Ds Andrè vd Berg
“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld.... En God het die mens geskape.... man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen.1:26,27).
Die krag van ’n volk hang van sy geloof in God en gehalte van sy gesinslewe af. Die gesin is die kern van ʼn beskawing en as’t ware die smidswinkel waar lewenswaardes op die aambeeld van die lewe gevorm word. ʼn Gelukkige gesin is ‘n voorsmaak van ʼn vervroegde hemel.
Dit gaan op talle lewensgebiede sleg met ons volk. Een van die ergste is die verbrokkeling van ons gesinslewe; ʼn euwel met ʼn rimpeleffek. Dit raak nie net die gesinslewe nie, maar kring ook na die kerk en die breë gemeenskap uit.
Waarom verbrokkel ons gesinslewe? Omdat daar aan die rolverdeling van man en vrou gepeuter word! Die Bybel is duidelik oor die rol wat man en vrou in die gesin moet speel. Ongelukkig slaag Satan daarin om dié rolle om te keer.
God was nie verward toe Hy man en vrou geskape het soos wat homoseksuele mense indirek probeer voorgee nie. In die teksverse skep God ʼn onsterflike gees in die mens en verdeel hulle in twee duidelik onderskeie kategorieë; man en vrou. Daarna het Hy hulle geseën en beveel om te vermeerder.
Gen.2:15 is die verslag van die skepping van die mense se liggame. Dit vertel ook van God se opdragte aan Adam. Hy word in die tuin van Eden aangestel om dit te versorg, maar word gewaarsku om nie van ʼn sekere boom te eet nie. Adam ontvang hierdie opdragte voor die skepping van Eva. Vers 18 maak vir die eerste keer van haar skepping melding. Sy word geskep sodat Adam nie langer alleen moes wees nie. Sy is sy hulp en voltooi hom deur hom aan te vul; nie om met sy rol te wedywer nie. Huisgesinne waar die hen die kraai-werk doen en die haan vredesonthalwe maar stilbly, strek God nie tot eer nie!
God het aan die man die verantwoordelikheid gegee om hoof van sy gesin te wees. Eva se vergryp aan die verbode vrug was die gevolg van Adam se gebrek om verantwoordelikheid in die huwelik te neem. Wie sy verantwoordelikheid ontduik, soek iemand om vir die gevolge te blameer:“ Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee en ek het geëet” (Gen.3:12).
Adam het nie sy Godgegewe gesag gestand gedoen nie. Toe hy ook van die verbode vrug eet, het hy as’t ware sy opdrag as Godgegewe leier van sy huis opgesê. “.... Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou.... vervloek is die aarde om jou ontwil...” (Gen.3:17).
God het man en vrou as gelykes geskape, maar met duidelik onderskeie rolle en verantwoordelikhede in die gesin, gemeenskap en kerk. Die NT herbevestig God se doel met die gesinslewe in Efes.5. Christus is die geestelike voorbeeld van die man se rol in die gesin. Soos wat die kerk aan Hom onderdanig is, moet getroude vrouens aan hul mans onderdanig wees. Getroude mans moet op hulle beurt hul vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad het. Die opdrag is ondubbelsinnig: Vroue moet aan hul eie mans onderdanig wees en mans hul vrouens op dieselfde manier liefhê as wat Christus sy kerk lief het.
Daar is vandag ʼn duidelike opstandigheid hierteen te bespeur; vrouens sukkel om aan hul mans onderdanig te wees. Is dit miskien daaraan te wyte dat mans hulle vroue nie meer liefhet soos God eis nie? Let daarop dat die Bybel mans beveel om hul vroue lief te hê, maar vroue word nie aangesê om hul mans lief te hê nie! Waarom nie? Omdat vrouens geskep is om lief te hê. Dis vir hulle natuurlik om op die liefde van hul man te reageer. Daarom het God aan vroue nie so ʼn opdrag gegee nie. Dis natuurlik vir hulle. Na die mate wat die man liefde aan sy vrou betoon, betoon sy eerbied aan hom. Let daarop dat oral waar liefde in ʼn huwelik ontbreek, eerbied in dieselfde verhouding ontbreek!
In Efes.6:4 word vaders beveel om hulle kinders in die weë van God op te voed. Daarom berus die verantwoordelikheid vir die geestelike, psigiese en fisiese welsyn van die gesin by die man. God het aan hom drie duidelik onderskeie rolle toegeken – profeet, priester en koning.
As profeet moet hy die Woord van God in sy gesin spreek. Hy is die godsdienshoof van sy gesin. As priester moet hy vir sy gesin bid. As koning moet hy regverdig teenoor optree. Hy is nie ʼn diktator nie, maar ʼn dienaar-leier wat nooit eie behoeftes en begeertes bo dié van sy gesinslede stel nie.
Die man moet weet dat hy aan God verantwoording doen. Hy moet geestelike gesag en orde in sy huis wees; nie onderwerping nie! Soos wat Christus die hoof van sy kerk onder gesag van die Vader is, so is die man hoof van sy huis onder die gesag van Christus. Dis die bloudruk waarmee God gesinne beskerm. As dit nagelaat word, verloop geen gesinslewe reg nie!
Dis tragies om te sien hoe mans hul Godgegewe rolle neerlê. Gevolglik moet die vrou haar belangrike rol in die huisgesin noodgedwonge prysgee om die man se verantwoordelikhede ook op haar te neem. Vrouens moet teen wil en dank beide rolle van ma en pa speel. Geen wonder dat gesinne verbrokkel nie!
Vaderlose huishoudings is ʼn bydraende faktor tot maatskaplike euwels. Nee, elke kind behoort die lewe deur die goue hek van ouerliefde in te gaan. Geen mens kan ʼn wonderliker ervaring as gelukkige kinderjare te hê nie. Goeie ouers is padwysers na die hemel. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar - van slegte saad verkry niemand ʼn goeie oes nie!
In ʼn poging om God se wil van die man as hoof van die huis te probeer uitwis, verkondig feministe al hoe meer geslagsgelykheid. Die unisex beweging kom van die Satan wat vrouens met die rol van die man laat wedywer. Sogenaamde bevryde vroue leef al hoe onsedeliker, aborteer ongewenste bevrugtings en vermoor hul eie kinders. Dis alles opstand teen God!
Ten spyte van enkelmoeders wat uitmuntende werk doen, vergoed dit nie vir afwesige vaders nie. God se opdrag aan die man laat geen ruimte vir onderhandeling nie. Elke gesinshoof kies of hy aan God se skeppingsorde en beginsels vir die gesinslewe gehoorsaam wil wees. Ongehoorsaamheid het vernietigende gevolge.
Daar is net een wenresep vir gesinsvreugde – terug na die Bybelse beginsels. Dink daaraan dat kinders die enigste ding is wat jy saam met jou hemel-toe kan vat. Daarom is die grootste diens wat ouers hierdie volk kan lewer, om hul kinders in die wee van die Here op te voed. Wie kinders sonder Jesus groot maak, maak slim duiwels groot!
Kinders is die lewende boodskappe wat ons die toekoms instuur vir ʼn tyd wat ons self nie gaan beleef nie. Ons as ouers is soos ʼn Moses wat nooit die beloofde land binnegegaan het nie. Hy het egter sy mense vir ʼn lewe voorberei wat hy self nie sou sien nie.
Hoe lyk jou gesinslewe? Sien en hoor jou kinders Jesus in jou lewe? Kinders sal God makliker as hul hemelse Vader aanvaar indien hulle iets van Hom in hul eie vader raaksien. Kinders kyk na ons. Laat ons met nuwe ywer aan God se bloudrukplan vir ons gesinslewe werk.