Die NG Kerk en die Wêreldraad van Kerke
Ds. A.E van den Berg
Inleiding
Die NG Kerk word al vir baie jare deur magte groter as sy self beheer. Haar heropname in die Wêreldraad van Kerke (WRK) in 2016 is ʼn sprekende bewys hiervan. Desondanks glo sy dat sy daarmee ʼn geskiedkundige fout wat meer as 50 jaar gelede begaan is, herstel het. Dis allermins die geval. Die NG Kerk het die stem van die internasionale ekumeniese kerkgemeenskap met die stem van God verwar!
1. Bedenklike verlede
Die WRK is in 1948 in Amsterdam gestig. Dis van meet af aan besig om die grondslae vir ʼn superkerk wat wêreldwyd aanklank gaan vind, te lê. Die WRK is die kerklike weergawe van die wêreldwye sosialistiese ideaal en ʼn invalspoort van die Antichris. Dit vervreem mense van die waarheid van God se Woord en hul volksliefde. Verskeidenhede moet ontbind en almal een word.
Suid-Afrika het die vervreemding in 1960 begin voel toe die NG Kerk se paaie met dié van die WRK na die Cottesloekerkeberaad in Desember van daardie jaar uiteen begin loop het. Die aanvoorwerk is egterlank voor dié tyd gedoen. Behoudende gelowiges het toenemend met kerklui wat deur die leiersfigure van die WRK beïnvloed is, gebots.
Die Cottesloe-beraad was ʼn poging van die WRK om met behulp van plaaslike Engelse kerke die hoofstroom Afrikaanse kerke te oorreed om die beleid van eiesoortige ontwikkeling te verwerp. Die Sharpeville-gebeure van Maart 1960 het die verlangde reaksie gehad. Hierdie gebeure was sorgvuldig beplan. ʼn Klomp betogers moes doodgeskiet word om kerke se aandag op die lot van swartes in Suid-Afrika te vestig.
Die WRK se poging om hoofstroom Afrikaanse kerke te beweeg om die beleid van eiesoortige ontwikkeling te veroordeel, het slegs by die NG Kerk van die Kaap en Transvaal byval gevind. Die versiendheid en optrede van ʼn aantal behoudende leraars van die NH Kerk het egter hul aanvaarding van die Cottesloe-besluite laat terugtrek.
Dit was nie die einde van die WRK se sosialistiese droom aan die suidpunt van Afrika nie. Ontspoorde NG teoloë het voortgegaan en die Christelike Instituut van Suid-Afrika gestig om die WRK se denke te bevorder. Groot bedrae buitelandse geld is na Suid-Afrika gekanaliseer om die SA Kommunistiese Party (SAKP) en ander ondermyningsorganisasies te help om struikelblokke vir ʼn sosialistiese bewindsoorname in Suid-Afrika uit die weg te ruim.
Talle kerklui wat met hul optrede en uitsprake die volksvyand se saak bevorder het, is as van die voorste teologiese denkers ter wêreld vereer en die kalklig terdeë geniet. Die Afrikaner Broederbond was die invalspoort waar hulle feitlik sonder verdenking kon saamsweer. Hoofstroom kerke moes ʼn sosialistiese magsoorname aan die suidpunt van Afrika help verkry!
Toe die NG Kerk ná die Cottesloe-beraad weier om die beleid van afsonderlike ontwikkeling te veroordeel, het die WRK haar lidmaatskap as strafmaatreël in 1962 opgeskort. Die NG Kerk sou later daarna as die “donkerste tye in die kerk se ekumeniese verhoudings” verwys.
Na die volksverraad wat die ANC in 1994 aan bewind sien kom het, wou die NG Kerk graag weer lid van die WRK word. Haar ideaal om volle lidmaatskap te verkry, is in 2007 met ʼn besluit van die NG Kerk se Algemene Sinode in Boksburg in alle erns hervat. Dis in 2016 bewaarheid.
ʼn Amptelike berig het gelui dat die NG Kerk weer met trots haar plek tussen afgevaardigdes van kerke oor die wêreld heen ingeneem het om saam na die waarheid te soek. Biskop Desmond Tutu, een van die hooffigure van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), het oorstelp van blydskap gedans.
2. Bedenklike toekoms
Die WRK is tans met die inwerkingstelling van ʼn tussengeloofsgemeenskap besig en poog selfs om jong Moslems en Jode te leer om met hulle eie geloof vertroud te wees ten einde mense ten goede te beïnvloed. Daarmee word Jesus se laaste opdrag geminag:
“Gaan dan heen, maak dissipels van die nasies, doop hulle in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle geleer het” (Mt.28:19).
Gevolglik ontken die WRK dat Jesus die enigste brug tussen God en mens is (Joh.14:6) en maak hul aan godsdiens-sinkretisme skuldig.
Die Bybel waarsku dat die kerk van Jesus Christus aan die einde van die tyd baie ernstig deur die valse kerk vervolg gaan word. Jesus het alreeds in sy tyd op aarde daarmee te doen gehad!
Kerke is veronderstel om rigting in ʼn verwarde wêreld te gee, teen dwaalleer te waarsku en by mense ʼn weersin in die leuen en ʼn liefde vir die waarheid te kweek.
“En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”(Joh.8:31,32).
Slot
Dis tragies dat die NG Kerk wat vir eeue lank die geestelike bastion van haar volk, haar vir ʼn lêplek in die kring van die spotters beywer en dit verkry het. Gemeet aan die chaos wat die sosialistiese bewind aan die suidpunt van Afrika veroorsaak, ontbreek woorde om die onnadenkendheid van haar optrede te omskryf. So ʼn tragiese verlies aan profetiese visie regverdig geen verdere bestaansreg nie. Die vuurtoring se lig is uitgedoof en siele gaan op die rotse van ewige verdoemenis loop.