Ds Andrè van den Berg
1. Politieke korrektheid
Politieke korrektheid word vandag as ʼn stuk moderne Evangelie geag omdat dit grootliks in die glanspapier van Bybelse waarhede toegedraai is. Dit lyk soos liefde, verdraagsaamheid en goedheid en word derhalwe in ʼn liefdelose wêreld verwelkom. Ondanks die goeie voorkoms is dit alles behalwe Bybels korrek en die gevolg van wêreldse standaarde vir geregtigheid en liefde.
Die Bybel leer gelowiges nie net om reg lief te hê nie, maar ook om vir die regte redes te haat. Salomo skryf: “ Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd.... 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat”(Pred.3:1,8). Bybelse haat is anders as wêreldse haat. Dis nie onredelik of onbeheerd nie. Die Bybel sê ook baie duidelik wat gehaat moet word en waarom.
Gelowiges mag nie hul medemens haat nie en hul vyande liefhê. (Mt.5:43-48). Dit beteken dat hulle in hul persoonlike hoedanigheid nooit kwaad met haat mag beantwoord nie. Bybelse haat het uitsluitlik met opstand teen God te doen. Die Tien Gebooie gee ʼn omskrywing van geregverdigde haat:
“Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jouvoor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat... (Ex.20:4,5).
Liefde vir God is nie lippetaal nie maar gehoorsaamheid aan Hom. “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15). Daarom lê ongehoorsaamheid aan God aan die wortel van geregverdigde haat want dis wesenlik opstand teen God wat ook gelowiges raak.
“En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Mt.10:22).
“Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak. En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam.” (Luk.21:16,17).
“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.” (Joh.15:18,19).
2. God se vyande
Die wêreld waarvan Jesus praat, is die godvyandige wêreld. Dit wemel van mense wat die Bybelse waarheidverwerp en menseverhoudings voorop stel. God se vyande bevind hulle nie uitsluitlik buite die kerk nie. Hulle is ook binne-in die kerk, gee voor om gelowiges te wees, maar leef nie anders as ongelowiges nie. Hulle versmaai die wil van God met ʼn skynheilige front.
Die Bybel waarsku dat daar ʼn tyd kom dat sulke mense nie meer kan omdraai nie:
”Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie,van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het, daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne” (Spr.1:28-31).
3. Verkeerde aanbiddingspraktyke
Die kerklike wêreld word deur die een getygolf van verkeerde aanbiddingpraktyke ná die ander getref en met leuens besoedel. God haat die leuen. Hy verwag ook van sy kinders om dit te haat want die verdraaiing van die Evangelie en die heromskryf van eeu oue Christelike waardes is niks anders as ʼn spot met God en derhalwe haat nie:
“Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7).
Wie God liefhet, luister na Hom:
“…wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Joh.4:23,24).
Dwaalleer is doelbewuste haat vir God. Derhalwe moet gelowiges dit tot eer van God haat. Die voorbeeld van koning Dawid is een van die mees uitstaande voorbeelde van die korrekte Bybelse gedrag in hierdie geval.
“Ek sit nie by valse mense nie, en met slinkse mense gaan ek nie om nie. Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie” (Ps.26:4,5).
“Ek haat die wat nietige afgode vereer, maar ék vertrou op die HERE.” (Ps. 31:6) “
Ek stel geen lae ding voor my oë nie; die dade van afvalliges haat ek; dié sal my nie aankleef nie” (Ps.101:3).
“Here, sou ek dié nie haat wat vir U haat en ʼn afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ʼn volkome haat; vyande is hulle vir my!” (Ps.139:21,22).
4. God se eer
Die Bybelse omskrywing van geregverdigde haat laat geen ruimte vir leuens soos politieke korrektheid nie. Dit tas die eer van God aan. Dit gee gelowiges egter nie die reg om die grense van liefde te oorskry nie. God verwag van hulle om leuendienaars liefdevol te benader, hulle op hul leuens te wys en die waarheid te help vind:
“Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie” (Lev.19:17).
Gelowiges moet egter baie versigtig vir valse verdraagsaamheid wees. Dit kan hulle baie maklik in die naam van politieke korrektheid in ʼn valse liefde laat verval wat God haat!