Ds. A.E van den Berg
“Onkundiges sien die ontwrigting van die land as die groeipyne van ʼn nuwe demokrasie. Dis onsin! Suid-Afrika het die soveelste slagoffer van onverantwoordelike demokrasie in Afrika geword wat dwase eerliker as slimmes beskou en gevolglik koppe tel in plaas van dit te weeg. Al bedenklike voordeel wat dit vir die kiesers inhou, is dat hulle hul eie teisteraars kan kies!”
Inleiding
God is ’n God van orde. Gevolglik word gelowiges aan ordelikheid geken: “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1 Kor.14:40). Waar Hy heers, is daar orde en ware vryheid aan die dag: “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Kor.3:17).
Waar sy Gees ontbreek, heers daar wanorde en ontwrigting soos in Suid-Afrika. Toe die land ʼn Christen-grondwet gehad het, was daar orde. Nadat dit vernietig is, het heidene die fondamente omgekeer en die land in anargie laat verval.
1. Die plaaslike toneel
Die ontwrigting wat Suid-Afrika al vir meer as twee dekades teister, is eie aan Afrika se geweldpolitiek. Waar dit in die verlede met streng wetgewing in toom gehou is, het dit ná die vernietiging van die vorige bestel na feitlik elke samelewingsterrein oorgespoel en lewens ontwrig.
Vrysinnige blankes het ten spyte van talle waarskuwings die ontwrigting nie voorsien nie en die nuwe bedeling verwelkom. Almal is wreed ontnugter. Mense met wilde gedragspatrone is nie meer soos voorheen vasgevat nie en het beskaafde samelewingstandaarde spoedig in die stof begin byt.
Die nuwe leiers was blind vir die duiwels van hul eie skeppings en het mense bly wysmaak dat ʼn beter toekoms op die puinhoop van die vorige bedeling sou verrys. Dit het nie. Alles was hersenskim want bloed was nie bloed skoon nie.
Die onbekookte optredes van onkundige hoëlui het die land spoedig met iets anders as die nag laat donker word. Daarom word die geskiedenis van die reënboognasie as die droewige verhaal van mislukte planne en onwerklike verwagtings aangeteken. Niks ontwrig ʼn land meer as ʼn ideologiese flater waarmee volhard word nie!
2. Ontwrigting
Goeie wette wat dit vir eerbare burgers maklik gemaak het om die regte dinge te doen, is met onregswetgewing vervang wat dit vir booswigte makliker maak om die verkeerde dinge te doen. Baie van die ontwrigting is ook die gevolg van diepgewortelde frustrasies weens leë beloftes.
ʼn Regering wat deur geweld en korrupsie tot stand gekom het, kan uiteraard net deur geweld en korrupsie in stand gehouword. Ongelukkig beland eerbare burgers gereeld in die spervuur van ontwrigting. Eiendomme word geplunder, mense beroof en nou meer as 60 moorde per dag gepleeg.
Die reënboognasie huisves ʼn geweld-segment wat nie in toom gehou kan word nie. Dis die gepeupel wat soos skuim opborrel as die land begin kook; ʼn onkundige massa met ʼn onversadigbare drang na geweld en ontwrigting.
Dit neem sosio-politieke onverdraagsaamheid nie lank om in openbare woede oor te kook nie. Al is dit nooit sonder rede nie, is dit selde vir ʼn goeie rede. Bevliegings van woede maak deurentyd swak landings. Ontwrigting is ʼn stok waarmee hulle kundiges slaan net om te probeer wys dat hulle nie dom is nie!
ʼn Gepeupel word nooit tevrede gestel nie. Hulle blaas die lamp van sinvolle redevoeringtelkens dood. Hul leiers se weersinswekkende uitsprake en onbekookte optredes sal Afrika nooit in enige Eerstewêreld opset laat tuiskom nie. Daarvoor is ʼn hoë intellek, toepaslike kennis en sinvolle redevoering onontbeerlik. Afrika-leiers kan hul mense hoogstens verbaas, maar nooit verander nie.
3. Demokrasie
Onkundiges sien die ontwrigting van die land as die groeipyne van ʼn nuwe demokrasie. Dis onsin! Suid-Afrika het die soveelste slagoffer van onverantwoordelike demokrasie in Afrika geword wat dwase eerliker as slimmes beskou en gevolglik koppe tel in plaas van dit te weeg. Al bedenklike voordeel wat dit vir die kiesers inhou, is dat hulle hul eie teisteraars kan kies!
Ware demokrasie kom nooit in geweldgeteisterde samelewings tot sy reg nie. Dit ontaard altyd in ʼn regering van bullebakke wat deur versteende wraaksug gedryf en met ellende vrede het. Daarom is feitlik elke demokrasie in Afrika met onskuldige bloed bevlek.
Om ʼn gepeupel op dieselfde vlak as eerbare burgers te plaas, is rampspoedig. Demokrasie slaag slegs indien dit deur ʼn regering van kundige burgers gedra word. Wat vir die een land werk, werk nie noodwendig vir alle ander lande nie. Sukses hang van die betrokke bevolkingsamestelling af.
Daarom spruit die gees van demokrasie nooit uit opstand nie. Verantwoordelike demokrasie vereis dat kiesers met ʼn gesonde verstand en ʼn bepaalde opvoedingsvlak leiers kies. Demokrasie is ʼn stelsel van georganiseerde vertroue wat net deur streng beheermaatreëls in stand gehou kan word. Daarsonder is dit altyd ʼn diktatuur!
4. Diktatuur
Suid-Afrika sidder onder leierswat die dwarslêers van die soustrein onder die gewig van hul korrupsie laat kreun. Die probleme wat dit veroorsaak, word met allerlei leuens vanaf openbare podiums geregverdig en die woordeskat van teenstanders dikwels gekriminaliseer.
Afrika-leiers is dikwels vermetel en ongeskik. Dis die sy-wiele waarmee diktators hul politieke balans probeer behou. ʼn Diktatuur is vir alle praktiese redes ʼn skrikbewind met daaglikse geweld en ontwrigting. Die vorige staatsbedeling is onder andere verwerp omdat dit nie aan die vereistes vir ʼn skrikbewind voldoen het nie.
5.Aandadig
Geen onreg is groter as dié van ʼn volk wat onverskillig teenoor die lotsgevalle van sy eie mense staan nie. Dit loop gewoonlik hand aan hand met ʼn meegevoel met geweldenaars wat dit vir hulle maklik maak om ʼn land te ontwrig. Wie hulself wysmaak dat die booswigte eintlik goed bedoel, maak ʼn swaard vir hul eie bors skerp!
Verwarde denke los nie probleme op nie, maar herrangskik dit eerder. En as sake boemerang, probeer dwase altyd hul flaters met allerlei morele verskonings doodverf. Dit maak hulle nie minder aandadig aan die ontwrigtings in die land nie. Desondanks leer hulle nie dat op die puinhoop van opstand geen beter toekoms tot stand kom nie.
Slot
Gelowiges durf nooit met die ontwrigting in die land vrede maak nie. Solank as wat onreg, frustrasie, bitterheid en die gevoel van hulpeloosheid aan die orde van die dag is, moet gelowiges dit bly aanspreek. God is ʼn God van vrede en orde. Hy sal die onregskeppers op sy eie tyd aan die pen laat ry:
“Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders.Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en’n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees. Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien” (Ps.11:4-7).
Gelowiges moet die Here baie ernstig vir nuwe leiers bid. Dit moet almal mense wees wie se harte in die bloed van Jesus Christus gewas is.
“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop en vir julle sal oopgemaak word.Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid” (Mt.7:7,8,11).
Daarbenewens moet gelowiges baie ernstig met vrysinnige volksgenote en ontspoorde kerke gaan praatom na God en hul volk terug te keer:
“en as my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron.7:14).