerskap baar ellende; suksesvolle ouerskap baar lewensgeluk.
Hoe kan ons gelukkig leef?
Almal hunker na geluk. Al wat ons begeer, is ‘n gelukkige aardse lewe. Een van die grootste misgissings is dat geluk in die bymekaarmaak van aardse goedere lê. Dis ‘n leuen!
Neem vir Christina Onassis wat in 1988 op 37 jarige leeftyd oorlede is en meer as $15 biljoen nagelaat het. En sy was sielsongelukkig. Sy het dit self erken. Nee, stoflike dinge bring nie ware geluk nie. Die dinge wat egte geluk bring, is juis dinge wat nie met geld gekoop word nie. Ons kan nie almal ryk wees nie, maar, dank die Here, ons kan almal gelukkig wees.
Waaruit bestaan ware geluk?
Uit regte verhoudings. Eerstens met God en daarna met mekaar. Daar is ‘n Chinese spreekwoord wat lui: "‘n Gelukkige gesin is hemel op aarde”. ‘n Mens hoor altyd van 'die bose kringloop'. Daar is ook ‘n heilsame kringloop. As iemand se kinderjare gelukkig was, dra hy dit gewoonlik na sy eie huisgesin toe oor.
Die gesin is ‘n noodsaaklike instelling in ‘n samelewing want dit bring orde en geborgenheid waarsonder kinders nie gebalanseerd grootgemaak kan word nie. Kinders raak van vroeg af van hulle ouers se allesomvattende, beskermende en voedende krag bewus. Ouers is hulle kos, hulle liefde, hulle warmte, kortom: hulle hele wêreld. Dit anker hul lewe. As ons dus met ons kinderopvoeding misluk, maak niks wat ons verder doen eintlik meer saak nie.
Dis belangrik dat kinders presies weet wat liefde is. Ons leef in ‘n liefdelose samelewing wat wemel van skewe beelde van liefde. Daar is net een manier hoe ‘n kind van liefde kan leer - deur na sy ouers te kyk. Dr. Justin Green, ‘n psigiater, skryf dat hy in al die jare wat hy gepraktiseer het, nooit met ‘n kind te doene gekry het wat emosionele probleme ondervind het omdat sy ouers mekaar liefgehad het nie. Die teenoorgestelde het hy by die duisende gekry - kinders met sielkundige probleme omdat ouers nie vir mekaar lief was nie.
Ouers wat mekaar werklik liefhet en dit wys, se liefde vloei outomaties na hul kinders deur. Geen kind se persoonlikheid kan in ‘n onsekere atmosfeer normaal ontwikkel nie. As hy onseker is oor sy ouers se verhouding met mekaar, is hy onseker oor homself.
Gevolglik is die beste ding wat ‘n pa vir sy kinders kan doen, om hulle ma lief te hê. En die beste ding wat ‘n ma vir haar kinders kan doen, is om hulle pa lief te hê. Liefde vir mekaar is die grootste geskenk wat ouers aan hulle kinders kan gee. Deur hulle wedersydse liefde skep hulle ‘n angsvrye ruimte waarbinne hulle kinders tot volle lewensontplooiing kan kom. ‘n Kind wat nie uit ‘n liefdesgemeenskap kom nie, het ‘n knou weg.
Jou kind se jeugjare behoort vir hom vreugdejare te wees. Jy moet dit vir hom moontlik maak deur hom genoeg liefde te gee. Daar is min dinge wat ‘n kind meer skade berokken as ‘n liefdelose ouer. ‘n Rebelse kind is gewoonlik een wat voel dat sy ouers hom nie meer liefhet nie. Gee jou kind baie liefde. Liefde lei tot gehoorsaamheid – binne sowel as buite die gesin. Vul jou huis met liefde, dit kos jou niks nie. Opregte liefde skaad geen kind nie. Onderlinge liefde is die sement wat ‘n gesin bymekaar hou. Ouers hoef nie baie geld te hê om gelukkige kinders te hê nie. Ryk kinders sit dikwels op arm ouers se skote! Elke gram ouerliefde is meer as ‘n ton goud werd!
As ons ‘n eerlike voorbeeld stel, sal ons kinders eerlik wees. As ons hulle met liefde omvou, sal hulle liefdevol wees. As ons geduldig met hulle is, sal hulle ook met ander mense geduldig wees. As ons die lewe met ‘n lag tegemoetgaan, sal hulle ook ‘n sin vir humor hê. Entoesiastiese ouers kweek entoesiastiese kinders.
Die regte voorbeeld
Kinders luister miskien nie altyd so goed na hulle ouers nie. Maar hulle boots hulle baie goed na! Kinders is gebore na-apers. Daar is die bekende verhaal van ‘n man wat by ‘n krap kom en hom vra waarom hy so skeef loop, waarop die krap antwoord:“My pa loop skeef, my ma loop skeef; waarom sal ek nie ook skeef loop nie?” Ouers wat krom en skeef deur die lewe loop, se kinders loop gewoonlik dieselfde pad!
‘n Gelowige het eenkeer gesê: “My pa het my nooit vertel hoe om te lewe nie; hy het my toegelaat om na hom te kyk”. As jy nie ‘n goeie pa of ma gehad het nie, sorg dat jou kinders ‘n goeie een het!