BAKPOEIERBLIKKIE- GELOOF

Ds Andrè van den Berg

“Die geloof dan is ʼn vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ʼn bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb.11:1).

Die mens is van nature verlore en sal eerder Satan as God volg. Daarom is sy natuurlike eindbestemming die hel. Jesus sê self: “ ... want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan” (Mt.7:13).   Nogtans wil niemand graag hel toe gaan nie. Hoe kan ʼn mens dit verhoed en jou ewige eindbestemming verander? Jy moet gered word. En dis iets wat jyself nie kan doen nie. As jy in diep water in die moeilikheid raak, kan jy jouself nie aan die hare beetkry en wal toe sleep nie. Iemand sal dit vir jou moet doen. En daardie Iemand is Jesus Christus. Daarvoor moet ons geloof hê.

Maar, wat is geloof?

Dis die hand uitsteek en die hand van Jesus aangryp wat verlossing bied. Geen mens is so verlore dat Jesus die desperate hand wat na Hom uitsteek, nie raaksien nie.   Dink aan die misdadiger langs Jesus wat met ʼn desperate hand en laaste asemteue sê: “Here, dink aan my” . Nog nooit het redding so ver gelyk; nog nooit was dit so naby nie! Jesus vat sy hand vas: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” Hoe wonderlik is redding nie – net ʼn hand na Jesus uitsteek en Hy gryp dit vas!

In die musiekblyspel Paint Your Wagon sing Lee Marvin: “I’m so lost not even God can find me”. Dis natuurlik ʼn leuen! In Jesus Christus red God tot die uiterste toe. As n ter dood veroordeelde genade kon vind, kan enigeen! In Hand.16 lees ons van die tronkbewaarder van Filippi wat bewend voor Paulus en Silas neerval en vra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hierdie harde, ongenaakbare man verkrummel voor God en word gered. Geen mens is so sleg dat God hom nie kan red nie!

Al wat ons benodig, is geloof, en dis ons kaartjie na die hemel. Dis soos ʼn treinreis. Die kondukteur vra jou kaartjie. Het jy dit, ry jy; het jy dit nie, bly jy!   Ons hemelse Kondukteur vra ook na ʼn kaartjie – die geloofskaartjie in Jesus. Daarmee gaan jy hemel toe. Daarsonder, hel toe.

Maar hoe lyk geloof? Dit word vertel van ʼn man wat in ʼn woestyn verdwaal. Sy water was op, tong geswel en lippe gebars. So strompel hy in die woestyn voort met aasvoëls wat bokant hom sweef. Dis net ʼn kwessie van tyd! Net voordat hy moed opgee en maar gaan lê, kom hy op ʼn verlate waterpomp af met ʼn bakpoeierblikkie met ʼn draad daaraan vasgebind en ʼn brief binne-in:

“Hierdie pomp is reg en werk goed. Ek het ʼn nuwe suigwaster ingesit wat jare lank sal hou. Die waster droog egter uit en die pomp moet van voor af gevoer word. Onder die wit rots hier links het ek ʼn bottel water in die koelte begrawe met die prop na bo. Daar is net genoeg water in die bottel om die pomp mee te voer. Maar nie as jy daarvan gaan drink nie!   Gooi ʼn kwart van die bottel water op die waster en laat dit vir ʼn minuut of twee week. Gooi daarna die res van die water in die pomp en pomp vir die vale.   Jy sal meer as genoeg water kry. Die boorgat het nog nooit droog geloop nie. Glo my net. As jy genoeg water gedrink het, maak die bottel vol water en begrawe dit vir die volgende reisiger onder die rots, prop na bo. Voorspoed!” Geteken: Woestyn Piet.

Wat sou jy doen as jy in daardie man se skoene was?

Hierdie verhaal bevat drie belangrike geloofselemente

(i) Die woestynreisiger moes iemand vertrou wat hy nog nooit gesien het nie; (ii) Hy moes waagmoed aan die dag lê;

(iii) en hy moes pomp vir die vale!

i.   Hy moes iemand vertrou wat hy nog nooit gesien het nie.

Hierdie woestynreisiger het Woestyn Piet nog nooit ontmoet of gesien nie. Die vraag was: Kon hy hom vertrou? Was hy nie dalk ʼn poetsbakker nie?   Was hy nie dalk iemand met ʼn makabere humorsin nie; ʼn besetene wat dit geniet het om iemand in die woestyn te sien sterf nie?   Al sekerheid wat die woestynreisiger gehad het, was die briefie in die bakpoeierblikkie.

Ons het Jesus ook nie gesien nie. Al wat ons het, is sy briefie – die Bybel. En op grond daarvan moet ons glo. Jesus sê vir Thomas: “Gelukkig is die wat nie gesien het nie en tog glo” (Joh.20:29). Geloof is om Jesus onvoorwaardelik op sy Woord te neem. Wat was Paulus se raad aan die tronkbewaarder? “Glo en jy sal gered word” Dis die enigste kaartjie!

Ons is almal reisigers in die woestyn van sonde. Daar is ʼn fontein van lewende water. Ons moet net glo dat hierdie fontein ons dors kan les. Jesus sê vir die Samaritaanse vrou: “ ... Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie” (Joh.4:13,14). Maar die mens doen dit nie. Hy wil soos Thomas eers sien en voel en wanneer hy dan met die lewende God gekonfronteer word, dan sak hy skaam op sy knieë en sê: “My Here en my God!”

ii Hy moes waagmoed aan die dag lê

Daardie woestynreisiger moes die enigste bottel water waag! Sê maar nou net die pomp werk nie?! Kon hy dit wat tussen hom en ʼn gewisse dood gestaan het, waag? Moes hy nie maar die bottel water drink en hoop en bid vir die beste nie?   Ja, ʼn mens se lewe is vir hom kosbaar.   Vertrou jy Jesus daarmee?

Jare gelede stap die Franse staaldraadloper Blandon met sy broer op sy rug oor die Niagra-waterval.   Toe ʼn verslaggewer hom vra waarom hy nie iemand anders op sy rug oordra nie, sê Blandon vir hom: “Kom, klim op my rug”. Toe hy sy oë uitvee, was die man skoonveld!  

Hy het geglo Blandon kon dit vir ander doen, maar nie vir hom nie.   Is dit nie maar ook ons probleem nie? Jesus kan ander mense red maar nie vir my nie.   Vir Jesus moet jy jou lewe waag; dis nou te sê as jy glo dat Hy werklik ʼn kragtige Verlosser is. Ja, waagmoed vereis ʼn lewende geloof!

iii.   Hy moes gewillig wees om te pomp vir die vale

Indien daardie woestynreisiger nie ywerig gepomp het nie, het hy van dors omgekom. Dit beteken egter nie dat ons vir ons saligheid kan werk nie. Om dit anders te siel – ons kan nie ʼn plek in die hemel verdien nie.   Jesus het reeds alles gedoen wat vir ons redding nodig is. Ongelukkig kom baie mense nie verder as dit nie. Hulle is passief terwyl die Bybel sê dat ons die heiligmaking moet najaag.   Wat is heiligmaking? Geloof met opgerolde moue.

Meer as ʼn eeu gelede beland die prediker DL Moody op ʼn skip waarop ʼn brand ontstaan het. Die passasiers het ʼn ketting gevorm en emmers water aangegee om die brand te blus. ʼn Vrome man vra hom toe: “Sal dit nie eerder beter wees om te bid nie?” waarop Moody hom antwoord: “Bly maar net in die tou en bid terwyl jy emmers aangee”. Geloof versit berge. En waar dit nie kan nie, grawe dit ʼn tonnel dwarsdeur!

In Heb.11 word Abraham die vader van gelowiges genoem omdat hy ʼn onwrikbare geloof in God gehad het. Hy het die bekende vir die onbekende verlaat. Toe God hom geroep het om Ur te verlaat, het hy sy lewe, familie en alles wat vir hom kosbaar was op die spel geplaas om God se wil te doen. Hy was selfs bereid om Isak, sy enigste seun, nie te spaar nie maar hom op die berg Moria vir God te offer. En hy sou dit doen as God hom nie gestop het nie!

Miskien is jy ʼn swerwer in die woestyn van sonde; ʼn verlore seun, baie ver van jou hemelse vaderhuis en jy smag na die water van die lewe. Maar, terug by die verhaal van die woestynreisiger. Wat het toe van hom geword? Hy het die water gewaag soos Woestyn Piet vir hom geskryf het en al die water gekry wat hy nodig gehad het. Dit het vir hom nuwe lewe beteken, want hy was so goed as dood. En sy redding? Hy het iemand vertrou wat hy nog nooit gesien het nie, waagmoed aan die dag gelê en gepomp vir die vale! Dis die drie komponente van geloof.

Wat van jou? Is jy gewillig om dieselfde te doen – ʼn bakpoeierblikkie-geloof te hê? Dis al wat tussen jou en ʼn gewisse sonde woestyndood staan. Moenie dom wees nie!