Binne of buite God se genade?
Ds Andrè van den Berg
In die OT het die woord baster grootliks ʼn ongunstige betekenis. Moses skryf:
“Geen baster mag in die vergadering van die HERE kom nie; selfs sy tiende geslag mag in die vergadering van die HERE nie kom nie” (Deut.23:2).
Wie was hierdie basters en waarom was hulle in onguns?
Dit het niks met rassevermenging te doen nie.
Wie Deutr.23:2 as bewys plaas om rasvermengde huwelike as sonde te brandmerk gebruik, slaan die bal baie ver mis. Deutr.12-26 vorm ʼn eenheid - Moses se Wetteversameling. Deutr.23:2is slegs een van die baie voorskrifte. Wie op die letterlike handhawing daarvan aandring, sal ter wille van konsekwentheid ook al die ander seremoniële voorskrifte moet nakom.
Gevolglik moet daar baie duidelik tussen die wetteversameling van Moses (wat slegs vir oud-Israel gegeld het) en die Tien Gebooie (wat vir alle volke geld) onderskei word. Laasgenoemde is die ingeskepte wet wat God vir alle mense gegee het om sy te leer ken.
Deuteronomium handel hoofsaaklik oor die gesprekke wat Moses met Israel op pad na Kanaän gevoer het. Dis grootliks ʼn wetboek, nie in die juridiese sin van die woord nie, maar eerder prediking waarin Moses Israel tot gehoorsaamheid aan God oproep. Hy beklemtoon die grondbeginsels van die wet en die vreugde wat die onderhouding daarvan meebring.
Moses laat die klem in Deuteronomium baie swaar op Israel se verhouding met God val. Hy noem hulle samesyn selfs die vergadering van die Here (23:1). Laasgenoemde was egter nie vir almal sondermeer toeganklik nie (23:1-8). Israel was uiteraard God se eiendomsvolk (7:6) en hulle verbintenis met Hom ʼn verbondsverhouding.
Die wette wat Moses die volk Israel destyds beveel het, kan nie meer vandag geld nie. Dink maaraan die voorskrif om nie wol en linne tegelyk te dra nie (22:11)of dat ontmandes nie in die huis van die Here mag kom nie (23:1).
Die Bybelse gebruik van die woord baster het ʼn ander betekenis as in die volksmond. Die Oxford woordeboek gebruik die woord bastard vir iemand wat buite die eg verwek is. Die OT gebruik dit weer vir iemand wat in owerspel of bloedskande verwek is (Deut.22:30; Lev.18:6-20; 20:10-21; Sag 9:6). Israel het die huwelik as instelling van God so ernstig beskou, dat iemand wat in owerspel of bloedskande verwek is, sowel as sy nasate, vir geslagte lank kerklike gemeenskap ontsê is!
In Deut.23:1 word ontmandes, net soos basters, ook die vergadering van die Here ontsê. Om ʼn man soos ʼn dier te kastreer, was ʼn heidense gebruik en in Israel taboe. Sulke verminktes is nie in die huis van die Here toegelaat nie, al was dit net vir seremoniële doeleindes.
Die onreg wat ontmandes aangedoen is, het hulle egter nie van God se genade uitgesluit nie:
“Want so sê die Here aan die ontmande wat my Sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan My verbond: Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ʼn gedenkteken en ʼn naam gee wat beter is as seuns en dogters; ʼn ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgevee sal word nie” (Jes.56:4,5).
Lukas teken in Hand.8:26-40 selfs die bekering van die hofdienaar van Ethiopië aan. Hy was ʼn ontmande.
Wie op die letterlike handhawing van Deut.23:2 aandring, moet na reg almal wat buite die eg of in bloedskande gebore is, in kerklike geledere belet. Gelukkig geld hierdie wette ná die koms van Christus nie meer nie. Gelowiges erken egter die verskeidenheid van volke as ʼn Godgegewendheid. Daarom is dit net logies en voor die hand liggend dat daar volkseie kerke is. Alhoewel gelowiges een in Christus is, is hulle nie eenders nie. Diepgewortelde kultuurverskille onderskei volke van mekaar. Desondanks bind die Heilige Gees gelowiges geestelik in Christus saam.
Familielede bly uiteraard nie almal in dieselfde huis of dorp nie. Nogtans is en bly hulle familie. So ook geestelike familie. Daar is geen Bybelteks wat gelowiges onder een kerkdak wil indwing soos wat die Belhar-belydenis ten doel het nie. Elke volk ontwikkel ʼn eie kerkgestalte.
Die Mosaïese wet van die besnydenis, offers en ander rituale het skeiding tussen Jode en heidene gebring. Israel was ʼn heilige volk en van al die ander volke afgeskei. Laasgenoemdes is heidene genoem en as onrein beskou. Jesus het egter in sy menslike natuur die reiniging wat daardie wette simbolies voorgestel het, met sy versoeningsdood volbring en die twee groepe tot ʼn nuwe onsigbare geestelike eenheid saamgesnoer:
“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:28,29).
Hierdie nuwe eenheid hef egter nie volkeverskeidenheid op nie. Dis geestelik en onsigbaar:
“Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder”(Joh.10:16) - verskillende skape met afsonderlike stalle. Een, maar nie eenders nie!