Ds Andrè van den Berg
“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”(Dan.2:44).
Nebukadneser het rede gehad om een nag toe die slaap gewyk het, oor die toekoms te wonder. Babel het toe alreeds ʼn geskiedenis van bykans 5000 jaar gehad en een ryk na die ander sien kom en gaan. Wat sou die toekoms vir Babel inhou? Toe antwoord God hom met ʼn antwoord wat ons aandag verdien; ʼn antwoord wat van die oorwinning van God se koninkryk oor Satan s’n vertel.
“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”.
Nadat Nebukadneser uiteindelik aan die slaap geraak het, het hy ʼn droom gehad wat hom laat wakker skrik het. Wat kon dit beteken? Dit was meer as net ʼn droom - dit was ʼn waarskuwing. Daarom het hy sy geleerdes laat roep om dit uit te lê sonder om die inhoud daarvan aan hulle bekend te maak om te verhoed dat hierdie mense wat uit die staatskas vergoed is, hom na die mond sou praat. As hulle kwansuis in die toekoms kon sien, moes hulle mos weet wat hy gedroom het en met teregstelling gedreig.
Toe Daniël daarvan hoor, het hy en sy drie vriende tot God vir die antwoord gebid en Hy het dit aan hulle gegee. Wat ʼn kragtige getuienis was dit nie van die ware God nie! Die koning het van ʼn mensebeeld gedroom wat verskillende ryke voorgestel het.
Die kop van goud is Babilon; op daardie tydstip die magtigste ryk was.
Die bors en arms van silwer is die komende ryk van die Meders en Perse.
Die buik en heupe van koper is die Griekse ryk.
Die bene van yster en klei is die Romeinse ryk en ander wat sou kom.
Terwyl Nebukadneser na die beeld staar, het ʼn klip sonder mensetoedoen losgekom en die beeld aan die voete getref, dit uitmekaar laat spat en in geheel laat verdwyn, maar die klip: “... maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (:35). Hierdie klip is ʼn koninkryk wat ander koninkryke vernietig sonder om self vernietig te word.
Hierdie koninkryk het 480 jaar later met ʼn groot aankondiging uit die hemel aangebreek: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde in die mense ʼn welbehae”. Dit verwerklik op Kersnag met die geboorte van Jesus Christus. Uit ʼn nederige krip in Betlehem rol die magtige klip waarvan Daniël praat. Jesus is die vors van hierdie magtige, onvernietigbare ryk.
Later volg ʼn belydenis wat daarvan getuig: “En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filíppi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Mt.16:14-18).
Hierdie rots is die klip waarvan Nebukadneser gedroom het en is ʼn ewige koninkryk wat nooit vernietig word nie. Menslike koninkryke kom en gaan. God s’n lyk anders en staan vir altyd. Jesus antwoord Pilatus: “... My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het...” (Joh.18:36). Nogtans kan hierdie koninkryk magte vernietig. Die Bybel getuig telkens daarvan. Dink maar aan die slag by Midean. Was dit nie God wat daar ingegryp het nie; God se mag teen heidense magte? So ook Bloedrivier later.
Wêreldryke kan nie met God se ryk kragte meet nie: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik... U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde!.”(Ps.2).
Let op iets interessant in Nebukadneser se droom – die verskillende ryke. Babel was die sterkste en van suiwer goud. Die Griekse ryk was ook gedug en daarom van edelmetaal nl. silwer. Al die ander wat genoem is, was suiwer metale omdat dit nie vermeng was nie. Die swakste van almal was die Romeine. Dit was van yster en klei. Hulle het verskillende nasies in die politieke mengbak gegooi om tot een nasie te vermeng. Dit het destyds en daarna geensins gewerk nie en ʼn onverteerbare dis geword; vandaar die yster en klei. Dit kan nie werk nie en spat op een of ander tydstip soos ʼn etniese kartets uitmekaar! God het geen behae in volksvermenging nie want Hy het hulle nie so geskape nie en sal hulle oordeel. Ps.2 sê: “ ... U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot”. Daarom slaag geen reënboognasie ter wêreld nie!
Rome was nie die laaste volk wat uiteenlopende volke tot een nasie probeer versmelt het nie. Daarna sou talle goddelose mense die vuis ten hemel bal en aan God se skeppingsorde probeer verander – telkens met tragiese gevolge soos wat die nuutste misdaadstatistiek in ons land van getuig.
God bewaar egter sy koninkryk en vernietig diegene wat daarteen opstaan. Jerusalem verwerp Christus en word in 70nC vernietig. Was dit toevallig? Moenie glo nie! Ps.2 sê: “ ... U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot”. Romeinse keisers vervolg burgers van die koninkryk van God, maar hierdie ryk kwyn en verdwyn. Was dit toevallig? Nee, God het op sy eie tyd ingegryp en die heidene vernietig.
Daniël skryf dat die klip wat die beeld tref het ʼn groot rots geword wat die aarde gevul het. Wat is hierdie rots? Die koninkryk van God - die Christendom. Ten spyte van teenstand en vervolging het dit bly groei en die burgers van hierdie koninkryk van die verlossing in Jesus bly getuig!
Hierdie koninkryk sal nie deur ʼn ander koninkryk opgevolg word nie. Nie eens Satan en al sy magte, kan die pad van hierdie klip keer nie. Christen Rusland word in 1917 kommunisties waarna nagenoeg 60 miljoen mense hul lewens verloor in die jare wat volg. Maar uiteindelik roes die ystergordyn deur. Die Berlynse muur val (1989) en kommuniste ontdek dat hulle steeds nie van die klip uit die krip ontslae is nie. God se koninkryk kry nooit einde nie!
Goddelose mense gee voor dat die Christendom se dae getel is. Dis ʼn leuen! Die teksvers sê dat hierdie koninkryk vir ewig sal staan. Toe die klip op Kersaand uit ʼn krip in Betlehem geval het, het dit begin rol en soos ʼn sneeubal al hoe groter geword. En dit sal bly rol totdat dit eendag voor die groot wit troon van God tot stilstand sal kom en nie vóór dan nie!
Skep derhalwe moed – die kerk sal daar wees totdat Jesus weer kom. Die eenheidsgier wat soveel steun verkry, staan in die teken van opstand teen God en sal derhalwe nie hou nie. As die eens magtige Babelse, Griekse en Romeinse ryke nie eens teen die koninkryk van God kon kers vashou nie, hoe sal hierdie plaaslike proefneming dit regkry? Hierdie klip sal hulle op God se tyd tref en soos met die beeld in Nebukadneser se droom, fyn stamp.
Satan het Jesus in die woestyn probeer oorreed om ʼn een-wêreldregering daar te stel. Jesus het geweier en eerder met afsonderlike nasies gewerk. Vandaar die Sending-opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mt.28:19). Openbaring vertel van afsonderlike volke en nasies wat tot in ewigheid by God sal wees.
Moenie diegene glo wat sê dat dit met die Boerevolk klaar is nie. Het ons dan nie gesien wat God in die verlede vir ons in tye van nood gedoen het nie? Aanbid ons dan nie dieselfde God nie? Is ons dan nie kragtens ons wedergeboorte burgers van die koninkryk van God nie? Het ons dan nie deel aan hierdie klip uit die krip nie? Ons is mense van die klip. Mag God ons opnuut verseker dat ons saam met Hom wat die klip aan die rol gesit het, meer as oorwinnaars is!