KAN GELOWIGES VERLORE GAAN?

Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het en die goeie Woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het – om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

(Hebr 6:4-6)

Dit gaan hier oor die vraag of God die werk van genade wat Hy in ‘n mens se lewe begin het, ook voortsit en voleindig,  en of Hy die bose sal toelaat om dit weer te vernietig.  Die antwoord daarop is JA, Hy sal dit volbring, want in die Skrif is daar geen twyfel oor nie:  En Ek gee hulle (my skape) die ewige lewe en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie en niemand sal hulle uit my hand ruk nie, het die Here Jesus immers self in Joh. 10 : 28 gesê.  Hoe swak ons ook al in ons self is, ons word tot saligheid deir die krag van God bewaar.

Die mense waarvan in Hebr 6 gepraat word, het eenmaal die Heilige Gees deelagtig geword en toe die goeie  woord van God gesmaak en baie goeie dinge deelagtig geword, maar  vir hulle ewige lewe het dit niks beteken nie, want daar was geen wedergeboorte en geloof nie.  By die ware gelowige kom dit immers op wedergeboorte en geloof, op skuldbesef en bekering aan.

In die Christen se lewe kan daar baie teenslae na liggaam en gees hom tref, soos siektetoestande en ander verdrukkinge, maar daar is ook  die gerustheid dat almal wat uit die geloof geregverdig is, vrede by God het.  Ons word daarvan verseker deur die veiligheid van Christus se werk en deur die Vader se onveranderlike trou.  Dit is die lewende hoop wat nie beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is, sê Romeine 5 : 5.

Hebreërs 6: 4-6 het betrekking op die afval van daardie Hebreërs wat tussen die kerk van die Nuwe Testament en die sinagoge van die Ou Testament wyfel.  Hulle het die Heiland volkome verwerp en kruisig Hom as Seun van God weer ‘n keer en stel Hom bloot aan die spot en smaad van die wêreld. Sulke afval en verwerping van God se soekende liefde, sluit die moontlikheid van berou heeltemal uit.  In Matt 10 : 33 is die Here Jesus se ontsettende uitspraak oor hulle:  Elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.

 

Hemelse Vader, baie dankie vir u onfeilbare Woord in 1 Joh. 5 : 12 :

 

Hy wat die Seun het, het die lewe.