JEREMIA EN KERKVERVAL

ʼn Tydige waarskuwing

Ds Andrè van den Berg

Inleiding

Vóór die voltooiing van die Bybel het God dikwels deur profete met mense en volke gepraat: “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete ...” (Heb.1:1). Profete was dikwels baie nou met koninghuise verweef om konings in groot besluite by te staan.

Sommige profete het egter nie sulke bande gehad nie en deurlopend onafhanklik opgetree. Jeremia was so ʼn profeet wat afstand met die koningshuis gehou en slegs in opdrag van God gepraat het. Dit het hom gereeld met die leiersfigure van sy tyd laat bots, veral afgunstige kerkleiers.

God het Jeremia in ʼn tyd van ernstige kerkverval tot profeet geroep om sy oordeel hard en duidelik oor Juda aan te kondig. Daarvan het die koning en sy tempel-skoothondjies niks gehou nie en teen hom saamgespan:

“Jy dan, omgord jou heupe en maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel; wees nie vir hulle verskrik nie, dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie(Jer.1:17).

Die kerk was deurspek van wanpraktyke. Kerklui het konings gebuikspreek en net gesê wat hulle hul onderdane wou laat hoor. Jeremia se boodskap van ʼn droewige toekoms is deur kerklui met valse vredesverkondigings teengestaan:

En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie” (Jer.6:14).

Hierdie goedbesoldigde kerklui het Juda valse hoop gegee en mense goed laat voel terwyl hulle in werklikheid in ʼn baie groot verknorsing was.   Jeremia het hom egter nie deur die politiek van die dag laat voorskryf nie en die status quo uitgedaag.

Min profete het soveel kerkverval soos Jeremia beleef. Hy het aan die begin van sy lewe die son helder oor sy geliefde kerk sien skyn en ook toe dit nag oor dieselfde kerk geword en dit weens ʼn slaafse navolging van die politiek van die dag ontspoor het. God het hom egter geestelike nagsig gegee om tot die einde toe die waarheid te verkondig.

1.   Die verval
Bose magte wat daarop uit was om Juda te vernietig, het agter die skild van ontspoorde kerklui geskuil. Met sulke kerklui gaan enige sonnige land ʼn donker toekoms tegemoet.   Toe Juda se politieke- en kerkleierskap klaaglik misluk, het God die volk na talle vroegtydige waarskuwings in die hand van Babel gegee en hulle in ballingskap daarheen laat wegvoer. Dit was die grootste ontnugtering in Juda se geskiedenis en vir ʼn profeet soos Jeremia moeilik om die volk te oortuig dat hul kerklui bedrieërswas. Daarom sê God: “ ... aan die einde van die dae sal julle dit duidelik verstaan” (Jer.23:20).

Juda se afvalligheid het by koning Manasse se afgodery en daaropvolgende roepingsversaking van die kerkbegin.   Toe die koningshuis ontspoor, het die kerk gevolg:

“Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-vyftig jaar in Jerusalem geregeer ... En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE... en altare opgerig vir Baäl ... ook het hy altare gebou in die huis van die HERE, waarvan die HERE gesê het: In Jerusalem sal Ek my Naam vestig... hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE om Hom te terg... en Manasse het hulle verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het” (2 Kon.21).

Toe die kerk by die heidendom inskakel, het sy onafwendbaar in die dryfsand van dwaalleer versink. Sy het die koning meer as God gevrees. NáManasse se dood het sy seun Josia ʼn herlewing geloods om die afgodery te probeer uitroei. Dit het niks gehelp nie. Josia kon slegs van die uiterlike vormgewing daarvan ontslae raak, maar nie van die kern nie. Ná sy ontydige dood het Juda weer in afgodery verval:

“Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog... Hulle kom in die skande... tog skaam hulle hul nie in die minste nie... So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie” (Jer.6:13-16).

2.   Kerk en volk
Die politiek van die dag bepaal dikwels hoofstroomkerke se doen en late. Hoe meer ʼn regering van Bybelse voorskrifte vir sinvolle landsbestuur afstand doen, hoe makliker vermeng kerke met booshede en oppervlakkiger word dit. Juda se wegbeweeg van God se Woord was ʼn dolksteek in haar siel.

Hierdie ontsporing het nie noodwendig tot ʼn afname in kerkbesoek gelei nie. Mense het steeds tempel toe gegaan. Die enigste wat ingrypend verander het, was die aanbiddingspraktyke. Die etiket het dieselfde gebly; net die inhoud het verander.

Kerkleiers het Juda die dood vir die lewe laat aansien en die mense se naïwiteit as ʼn swakheid uitgebuit.Mense het nog steeds blind-lojaal kerk toe gekom, gebid en geoffer.   Hulle lewens het egter geen verandering of agting vir God en sy gebooie getoon nie. Mense was na aan die kerk, maar ver van God af.   Dit het die kerkleiers nie in die minste gepla nie. Solank as wat hulle goed oor hulself gevoel het, was die saak reg!

Valse profete het die verstand van kerkgangers getiranniseer.   Hulle was alles behalwe dienaars van God!   Dienaars het slegs met mense gepraat nadat God eerste met hulle gepraat het. Die oorsprong en die inhoud van hul boodskap het alleenlik van God gekom.   Valse profete, daarenteen, het hul eie wil en dié van die koning as God se wil aan mense voorgehou.

Valse boodskappe verander nie menselewens ten goede nie. Kerkleiers het diegene wat in ʼn verkeerde verhouding met God gestaan het met valse, optimistiese preke vermaak en toe die feite nie by hulle tema pas nie, dit goedsmoeds na eie wense verander.   Dit het Juda verder van God vervreem.

Die valse profete het wyd en syd verkondig dat solank as wat die tempel in Jerusalem staan, geen vyand Juda sou verower nie. Die verblindende uitwerking wat dit op die volk gehad het, het ʼn valse sin van veiligheid gekweek. Mense het geglo dat die tempel en die koningshuis teen vyandige optrede bestand was en dat hulle die land vir ewig sou bewoon.

Daarom het Jeremia hulle ernstig kom waarsku: “Vertrou nie op bedrieglike woorde nie — wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit” (Jer.7:4). Juda het ʼn fout gemaak om volksliefde met God se guns te verwar. Daarom het Jeremia by sy volksgenote gepleit om na die paaie van weleer terug te keer.

3.   God straf

Die droogte wat Juda beleef het asook die teistering deur volksvreemde indringers was ʼn voorsmaak van God se komende straf. Juda het dit baie anders vertolk - aan die onvoldoende aanbidding en verering van Semiramis, die Babiloniese hemelgodin:

Maar vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons deur die swaard en die hongersnood omgekom” (Jer.44:18).

(Hierdie godin is eeue later die maagd Maria genoem en word deur ʼn karikatuur van die kerk aanbid!).

Jeremia het sterk teenstand van sy volksgenote gekry. Hy is as ʼn alarmmaker en pretbederwer beledig en selfs leed aangedoen. Dit het hom by geleentheid so ontnugter dat hy nie verder met Juda oor God wou praat nie. Sy swye was egter van korte duur:

En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie” (Jer.20:9).

Sy volk se verdorwenheid het hom so ontstel dat hy oor hulle gehuil het. Jesus sou eeue later ook oor die selfde mense en stad huil:  

En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ’n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk.19:41-44).

4.   Wie preek die waarheid?

Die kerkleiers se teenstand teen Jeremia het by geleentheid daartoe gelei dat die valse profeet Hananja swaarde met hom gekruis en kerkgangers verwar het. Beide profete het die profetiese formule, “So spreek die Here” gebruik om geloofwaardigheid aan hul boodskap te verleen, maar weersprekende preke gelewer. Beide was vertroud met die Bondsvolk se godsdienstradisies en God se groot dade in hul volksgeskiedenis. Beide het daarop aanspraak gemaak dat hulle boodskappers van God is. Wie moes geglo word?

Benewens die vertroue dat God sy wil aan profete bekend maak, het die kerkgangers geen vaste maatstaf gehad waarvolgens hulle die egtheid van ʼn profesie kon bepaal nie. Hulle kon slegs op die vervulling of mislukking daarvan wag.

ʼn Boodskapper kan nie sondermeer aan die teologie wat hy verteenwoordig beoordeel word nie. Net soos Hananja gebruik valse profete dikwels goeie teologie op die verkeerde tyd.

Hananja het God se strafoptrede teen Juda verkeerd vertolk en Nebukadneser se inval in Juda en eerste wegvoering na Babel as opstand teen God gesien. Hy het Juda laat glo dat God met Babel sou afreken.   Jeremia daarenteen het Babel as ʼn tugroede in God se hand gesien waarmee Hy sy afvallige volk getug het.   God kan enigeen, goed of sleg, as ʼn werktuig of tugroede in sy hand gebruik.

Hananja het Juda aangeraai om rustig te raak en God se straf van Babel af te wag terwyl Jeremia by hulle op bekering aangedring het. God sou Juda nie op grond van hul herkoms herstel nie, maar slegs op grond van berou. Juda se toekomsdrome het pas daarna ʼn nagmerrie geword. Haar kerkverval was die kernhoofstuk in die tragiese verhaal van ʼn volk wat vrywillig ten gronde gegaan het.!

4.   Kenmerke van ware leraars

Toe die profete-amp met die voltooiing van die Bybelse kanon afgesluit is, het God leraars in sy diens begin gebruik. Soos in die Bybelse tyd is daar vandag ook ware en valse leraars in die kerk.

Ware leraars moet deur God self geroep wees en mag slegs by wyse van openbaring en/of begeestering spreek.   Hulle boodskap moet met die Bybel ooreenstem sodat dié wat daarna luister, sal weet dat dit die waarheid is. Daarbenewens moet ʼn leraar van God ook ʼn baie hoë sedelike karakter hê.

Ná die eerste wegvoering in ballingskap het Jeremia vir ʼn tyd lank ʼn houtjuk as simbool van Juda se onderhorigheid aan die volksvyand gedra. Dit het die kerkleiers so ontstel dat Hananja hom voor die tempelhof gedaag en voor die hele raad geprofeteer het dat die buit wat na Babel weggevoer is, binne twee jaar saam met die krygsgevangenes na Juda sou terugkeer.   Die priesters het die leuen geglo en die ware toedrag van sake met valse prediking omgekeer. Die volk het dit vir soetkoek opgeëet en mildelik in die valse leraars se stoflike behoeftes voorsien.

Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog... (Jer.6:14).

So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie. Hulle sê gedurig ... Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie. Want wie het in die raad van die HERE gestaan, dat hy sy woord sou sien en hoor? Wie het sy woord beluister en gehoor?Kyk, ’n storm van die HERE, grimmigheid het uitgegaan, ja, ’n dwarrelstorm! Op die hoof van die goddelose mense breek dit los.Die toorn van die HERE sal nie afgewend word nie, totdat Hy uitgevoer en totstand gebring het die raadslae van sy hart.... Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer...”(Jer.23:16-22).

Slot
Die moderne kerk kan baie uit Jeremia se stryd teen die valse kerkluivan weleer leer. Dit wat destyds gebeur het, gebeur vandag nog steeds.   Die kerk word wêreldwyd deur mense oorval wat daarop aanspraak maak dat hulle in die Naam van God optree, maar in werklikheid nooit geroepe is nie.

Jeremia se optrede bemoedig gelowiges wat onder ʼn heidenhiel leef om vas te staan en die waarheid te verdedig. Juda se omstandighede verskil nie veel van die huidige nie.   Ontspoorde kerke draai ook ʼn blinde oog na gruwels en laat mense met die goedkeuring van die kerk sondig.  

Kerke wat die goeie weg geken en bewandel het, dwaal en word onbeduidend. So sê die Here: Watter onreg het julle vaders in My gevind, dat hulle ver van My afgewyk en agter nietige afgode aan geloop het en self nietig geword het?(Jer.2:5).Geen mens verrig ʼn boosheid so gelate as die een wat dit uit godsdienstige oortuiging doen nie. Vrysinnige teologiese besmetting het al van baie engele duiwels gemaak!

Kerke se dors na onheilige verdraagsaamheid en politieke korrektheid het die sout laf laat word. Dit laat al hoe meer kerke in doodloopstrate voortspoed. Wie in pas met vrysinnige politiek beweeg, kan nooit die stem van God laat hoor nie want uit verrotte hout kan niks goeds gekerf word nie

Plaaslike kerke se gedagtegang weerspieël die onrus van die godvyandige wêreld waarin die volk haar bevind. Dit skreeu van ʼn terugkeer na die ou weë. “... Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel...” (Jer.6:16).

Luister na my, Leviete! Reinig julle en reinig die huis van die Here, die God van julle voorvaders. Vat die vuilgoed uit die heiligdom uit” (2 Kron. 20:5).