LERAARS - DIENSKNEGTE OF EGO-POETSERS?

 Ds Andrè vd Berg

“As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God...” (1 Pet.4:11).

1. Inleiding

Kerke beklee die derde plek in ʼn samelewing. Dis die ruimte waar mense tyd naas hul huisgesinne (eerste plek) en werksplekke (tweede plek) deurbring.   Omdat mense in die kerk hul hartseer, kommer en vreugdes met mekaar kan deel, vervul ʼn gemeente ʼn belangrike plek in die gemeenskap.

Ongelukkig is georganiseerde godsdiens besig om sy staanplek as ʼn pilaar van morele leierskap te verloor. Kerkgang word as ʼn oorgeërfde, kulturele gebruik beskou word wat uitgedien geraak het.

Om dit aan ʼn afvalligheid van God se Woord toe te skryf, is deels waar.   Die kern-oorsaak lê egter in eie geledere. Die akker waarin baie kerke vandag saai, is so met die onkruid van humanisme besmet en die vrug wat dit oplewer, bitter. Verkeerde saad het nooit ʼn goeie oesopbrengs nie!

1.   Saaiers

Alhoewel leraars nie die kerk as sulks is nie, speel hulle ʼn uiters belangrike rol in die geseënde werking daarvan. God het dit so bestem.

En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (Ef. 4:11,12).

Gelowiges deel in die geseënde tradisie om Sondae kerk toe te gaan en Bybelse leiding vir die lewe te ontvang. Leraars is boodskappers van God. In Jesus se verslag aan die sewe gemeentes van Klein Asië (Openb.2,3) word leraars engele genoem. Hulle is, net soos die engele, God se boodskappers.

Prediking moet gelowiges in die waarheid saambind. Ongelukkig gebeur dit al hoe minder omdat baie leraars nie die pad van gehoorsaamheid aan God volg nie, maar deur die behoefte om mense tevrede te stel, oorweldig word. Dit voed hul versugting na eiewaarde en word ʼn leefwyse.

2.   Oneerlik

Ego-poetsers is oneerlik. Hulle leer ʼn gedrag aan wat dikwels met Bybelse beginsels bots en hul eie doelstellings saboteer. Daarom voel hulle ongemaklik as iemand ʼn ander standpunt inneem en maak vinnig verskoning uit vrees dat hulle as pretbederwers uitgewys kan word. Sodra gewildheid belangriker as die waarheid word, staan onreg in die voordeur. Pilatus is ʼn voorbeeld hiervan:

“Maar die owerpriesters het die skare aangehits dat hy liewer Barábbas vir hulle moes loslaat..... En omdat Pilatus aan die skare hulle sin wou gee, het hy Barábbas vir hulle losgelaat; en nadat hy Jesus laat gesel het, het hy Hom oorgelewer om gekruisig te word” (Mark.15:11,15).

Aanprysing en mooi woorde laat alle mense goed laat voel. Ongelukkig bepaal dit ego-poetsers se hele selfbeeld en gaan hulle uit hul pad om konflik te vermy en te swyg eerder as om ʼn ander standpunt in te neem. ʼn Belangrike Bybelse opdrag word agterweë gelaat:

Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).

Leraars en politici verkeer basies in dieselfde situasie – hulle is in die openbare oog en mense verwag van hulle om suksesvol te wees. Dit laat hulle maklik voor die versoeking swig om mense tevrede te stel. Neurochirurge sê dat die brein ingestel is om verwerping te vermy. Daarom ervaar baie leraars teenstand as ʼn soort van verwerping en probeer dan eerder mense tevrede stel al skreeu dit teen die waarheid. Jesus waarsku:

“Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen” (Luk.6:26).

Die Psalmdigter gee goeie raad:

“Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou” (Ps.118:8).

3.   Is God tevrede?

Hoe stel ʼn leraar God tevrede?   Deur aan Hom en sy Woord gehoorsaam te wees. Ego-poetsers probeer Hom deur gedienstigheid aan mense tevrede te stel en glo dat as mense gelukkig is, God ook tevrede is. Dis ʼn misgissing:

Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis. En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand.4:19; 5:29).

Paulus skryf ʼn rukkie later:

“Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ’n dienskneg van Christus wees nie” (Gal.1:10).

Paulus skryf aan die Korintiërs oor sy vryheid as leraar. God het aan leraars sekere voorregte gegee soos om deur mense eerbiedig te word en die vrug van hul arbeid te geniet - beslis nie om mense tevrede te stel nie!

Hy erken dat hy ook mense ter wille was, maar slegs as dit die evangelie bevoordeel het:

Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet — al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus — om die wat sonder die wet is, te win;vir die swakkes het ek soos ’n swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red. En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ’n deelgenoot daarvan kan word” (1 Kor.9:19-23).

4.   Soos ʼn kankersel

Ego-poetsing is soos ʼn kankersel en eis ʼn swaar tol op leraars se geestesgesondheid, geluk en doelmatigheid. Timoteus het waarskynlik hiermee gesukkel. Daarom vra Paulus hom om nie bedees te wees nie:

Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim.1:7).

Sonder krag, liefde en selfbeheersing kan ʼn leraar nie ʼn dienskneg van God wees nie.

Salomo skryf:

“Die vrees vir die mens span ’n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word” (Spr.29:25).

Geen leraar put ware genoegdoening uit ego-poetsing nie. Hulle word nooit werklik vertrou nie. En dit veroorsaak baie spanning. Dit maak dat mense wat moet saamwerk, mekaar teenstaan en in die proses dislojaal word. Leraars is nie vir mense se geluk verantwoordelik nie, slegs om God se wil te doen.

“Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Joh.4:34).

Paulus vermaan die gelowiges in Efese:

En beproef wat die Here welbehaaglik is... Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is” (Efes.5:10,17).

5.   Onheilige swye

As Jesus die selfde boodskap as die heendaagse ego-poetsers gepreek het, sou mense nooit tot bekering gekom en Hy waarskynlik nooit gekruisig gewees het nie. Leraars durf nooit aan die Evangelieboodskap verander om mense ter wille te wees nie. Boodskappers van God swyg nie oor die waarheid nie.

“...nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie” (Efes.6:6,7).

“Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim.2:15).

Daar was in Jesus se tyd talle mense wat wel aan sy Messiasskap geglo het, maar uit vrees om ongewild onder mense te wees, eerder ʼn baie lae profiel gehandhaaf het:

“Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Joh.12:42,43).

Jesus sê:

“Eer neem Ek van die mense nie aan nie” (Joh.5:41).

Wie van mense se goedkeuring leef, sal van God se verwerping sterf. Daarom dring Paulus by die Kolossense aan om nooit mense se guns te soek nie:

“En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol.3:23).

6.   Ontsporing

Die Bybel waarsku dat ego-poetsers net voor die wederkoms van Jesus ernstig gaan toeneem:

“...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).

Ego-poetsers en valse profete verskil nie veel nie - beide spreek nie namens God nie.   Dit gaan vir hulle om gewildheid en nie leersuiwerheid nie. Dit maak die een net so gevaarlik soos die ander een!

Paulus het mense wat hom van ego-poetsing beskuldig het, tereg gewys:

“Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ’n dienskneg van Christus wees nie” (Gal.1:10).

“...maar soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef” (1 Thess.2:4).

Ego-poetsers vertel mense wat gruwels bedryf dat God hul nie daarvoor sal straf nie. Die sondes van Sodom en Gomorra word byvoorbeeld deur talle ontspoorde kerke goedgepraat; iets waarmee Paulus al in sy dae gesukkel het:

“...mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:32).

Ontspoorde kerke staan skuldig hieraan. Dit word godsdiensklubs met valse leraars aan die roer van sake.  Jeremia het ook hierdie probleem geken:

“So sê die HERE.... Luister nie na die woorde van die profete .... hulle vervul julle met ydele verwagtinge ....nie uit die mond van die HERE nie” (Jer.23:16).

Ego-poetsers is soms baie gewild.   Hulle is polities korrek en swem saam met die stroom wat die goddeloosheid, net soos in die dae van Jeremia:

“Daarom, so sê die HERE van die leërskare aangaande die profete: Kyk, Ek laat hulle wildeals eet en laat hulle gifwater drink; want van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan” (Jer.23:15).

Paulus waarsku ook:

En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges” (Rom.16:17,18)

7.   Eindtyd

Jesus waarsku dat valse leraars aan die einde van die tyd gaan toeneem:

En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mt.24:11).

Paulus het iets hiervan ervaar:

“Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie” (Hand.20:29).

Petrus waarsku:

Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikheid navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek.... “ (2 Pet.2:1-3)

Johannes waarsku ook:

Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh.4:1).

God se oordeel gaan baie skerper op misleiers in ampsgewaad wees:

“Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die HERE. Daarom, so sê die HERE, die God van Israel, aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe en hulle nie opgesoek nie. Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, spreek die HERE. WAT die profete betref — my hart is gebreek in my binneste, my hele gebeente sidder; ek is soos ’n dronk man en soos ’n man wat deur die wyn oorweldig is, vanweë die HERE en sy heilige woorde. Want die land is vol owerspelers; want die land treur weens die vloek, die weivelde van die woestyn verdor; ja, waar hulle na strewe, is sleg, en waar hulle hul krag in soek, onreg. Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die HERE. Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerige plekke in die donkerheid; hulle sal neergestoot word en daarin val. Want Ek sal onheil oor hulle bring in die jaar van hulle besoeking, spreek die Here” (Jer.23:1,2,9-12).

Slot

Ontspoorde kerke met hul skoktroepe valse leraars en ego-poetsers is grootliks vir die volksverval in Suid-Afrika verantwoordelik. Om byderwets en mense ter wille te wees, laat hulle die pad al hoe meer byster raak. Daarom het kerke in baie gevalle in plekke vir gemeenskapsdruk, toevlugsoorde vir vlugtelinge en onwettige immigrante en misdadigers geword.

Waar hoofstroomkerke in die verlede wagters op die volk se mure was en teen booshede gewaarsku het, maak dit vandag die poorte vir booshede oop. Dit laat die gat in die morele osoonlaag al hoe groter word.

Dit wat sedelik verkeerd is, kan nooit vir ʼn volk reg wees nie. Van die 22 beskawings wat al tot ʼn val gekom en van die wêreldtoneel verdwyn het, het 19 weens sedelike verval ten gronde gegaan.As God ons nie help om ʼn einde aan hierdie kerkgesubsidieerde ontaarding te maak nie, gaan dit ʼn einde aan ons maak!