Ds Andrè van den Berg
Wat is die oplossing? As ons die Bybel reg lees, kry ons die antwoord: “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11). Misdaad neem toe as ’n regering meer oor die regte van booswigte as oor dié van die slagoffer begaan is. Slagoffers is al selfs vervolg omdat hulle hul eiendom en lewens beskerm het! Heidenregerings tree dikwels vreemd op. Reg kan verkeerd wees en verkeerd reg!
Lees ook Ps.101
Sedert Suid-Afrika se Christelike grondwet met ’n wêreldse een vervang is, floreer Satan aan die suidpunt van Afrika. Misdaad het binne die eerste vyf jaar van sg. demokrasie met 770% gestyg. In hierdie tyd is meer as 40 nuwe soort misdade aangeteken. Terwyl miljoene onwettiges die land binnestroom, het nagenoeg ‘n miljoen blankes hulle weens werkdiskriminasie en eie veiligheid elders in die buiteland gaan vestig.
Misdaad is een van ons grootste probleme en raak almal. Ons het geen waarborg dat ons vanaand veilig by ons huise gaan kom nie. Baie van ons het al prooi van misdaad geword - kaping, moord, verkragting, motordiefstal, roof, bedrog ens. Misdaad het weens die onverskilligheid van politici en ontspoorde kerkleiers op ons drumpels beland!
Tydens sosiale geleenthede word daar dikwels stories uitgeruil oor mense wat deur misdaad geraak word en net-net aan die hand van booswigte ontkom het. Daar word gesê dat ons strate onveilig is. Die probleem is nie ons strate nie, maar die booswigte daarop wat nie na behoefte vasgevat word nie!
Politici en kerkleiers het ons destyds probeer paai en gesê dat dié verfoeilike situasie maar net die groeipyne van ‘n nuwe bedeling was wat gou sou verdwyn. Dit het nie. Na bykans 21 jaar het alles nog meer versleg en is die vlak van geweld volgens kenners die ergste ter wêreld benewens ʼn oorlogsgebied! Die situasie het al so versleg, dat die regering ‘n moratorium op misdaad-statistiek geplaas het – daar word nie die waarheid vertel oor wat werklik besig is om te gebeur nie; die publiek word geflous en gesus. Ons geliefde land het met iets anders as die nag donker geword!
Misdaad neem wêreldwyd toe. Amerikaanse statistiek toon dat besighede jaarliks $10 biljoen weens werknemer diefstal verloor. Meer as $4 biljoen per jaar word weens geldverduistering en $3 biljoen weens inbraak verloor. Daar word $2 biljoen aan winkeldiefstal en $1,3 biljoen aan brandstigting.
Misdaad is baie duur; wetsgehoorsames betaal daarvoor! Versekeringspremies skiet die hoogte in, winkels verhoog hul pryse om vir winkeldiefstal te vergoed, veiligheidspersoneel moet gehuur word ens. Alles kos geld wat indirek van die onskuldiges verhaal word. Misdaad besorg boosdoeners groot rykdom. Daar gaan feitlik nie ’n dag verby dat ’n hooggeplaaste regeringsamptenaar nie weens diefstal en/of korrupsie aangekeer word nie!
Wat veroorsaak misdaad? Geleerdes voer talle ingewikkelde redes daarvoor aan - allerlei ekonomiese en sosiale faktore. Wat is die oplossing? As ons die Bybel reg lees, kry ons die antwoord: “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11). Misdaad neem toe as ’n regering meer oor die regte van booswigte as oor dié van die slagoffer begaan is. Slagoffers is al selfs vervolg omdat hulle hul eiendom en lewens beskerm het! Heiden-regerings tree dikwels vreemd op. Reg kan verkeerd wees en verkeerd reg!
Wat is die doel van ’n burgerlike regering? “...want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede, maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen te straf” (Rom.13:4).
’n Regering wat nie wet en orde handhaaf en kwaaddoeners nie aan die pen laat ry nie, is ’n hindernis vir God en wetsgehoorsames. Ps.101 sê dat dit regerings se plig is om boosdoeners uit te roei en wetsgehoorsames te beskerm.
“Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here – of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goeddoen, te prys” (1 Pet.2:13,14). Omdat regerings namens God optree, moet hulle soos Hy optree. God straf die kwade en seën die goeie.
Wat dan van die doodstraf? Is dit reg of nie? Wie God se Woord gehoorsaam, twyfel nie aan die wenslikheid daarvan nie. God gee in die sesde gebod ’n duidelik opdrag wat uit ’n opdrag wat eeue voordat die Tien Gebooie gegee is, spruit: “Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak” (Gen.9:6). Wie moor, moet doodgemaak word omdat hy die beeld van God skend.
’n Regering wat God se Woord gehoorsaam en aan moordenaars die doodstraf oplê, maak dit vir wetsgehoorsames goed om in so ’n land te bly. So ’n regering staan nie skuldig aan die bloed van onskuldiges wat dalk mag vloei nie. Die teendeel is egter ook waar – as ’n regering nie doelgerig teen misdadigers optree nie, is hy aandadig aan die selfde misdaad (Deut.21:1-9).
Sedert die doodstraf in 1989 afgeskaf is, is baie meer 500,000 mense in ons land vermoor – ons hoor nie van almal nie want dit word doelbewus verswyg. Dit kom daarop neer dat as ’n regering nie aan booswigte die doodstraf oplê nie, dan lê booswigte dit aan wetsgehoorsames op! En wie veg vir die vermoordes se regte?
Elke beskaafde gemeenskap het die reg om hulle teen mense wat geen eerbied vir die lewe het nie, te beskerm. Deur ernstige misdaad met die dood te straf, is soos om ’n siek ledemaat af te sit ten einde die res van die liggaam te red. Moord is ernstig en vereis die doodstraf. Daardeur geskied reg en geregtigheid.
In die geval van ander misdaad soos diefstal, brandstigting, kwaadwillige saakbeskadiging ens. vereis die Bybel dat regstelling plaasvind. Dit beteken dat iets tot sy oorspronklike staat herstel word. Slagoffers van misdaad moet vergoed word. Wie skuld maak, is vir vereffening aanspreeklik (Ex.22:3-6).
Deut.19 sê ook dat die straf by die oortreding moet pas. ’n Regering wat God se wet toepas, het minder misdadigers, minder slagoffers en min las op die belastingbetaler. Deur na ’n Bybelse regstellingsproses terug te keer, verseker ’n regering dat misdaad nie lonend is nie!
Kom ons let op ’n paar praktiese Bybelse reëls wat ’n regering behoort te volg ten einde misdaad te bekamp.
Misdadigers moet volle verantwoordelikheid vir hul oortredings dra ongeag of dit onder invloed van drank of dwelms gepleeg is. Dit durf juis nie as versagtende omstandighede in aanmerking geneem word nie (Num.35:16-21).
Straf vir jeugdiges behoort presies dieselfde as vir volwassenes te wees. Wie volwasse oortredings begaan, moet volwasse straf ontvang. In Eseg.18 praat God met die profeet en sê vir hom dat as iemand ’n geweldenaar van ’n seun verwek wat hom aan volwasse oortreding skuldig maak, hy volwasse straf moet ontvang.
Daar behoort na Bybelse beginsels teruggekeer te word soos die doodstraf vir halsmisdade en die regstelling vir alle diefstal en die beskadiging van eiendom (Ex.21,22).
Aangesien die meeste halsmisdade met ongelisensieerde vuurwapens gepleeg word, durf wetsgehoorsame burgers nie gekortwiek te word om vuurwapenlisensies te bekom ten einde hulself te verdedig nie. “Indien ’n dief betrap word terwyl hy inbreek en hy word geslaan, sodat hy sterwe, sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie” (Ex.22:2).
Ons is daarvoor verantwoordelik om ons eie te beskerm. By geleentheid was Nehemia genoodsaak om sy volk wat besig was om die mure van Jerusalem te herbou teen die vyandige Samaritane te bewapen ”...Julle moenie bang wees vir hulle nie.; dink aan die grote en gedugtige Here en veg vir julle julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise” (Neh.4:14). Veg vir wat joune is! “Maar iemand wat vir sy eie mense en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige” (1 Tim.5:8).
Kom ons bid dat Suid-Afrika baie vinnig ’n regering kry wat vinnig en doeltreffend teen misdaad sal optree ten einde sy wetsgehoorsame burgers te beskerm. “O huis van Dawid! So spreek die Here: verskaf reg in die môre en red die beroofde uit die hand van die verdrukker, sodat my grimmigheid nie uitslaan en brand soos ’n vuur sonder dat iemand dit kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge” (Jer.21:12).