HERVORMING 500 (3)

Ds Andrè van den Berg

“Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie(Openb.18:4).

Die RK wil die wêreld bekeer, maar nie tot Christus nie, wel tot haarself. Sy werk al vir eeue aan ʼn allesomvattende, gesentraliseerde kerkgesag met ʼn pous as hoof.   Dis die ryk van die Antichris wat met die Groot Verdrukking begin.    

In haar plan om die mensdom te onderwerp, staan niemand in haar pad nie; selfs nie eens pouse nie.   In 1978 is ʼn pous na 33 dae in die amp op geheimsinnige wyse oorlede en in 1774 en 1939 het twee ook geheimsinnig gesterf.   Niemand staan in die RK se pad nie!

Soos wat Babel in die antieke tyd die hoofsetel van afgodery was, is Rome dit vandag. Dis dieselfde resep. “En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Openb.17:18).   Die geskiedskrywer Propertius verwys na Rome as “die trotse stad op sewe heuwels wat die hele wêreld regeer”. Babilon en Rome is dieselfde godsdiens.

Die RK is kontrareformatories; die teensy van die Hervorming en is in haar noppies as Protestantse kerke hul Calvinistiese erfenis t.w.v. internasionale kerklike aansien versmaai. Hulle help haar indirek om wêreldmag te bekom!

Daar is min dinge so gevaarlik as godsdiens in die verkeerde hande want dis waarmee Romeinse keisers miljoene mense beheer het.   Daar word allerweë gesê dat die geskiedenis homself herhaal. En dis waar. Die Antichris gaan as die eindtyd Babiloniër die geskiedenis afsluit soos Nimrod die eerste koning van Babel dit begin het; as ʼn geweldenaar wat homself in ʼn eie ryk vergoddelik. Die ideologie van wêreld-eenheid wat met die bou van die toring in Babel begin is, bereik sy hoogtepunt in die vestiging van die ryk van die Antichris.

Die RK is besig om godsdiens met godsdiens te vernietig. Daarvoor gebruik sy Protestantse kerke.   En die lokaas? Ekumene – die strewe na kerkeenheid. Kerke word mislei om te glo dat ekumene versoenend en bevrydend is.   Die teenoorgestelde is waar – dis ʼn wurgketting waarmee die RK kerke verkneg!

Ekumene verkondig ʼn geheel vreemde evangelie – dié van gesamentlikheid.   “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ʼn ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai” (Gal.1:6-7).

Elke Protestantse kerk wat via die ekumene by die RK betrokke geraak het, het haar kerklike erfenis versmaai en Roomse gebruike begin huisves.  Die NG-Kerk is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Haar 1983 Bybelvertaling is Roomsgeorkestreer. Waar kom sy aan die kindernagmaal en toenemende gebruik van brandende kerse by dienste? Die ergste van alles is dat kerke wat gemene sake met die RK het, glo dat sy ook die weg van saligheid leer.   Dis ʼn leuen!

Die ekumeniese ideaal van ʼn universele liefdes-evangelie van versoening en vergifnis is ʼn slenter om Protestantse kerke deel van die Nuwe Wêreldorde met die pous as hoof te word. Alle gespreksvoering eindig in kompromievorming.  

Die RK wys al vir meer as 1,500 jaar haar ware kleure.   Nogtans sien kerke dit nie raak nie. In plaas daarvan dat Protestantse kerke teen haar waarsku, maak hulle eerder die ekumeniese pap dik aan.   Die NG Kerk se gelukwense met die aanstelling van die nuwe pous in 2013 het waaksame Protestante laat sidder.   Dr. Braam Hanekom, eertydse moderator van die Sinode van Wes-en Suid Kaapland skryf op 14 Maart 2013 as volg aan die RK:

“Graag wens ons die wêreldwye Katolieke gemeenskap geluk met die verkiesing van die eerste Suid-Amerikaanse pous, Jorge Mario Bergoglio, of te wel Franciskus 1.   Dit is inderdaad ʼn historiese geleentheid en betekenisvol nie net vir die Katolieke Kerk nie, maar ook vir die Christen-gemeenskap wêreldwyd.   Dit bevestig nie net voortdurende bewegings wat in die wêreldkerk aan die gang is nie, maar herbevestig ook ʼn beweging na eenvoud, die helder verkondiging van die Evangelie van Christus en die uitreik na armes. Ons is saam met die hele Katolieke gemeenskap dankbaar oor en trots op die verkiesing van die nuwe pous en bid hom Gods rykste seën, gesondheid en wysheid toe”.

Kan ʼn kerk so skrikwekkend oningelig wees om te glo dat die RK die Evangelie helder verkondig terwyl sy nie eens die weg van saligheid leer nie?   Sedert die Hervorming 500 jaar gelede het die RK nog nie een tree nader aan ʼn suiwer verkondiging van die Evangelie gegee nie maar eerder ligjare daarvan af wegbeweeg.  

Protestantse kerke keer teen ʼn ontstellende tempo terug na die RK.   Die RK het met die Hervorming gesweer dat alle Protestantse Kerk nog na haar toe sal terugkruip. En dit gebeur sienderoë. Dis nie reformasie nie maar deformasie!

In Openb.17 en 18 word Rome as bordeelhoudster met prostituutdogters wat haar opdragte uitvoer, voorgestel; ʼn broeiplek van siektes. Hierdie twee hoofstukke is ʼn profetiese waarskuwing - wie met die RK gemene sake het, sal van haar plae ontvang.   Gevolglik ‘n dringende opdrag: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb.18:4).

Salomo se beskrywing van ʼn sedelose vrou is so waar van die RK: “...want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie, maar op die end is sy bitter soos wilde-als, soos ʼn swaard aan weerskante skerp. Hou jou voet weg van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie” (Spr.5: 3,4,8).

Die mensdom is op pad na ʼn groot ontnugtering- die bekendmaking van die Antichris: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van die sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3,4).

Gelowiges mag nie in hierdie krisisuur slaap nie.   Dis ons heilige verpligting om mense wat slaap, wakker te skud en soos ʼn wag op ʼn muur alarm te maak en vir die laaste stryd gereed te maak: "Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu … " (Ef. 6:11,12).

Laat ons egter baie seker maak van waar ons self met Jesus staan. Is ons werklik kind van God of maar net gereelde kerkgangers? Die Bybel is die mees korrekte dokument in ons besit.   Glo dit met jou hele hart en siel en plaas jou lewe opnuut in die hand van die Skrywer daarvan. Hy belowe aan diegene wat tot die einde toe volhard die kroon van die lewe (Openb.2:10) en dank Hom opnuut vir die seën van Protestantisme!