Red die gesinslewe en red die volk
Ds Andrè van den Berg
1. Vertwyfeling
Suid-Afrika is tans besig om met iets anders as die nag donker te word. Eerbare burgers swem soos drenkelinge teen ʼn magtige stroom van agteruitgang en onreg sonder om land te sien. Terwyl onregsdienaars die soustrein ry, bevind veronregtes hulle op ʼn ander trein in ʼn stikdonker tonnel. Baie van hulle het al afgespring en hul in die buiteland gaan vestig.
Volkswanhoop is niks nuuts nie. Juda het ook by geleentheid so gevoel totdat God vir hulle ʼn ommekeer laat verwerklik het:
“Vir ʼn doringboom sal ʼn sipres opgaan; vir ʼn distel sal ʼn mirteboom opgaan....” (Jes.55:13).
Omdat God se genade altyd helderder as sy oordeel skitter, kan Hy ook die Boerevolk se ellendevaart omkeer. Alvorens dit gebeur, sal daar eers twee dinge moet plaasvind. Hulle sal eerstens berouvol na God en sy Woord moet teruggekeer en tweedens hul verbrokkelde gesinslewe herstel omdat ʼn volk se krag baie sterk van die gehalte van sy gesinsleweafhang.
2. God se gawe
Kinders is een van God se grootste gawes aan die mens en om hulle tot sy eer en in diens aan die gemeenskap op te voed, verg ernstige toewyding:
“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie”(Spr.22:6).
Kinders isdie lewende boodskappe wat ouers die toekoms instuur vir ʼn tyd wat hulle self nie sal beleef nie. Hulle is soos Moses wat Israel tot by die beloofde land gelei, maar self nie ingegaan het nie. So neem ouers ook sorg vir ʼn wêreld wat hulle self nie sal sien nie.
Een van die vreugdevolste lewenservarings is om gelukkige kinderjare te hê. Dis net moontlik indien kinderopvoeding slaag. Kinders moenie grootgemaak word om te presteer nie, maar om geestelik volwasse te word. As dit ontbreek, kom hul lewe dikwels op losse skroewe te staan.
Dinge wat in die ouerhuis skeefloop, word nie daarbuite reggestel nie en het ʼn rimpeleffek op die skool, kerk en plaaslike gemeenskap. Dis soos ʼn bondel stokke wat saamgebind is. As een aan die brand gesteek word, brand die ander ook. ʼn Geheel is altyd groter as die somtotaal van sy onderdele.
Ongelukkig sien ouers net die splinter in die oë van ander mense se kinderopvoeding raak, maar nie die balk in hul eie oog nie. Hulle is vinnig soos arende om ander se foute raak te sien, maar blind soos molle vir hul eie.Wie met vuil hande vingers wys, is vermetel!
3. God se ooreenkoms
Kinders is die enigste aardse besittings wat ouers eendag saam met hulle in die hemel kan hê en geestelike kinderopvoeding ʼn voorbereiding daarop. Die regte opvoeding is vir God so belangrik, dat Hy ouers met duidelike riglyne in Sy Woord help om vir hul kinders padwysers na die hemel te wees.
Hy het eeue gelede ʼn ooreenkoms met Abraham gesluit (Gen.17). God sou besondere guns aan Abraham se nageslag bewys indien hulle Hom as die enigste ware God sou vereer. God wou hê dat Israel vir Hom ʼn lewende advertensie onder die heidenvolke moes wees. Heidene moes weet dat Hy die enigste ware God is en hul afgode nietigheid.
Om Israel aan hierdie ooreenkoms te hou, het God sekere bindende opdragte gegee. Ouers moes hul kinders van vroegs af van die Verbond leer en toesien dat dit gehoorsaam word. Dis een van die belangrikste leerstellings in die ganse Bybel omdat dit die hart en siel van die pad is wat alle gelowiges met God moet loop. Die Verbond is die murg in die skelet van die Skrif.
Tydens ʼn volksverval daag Josua sy volk uit om ʼn duidelike keuse te maak:
“... kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien” (Jos.24:15) .
Dis die taal van ʼn gesinshoof wat nie geskroom het om te doen wat God van hom verwag het nie. Wat ʼn nood het Suid-Afrika nie aan gelowige huisgesinne wat aanhou om gelowig te leef nie al is dit nag in die land!
Ongelukkig voed baie volsgenote hul kinders presies die teenoorgestelde op as wat God se Woord leer. Hulle vergeet dat kinders ook met ʼn begeerte na sonde gebore word en indien hulle self hul lewenspad kon loop, hulle die verkeerde een sou loop. Daarom moet verbondsouers groot verantwoordelikheid neem om hul kinders op die pad wat God behaag, te laat loop.
“As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder” (Spr.22:15). “Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ʼn seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande” (Spr.22:15).
ʼn Mens se hart is soos die grond waarop hy loop. As dit alleen gelaat word, groei onkruid daarop. Maar as dit bewerk word, lewer dit vrug op. Daarom mag verbondsouers hul kinders nooit aan hul eie wil oorlaat nie, want dan neem die onkruid oor. Ouers moet vir kinders dink en hul taktvol help om sinvolle besluite te neem.
4. ʼn Eiesoortige verhouding
Die Bybel beklemtoon die belangrikheid van die vader as hoof van sy gesin baie sterk. Hy het ʼn groot verbondsverantwoordelikheid:
“Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deut.6:4-7)
Die Verbond is ʼn eiesoortige verhouding soos dié van ʼn man teenoor sy vrou of ʼn vader met sy kinders. Ouers se erns met hul doopbelofte maak van kinders òf kinders van die Here wat in God se koninkryk skitter òf kinders van Satan wat maklik ontspoor.
5. Sieleheil
Omdat Jesus die Satan aan die kruis oorwin het, soek Satan siele as troosprys; veral kindersiele. Soos wat die liggaam voedsel benodig om te groei, benodig die siel geestelike voedsel.
“En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie”(Joh.6:35).
Gelowige gesinne huisves skoon siele in ʼn besmette wêreld. Ongelowige huishoudings daarenteen is ʼn kweekhuis vir slim duiwels!
Mense wat in die lewe verkeerd loop, is gewoonlik nie so gebore nie maar eerder so gekweek. Daarom moet ouers baie erns met kinderopvoeding maak.
“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spr.22:6).
Dis ʼn langsame proses. God gee egter nooit ʼn opdrag sonder die nodige genade om dit mee uit te voer nie.
Ouers moet egter baie seker maak dat hul kinders se siele gered is. ʼn Siel is kosbaarder as enigiets anders op aarde want dis die deel van ʼn mens wat nooit sterf nie. Daarom moet gelowiges na ewigheidswaardes streef.
“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mt.6:19-21).
Ouers mag nie onverskillig teenoor hul kinders se siele staan en verkeerde dinge oorsien nie. Soos wat ʼn sandkorrel nooit te klein kan wees om ʼn horlosie te beskadig nie, is geen sonde te klein om ʼn siel te skaad nie. Onverskilligheid is een van die groot redes van mislukte kinderopvoeding en skadeliker as gebrekkige kennis. Haat en liefde is nie eens daarteen bestand nie en maak dat ouers soos slagters hul kinders na die slagpale van die ewigheid stuur!
“En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My;maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see” (Mt. 18:5,6).
Geen ouer toring egter so bo ander uit soos die een wat kniel om sy kind te help om Jesus as sy Verlosser te vind nie.
6. Karakter
ʼn Gelukkige gesin is soos ʼn orkes wat goed saam speel. Dit voed kinders se karakter. Sulke gesinne word aan wyse beplanning, doeltreffende optrede en liefdevolle toewyding gekenmerk. Swak gesinsverhoudings daarenteen skaad kinders se karakter en is die bron van talle sorge.
Karaktervorming begin by die ouerhuis en groei net soos borduurwerk stekie vir stekie. Die ouerhuis is die smidswinkel waar lewenswaardes op die aambeeld van die lewe gevorm word. Kinders wat hier niks leer nie, leer nêrens anders lewenswaardes nie.
Deur aan ʼn erdepot te tik, hoor ʼn mens of dit gekraak of heel is. Net so word mense aan die geluid wat hul kinders maak, geken. Ouers maak elke dag depositos in hul kinders se geheue-bank. Hulle is die handboek waaruit kinders leer hoe om te leef. Wie net wil raad gee en niks verder doen nie, is soos ʼn bouer wat net met die een hand bou. Wie goeie raad gee, maar ʼn slegte voorbeeld stel, bou met die een hand, maar breek met die ander een af. Ouers wat raad gee en goeie voorbeelde stel, bou met beide hande.
Kinders let baie fyn op en kyk wat ouers onder moeilike omstandighede doen. Hulle aap hulle na; nie noodwendig wat hulle sê nie, maar wat hulle doen. Daarom is gelowige ouers soos ʼn muntstuk uit die hemel waarop God se eie beeld afgedruk is. So ʼn kind sal God baie makliker as sy hemelse Vader aanneem omdat hy iets van Hom in sy eie vader raaksien.
Die gesin waaruit ʼn kind kom, bepaal grootliks die een wat hy self eendag gaan hê. Daarom moet ouers versigtig met hul woorde maar sterk in hul optrede wees en toesien dat goeie gesindhede gehandhaaf word. Dis een van die klein dingetjies in die lewe wat ʼn reuse verskil maak. Slegte gesindhede daarenteen is soos ʼn pap wiel wat niemand verder neem alvorens dit omgeruil is nie.
ʼn Kind se karakter word in sy eerste lewensjare gevorm. Hy is soos ʼn spons wat water opsuig en kry die kleur en geur van die lewe van sy ouers. Taal word bv. aan moederskoot geleer. So ook bepaalde leefwyses. Tyd leer egter hoeveel van die ouers se optrede na daardie eerste saad wat hul gesaai het teruggevoer kan word. Slegte saad lewer nooit ʼn goeie oes op nie en giftige water bronne ook nie helende stroompies nie.
7. Verantwoordelikheid
Kinders is God se eiendom. Ouers maak hulle namens Hom groot. Jakob was daarvan bewus:
“Daarna het hy sy oë opgeslaan en die vroue en kinders gesien en gesê: Wie het jy daar by jou? En hy antwoord: Die kinders wat God uit genade aan u dienaar geskenk het(Gen.33:5). Josef sê iets soortgelyks: “En Josef antwoord sy vader: Dit is my seuns wat God my gegee het. En hy sê: Bring hulle tog by my, dat ek hulle kan seën”(Gen.48:9
Abraham tree selfs vir Ismael, die stamvader van die Islamiete, in omdat dit sy kind was, al was dit by ʼn slavin:
“En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig” (Gen.17:18).
Manoag praat met ʼn engel oor Simson wat gebore sou word:
“As u woorde nou uitkom, wat moet die leefwyse en die werk van die seun wees?” (Rigt.13:12).
Job was baie besorg oor sy kinders se geesteslewe:
“En elke keer as die dae van die maaltye om was, het Job gestuur en hulle geheilig. Dan maak Job die môre vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van hulle; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën! So het Job altyd gedoen”(Job 1:5).
Al hierdie gevalle getuig van ouers wat kinders as genadegawes van God gesien en verantwoordelikheid vir hul geestelike opvoeding geneem het. ʼn Ouer wat sonskyn in sy kind se lewe bring, is God se medewerker en geseënd omdat uit die wortels van heilige pligsbesef altyd goeie vrugte groei.
Daar is egter ook uitsonderings waar die goddelike saad van godvresende ouers nie op vrugbare grond val nie. Rehobeam, die seun van Salomo, en Manasse, diè van Hiskia, is twee gevalle van kinders van gelowiges wat ontspoor het. Sulke kinders loop vir die res van hul lewe mank.
Geestelike kinderopvoeding verg opoffering en toewyding en is geensins maklik nie. Geen ouer kan egter môre se verantwoordelikheid ontduik deur vandag daarvan af weg te skram nie. Die pad van die minste weerstand het die meeste verloorders op en die gevolge is dikwels fataal.
Die trein van sukses daarenteen loop op die spoor van toegewyde opvoeding. So ʼn kind is dikwels die perd wat met ʼn koplengte wen. Daarom stap gelowige ouers gereeld ʼn tweede myl saam met hul kinders. Dis gelukkig ʼn pad sonder enige verkeersknope en smaak geen vrug lekkerder as die een waarvoor die verste gestap is nie.
8. Vertroue
Kinders moet ouers vertrou en aanvaar dat hulle raad beter is. Isak is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Op pad na die berg Moria het hy sy vader na die offerlam gevra maar geen duidelike antwoord verkry nie behalwe dat God sou voorsien. Isak het nie verder uitgevra nie en sy vader se woord vertrou.
Kinders wat ouers vertrou sukkel nie om God te vertrou of te gehoorsaam nie. Wie egter ongehoorsaam is en oneerbiedig teenoor ouers optree, gehoorsaam en eerbiedig niemand anders in die lewe nie. Wat in huishoudings skeef loop, word nie daarbuite reggestel nie.
Kinders moet van kleins af leer dat ongehoorsaamheid ellende baar. Die Bybel het talle voorbeelde hiervan. Eva het van die verbode vrug geëet omdat sy aan God se opdrag ongehoorsaam was en het die ganse mensdom in ellende gedompel. Noag se waarskuwings het op dowe ore geval waarna die mensdom op agt na, almal in die sondvloed omgekom het. Israel het 40 jaar lank in die woestyn geswerf omdat hulle aan God se opdrag ongehoorsaam was en die Jode Jesus laat kruisig omdat hulle nie na die profete se woorde wou luister nie.
Gehoorsaamheid is geloof in werking en ʼn toets vir dissipelskap. Jesus sê:
“Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel” (Joh.15:14).
Gehoorsaamheid baar seën soos Abraham se lofprysing van getuig:
“Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen; sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het” (Gen.18:19).
Josef se gehoorsaamheid aan sy vader is prysenswaardig:
“Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek! “ (Gen.37:13).
Lukas skryf dat selfs Jesus aan sy ouers onderdanig was (Luk.2:51).
Kerklike ampsbekleërs moet voorbeeldige kinders hê:
“ʼn Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig... een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou... Net so moet die diakens waardig wees ...en hulle kinders en eie huis goed regeer” (1 Tim.3:4,12).
Paulus skryf dat ʼn ongekende toename in ongehoorsaamheid die einde van die tyd gaan kenmerk:
“Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig” (2 Tim.3:2).
9. Geduld en liefde
Kinders wat ouers hoofbrekens besorg, is dikwels die produk van oorhaastige optredes. Goeie ouers is geduldige mense. Bome wat die stadigste groei, dra gewoonlik die beste vrugte. Liefde en geduld is die goue draad wat dwarsdeur geslaagde kinderopvoeding loop. Kinders is soos ʼn bottel met ʼn nou nek; as opvoeding nie stadig ingegooi word nie, gaan baie daarvan verlore. Daarom moet ouers dit wat hulle kan lostorring nie stukkend kap nie.
Die mens is van nature in opstand teen dwang; veral kinders. Daarom is dit altyd beter om te dring as om te dwing. Kinders is soos jong perde in die hand van ʼn hanteerder. Wie hulle reg hanteer, sal mettertyd toegelaat word om hulle sonder moeite te lei, maar wie hulle verkeerd hanteer, verloor hulle.
Daar is geen plaasvervangers vir minsaamheid en liefde in opvoeding nie. Dit bepaal ouers se grootheid; iets wat nie van kop tot tone gemeet word nie, maar om die hart. Daarom verkry die kleinste blyk van liefde dikwels die grootste plek in kinderharte. Ongenaakbaarheid daarenteen sluit hul harte toe en dis die egste tronk.
Luister hoe praat Saul met sy seun: “... Jou ontaarde, wederstrewige seun ...” (1 Sam.20:30).
Jonathan kon mos nie eerbied vir sy pa hê nie. Vandaar Paulus se opdrag:
“Vaders, moenie julle kinders terg sodat hulle nie moedeloos word nie” (Kol.3:21).
As ʼn hart verkeerd is, kan ʼn kop nooit reg wees nie.
Ouers moenie soos die volstruis wees waarvan Job skryf nie:
“Die vlerk van die volstruis klap vrolik. Is dit ’n sagaardige vleuel en veer? Want sy laat haar eiers op die grond lê en hou hulle warm op die grond; en vergeet dat ’n voet dit kan stukkend druk en die wilde diere van die veld dit kan vertrap. Hard behandel sy haar kleintjies asof dit nie hare is nie; is haar moeite tevergeefs — sy is nie bekommerd nie”(Job 39:16-19).
10. Dissipline
Mense is van nature meer toegeeflik teenoor hul eie kinders. Hulle durf egter nooit blind vir hul foute wees en wangedrag oor die hoof sien nie. Kinders wat gedurig onder die stamboom wil skuil, staan nooit hul plek in die lewe vol nie. Die gevaar is dat oorbeskerming maklik tot psigopatie lei.
Die Bybel eis van ouers om goeie dissipline te handhaaf:
“Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging (Spr.13:24).
“Tugtig jou seun, want daar is hoop....” (Spr.19:18).
“As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder” (Spr.22:15).
“Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red” (Spr.23:13,14).
“Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ’n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande......Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” (Spr.29:15,17).
Ouers wat kinders nie tug nie, doen hulle oneer aan. Menige opvoeding het hom al teen hierdie rots te pletter geloop. Om goeie heuning te verkry, moet die eienaar die korf nie beskadig nie want slegte voorbeelde word dikwels wrede waarskuwings soos met Eli die geval was (1 Sam.2).
Wie die deur vir klein booshede oopmaak, maak dit spoedig ook vir grotes oop. Dis soos ʼn klein vonkie wat ʼn groot brand kan laat ontstaan. Ouers wat bang is om hul voet neer te sit, het gewoonlik kinders wat op hul tone trap. Sulke mense wag gewoonlik dat die slang hulle pik voordat hulle dit wil vermorsel.
Wie Gods water oor Gods akker laat loop, ontduik hul verantwoordelikheid teenoor kinders maar ontkom nie aan die gevolge van hul onverskilligheid nie.
Hulle sit weldra aan die tafel van hul eie doen en late. Daarbenewens val niemand so hard soos hy wat oor sy nalatigheid struikel nie. Sulke mense word deur die stormwind van hul eie onverskilligheid weggewaai. Probleemouers kweek probleemkinders
Gevolglik durf ouers nie na kinders se pype dans nie. Hulle is daar om kinders op te voed en nie te vermaak nie en moet kinders nee kan sê. Om net te dreig maar nie op te tree nie, kweek deugniete en die geestespyn wat dit veroorsaak, is erger as die pik van ’n adder.
11. Die Bybel
Gelowige ouers se denke word altyd deur God se Woord gerig. Ongelukkig is baie mense se leefstyl van so ʼn aard dat hulle die Bybel nie gereeld lees of hul kinders aanmoedig om dit te doen nie. Gelowige ouers dra egter sorg dat hul kinders van kleins met die Bybel vertroud raak. Niemand kan egter kinders dwing om die Bybel lief te hê nie. Slegs die Heilige Gees gee dit in kinderharte.
Bybelstudie is die grondslag vir godvrugtige lewens. Wie daarin volhard, dwaal nie:
“Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie...” (Heb.13:9).
Satan is egter soos ʼn brullende leeu en hoe jonger die prooi, des te beter. Daarom gee Salomo aan jongmense raad:
“Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring. En weer verdriet uit jou hart, en hou die kwale weg van jou liggaam, want die jeug en die jonkheid is nietigheid. En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid....”(Pred.11:9-12:1).
Dis ouers se voorreg om hul kinders se gedagtes met die Bybel te vul. Hulle moet leer dat die Bybel in die geheel waar en deur die Heilige Gees geskryf is wat mense as instrumente gebruik het. Kinders moet van die oorsprong van sonde, die gevolge en vernietigende mag daarvan vertel word. So ook van Jesus se versoening aan die kruis en die werk van die Heilige Gees. Sulke kinders staan geestelik kop en skouers bo ander uit wat nie Bybel lees nie.
Geloof is ʼn hartstog vir die waarheid. Wie dit liefhet, kweek dit ook by hul kinders. Elke kind moet die kaart van eerbaarheid, waarheid en lojaliteit op hul ouers se gesigte kan lees.
“Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose” (Mt.5:37).
Op die reguit pad is geen tolgeld te betaal nie!
12. God se beloftes
God het nooit die verbond met Abraham opgeskort nie. Gevolglik bly dit van krag totdat Jesus weer kom.
“En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes ..... Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Hand.2:38,39).
Paulus noem gelowiges kinders van Abraham:
“...sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang. ...... En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:14, 29).
Gelowiges is die geestelike afstammelinge van Abraham en aan die verbond gebind.
Kinders moet van kleins af van God se beloftes geleer word en daarop vertrou.
“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spr.22:6).
God se beloftes was immers vir die aartsvaders die enigste lamp van hoop in ʼn tyd toe daar nog nie Bybels was nie. Dit was vir baie eeue lank hul enigste geestelike versterkmiddel. Wat ʼn voorreg het gelowiges nie vandag om die Bybel te kan lees en hul kinders van God se wonderlike beloftes te vertel nie!
Kennis van God se Woord en vertroue op sy beloftes is geestelike pantser. Baie kinders sal met die wederkoms van Jesus hul ouers vir hul toegewyde geestelike opvoeding dank.
“Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind” (Pred.11:1).
13. Gebed
Gebed is baie belangrik vir geestelike groei. Ook vir kinders. Dis as’t ware die asemhaling van die siel waarsonder geen geestelike lewe moontlik nie. Let op Paulus se bekering:
“Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ’n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid” (Hand.9:11).
Toe Ananias sien dat Paulus bid, het hy geweet dat hy tot bekering gekom het.
Gebed is die kragtigste instrument wat God aan gelowiges kan gee. Dit laat die siel soos gras ná die reën groei. Daarom sal gelowige ouers hul kinders leer om te bid, selfs hoe om te begin en wat om te sê. Kinders moet leer dat gebed ʼn stuurwiel en nie ʼn noodwiel is nie.
14. Kerkgang
Godsdiens is die steenwerk wat gemeenskappe aan mekaar hou. Ongelukkig neem kerkgang weens besige werksprogramme en ongeërgdheid skerp af. Wie geen geestelike verhouding met God het nie, het uiteraard geen behoefte aan die gemeenskap van die gelowiges nie en dra dieselfde leefstyl op hul kinders oor. Kinders kom nie vanself kerk toe nie. Ouers moet hulle kragtens hul verbondsbelofte by die doop kerk toe bring.
“Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Heb.10:23-25).
Ouers met ’n Sondag-siel wat hulle Sondae aanskroef en Maandae losskroef, verwar kinders. Dit moet eerder ouers se voorreg wees om saam met kinders kerktoe te gaan. Dis belangrik dat kinders na die prediking sal luister al verstaan hulle nie alles nie. Wie dit aan hul kinders verduidelik, is goud werd.
Kerkgang mag nooit aan kinders se wil oorgelaat word nie. Hulle moet kerk toe gaan al moet ouers hulle dwing. Hulle is uiteraard deel van ʼn familie en moet by hul ouers in die banke sit en nie iewers apart nie.
Oral waar Israel as volk byeen gekom het, was kinders teenwoordig:
“Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die HERE julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan? En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ’n fees vir die HERE hou (Ex.10:8,9).
In die NT was kinders deel van die gemeentes:
“Maar toe ons die dae uitgebly het, het ons vertrek en op reis gegaan, terwyl almal, met vroue en kinders, ons tot buitekant die stad begelei; en ons het op die strand neergekniel en gebid” (Hand.21:5).
Geen kind is te klein om God te dien nie. Alhoewel Samuel aanvanklik niks van God geweet het nie, is hy van kleins af geleer om Hom te dien.
“Maar Samuel het die HERE nog nie geken nie; ook was die woord van die HERE nog nie aan hom geopenbaar nie” (1 Sam.3:7).
Die apostels het ook nie altyd alles verstaan wat Jesus vir hulle gesê het nie:
“Dit het sy dissipels egter eers nie verstaan nie; maar nadat Jesus verheerlik is, toe het dit hulle bygeval dat hierdie dinge van Hom geskrywe was en dat hulle dit aan Hom gedoen het (Joh.12:16).
Ouers moenie mismoedig raak as kinders nie die volle geloofsprentjie insien nie. Gereelde kerkbesoek sorg weldra daarvoor.
Kinders moet weet dat hulle deel van ʼn geestelike familie (gemeente) is. God het ʼn volk vir Hom uitgesoek- almal wat die wedergeboorte en bekering gesmaak het:
“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh.1:12).
“En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29).
Lukas skryf in Handelinge van ouers wat tot bekering gekom en hul gesin na Jesus gelei het. Dit was vir hulle belangrik dat elkeen in die gesin gered moes wees. So skryf Lukas in Hand.16 van die tronkbewaarder in Filippi wat tot bekering gekom het:
“En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense” (:32,33).
Laasgenoemdes was almal wat onder sy dak gewoon het.
Daar wag op elke geestelike familie ook ʼn ewige ouerhuis:
“ In die huis van my Vader is daar baie wonings...... Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh.14:2,3).
Kerkgang is ʼn oefening ter voorbereiding hiervan.
15. Tydsbenutting
Kinders moet geleer word om tyd sinvol te gebruik. Ledigheid is die duiwel se oorkussing soos met Sodom gebeur het (Eseg.16:49). Die lewe is baie kort. Hoe mense hul dae deurbring, bepaal hul toekoms. Daarom moet hulle van jongs af nie tyd verkwis nie want verkwiste tyd lei dikwels tot slegte gewoontes. Dis soos water wat stilstaan en onsuiwer word. Tyd wat egter goed benut word, is die Satan se grootste vyand want dit laat hom geen ruimte om in ʼn mens se lewe in te kom nie.
Tyd moet soos gereedskap en nie soos ʼn gemakstoel gebruik word nie. Wie die waarde van tyd leer se dade getuig daarvan. Daarom moet ouers eerder meer tyd as geld aan kinders bestee want die resep vir geluk staan nie op geldnote geskryf nie. Baie geld maar min verantwoordelikheid het rampspoedige gevolge.
Ouers wat wil sien waartoe hul kinders in staat is, moenie vir hulle alles probeer gee nie. Geen kind is arm solank as wat hy gelowige ouers het nie. Gelukkige kinders sit dikwels op arm ouers se skote.
Ouers moet nooit probeer om dit wat húlle as kind ontbreek het, aan hul kinders te gee, maar in die proses die geestelike waardes wat hulle wel gehad het, na te laat nie. ʼn Mooi hok voed geen voël nie. ʼn Tafel wat eerbare kinders voed is egter vir almal tot seën.
16. Sieraad of struikelblok
Kinders is vir God so belangrik dat Hy aan hulle ʼn plek in die Verbond toeken:
“En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou” (Gen.17:7).
Jesus was ook baie lief vir kinders:
“En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie” (Luk.18:14-17).
Paulus skryf:
“Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met ’n belofte — sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde. En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efes.6:1-4).
Om met kinders oor Jesus te praat, moet ouers soos Jesus met hulle praat. Woorde wek, maar voorbeelde trek. Mense is soos ape en leer deur hul ouers dop te hou. Hulle onthou nie altyd wat ouers sê nie, maar boots hulle goed na! Daarom verwar niks ʼn kind meer as ouers wie se dade hul woorde weerspreek nie. Om vir hulle raad te gee, maar ʼn slegte voorbeeld te stel, is om hulle met die een hand hemel toe te winken met die ander een hel toe te lei!
Julius Caesar het nooit vir sy soldate gesê: “Gaan veg” nie, maar“Kom, veg saam met my”. Dis die regte voorbeeld. Kinders sal selde gewoontes aanleer waarvan ouers nie hou nie of paaie bewandel waarop hulle self nie loop nie. Ouers moet kinders van kleins af reg buig en nie ʼn valhelm wil opsit as hulle alreeds skedelbreuk opgedoen het nie. ʼn Kers kan nog doodgeblaas word, maar nie ʼn vuur nie.
17. Vreugde
Geen plig word so onderskat soos om gelukkig te wees nie. Min vreugdes oortref geseënde kinderopvoeding. Dis die natuurlike blom van plig wat nagekom is. Dis egter nie ʼn bestemming wat bereik moet word nie maar ’n manier van reis. Die lewe is soos kaartspel. Wenners ontvang nie altyd ʼn goeie hand nie, maar speel dikwels met ʼn swak hand goed.
Gelowige kinders is die produk van ouers wie se heilige plig landingsplek in hul lewens gevind het. Sulke ouers is God se hemelse tuiniers wat goeie koring selfs in klein akkers laat groei en siele laat blom. Wie so grootword, ervaar ʼn stuk vervroegde hemel en vergeet nooit hul ouers nie. Al is die lied verby,duur die melodie steeds voort.
18. Beste belegging
Gelowige ouers is verplig om vir hul nasate goeie voorsate te wees. Om vir hul kinders Bybels te gee, kerk toe te neem maar niks verder aan hulle sieleheil te doen nie, is tevergeefs. Ouers deel òf in kinders se seëninge òf in vervloekings. Dis hul keuse.
Ouers wat kla dat die bal vir hul verkeerd spring, het dit waarskynlik self laat val want wie ʼn mynveld opstel, spring nie altyd die gevolge daarvan vry nie. Onheilige gesinne kan baie maklik in ‘n gemenebes van skurke ontaard!
Godvresende kinderopvoeding daarenteen is ʼn skoonheid wat nooit vergaan nie. Wie op geestelike reuse se skouers staan, sien altyd die verste in die lewe. Ongelukkig kan kinders ook die boog wees wat die skerpste pyl in ouers se harte skiet en vir die bitterste bekers denkbaar!
Kinders het al in die Bybel se tyd baie trane besorg. Adam, Jakob en Dawid was maar enkeles wat oor hul kinders gehuil het. Onverskillige opvoeding besorg altyd hartseerrekeninge. Gelukkig is die teenoorgestelde ook waar; uitsonderlike ouers wat uitsonderlike opofferings maak, ontvang van God uitsonderlike seën.
Geen belegging lewer voortrefliker rente op as geestelike kinderopvoeding nie. Seëninge wat ouers vir hul kinders beding, stort ook op hulself en hul kinders soos reën; oral waar dit val, is dit heilsaam.
Slot
Ons volk se gesinslewe val teen ʼn ontstellende tempo uitmekaar. Die geestelike gom wat dit bymekaar hou, ontbreek. As ons nie ʼn einde aan die verbrokkeling maak nie, gaan dit ʼn einde aan ons volk maak. Daarom moet ouers God vir spesiale krag bid om te kan red wat daar te redde is. Verloor liewer die wol as die skaap!