ADVENT

Kinderoordenking

Ds Andrè vd Berg

Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde in die mense ʼn welbehae!”(Luk.2:14)

My naam is Nicolaas. Ek is 280 jaar na die geboorte van ons Here Jesus in ʼn klein dorpie in Klein-Asië (vandag se Turkye) gebore.   My ouers was redelik ryk sodat ek aan niks stoflik gebrek gehad het nie. Hulle was egter ook baie gelowige mense en het my van jongs af van Jesus geleer. Daarom het ek as ʼn jong seuntjie my hart vir Hom gegee.Dit was vir my ʼn baie groot vreugde om Hom saam met my ouers lief te hê en te eer

Toe breek daar ʼn dodelike pessiekte in ons dorpie uit waaraan baie mense dood is; ook beide my ouers. Ek het dit oorleef.In daardie dae was daar nog nie boeke soos julle dit vandag ken nie. Al wat ek van die Bybel geweet het, was dit wat my ouers my van kindsbeen af vertel het.

Een van my gunsteling Bybelverhale was die geboorte van ons Here Jesus. My pa het vir my graag van die Kersnag met die engelekoor, skaapwagters en Jesus se geboorte in stal vertel. Dit het so ʼn diep indruk op my gemaak, dat ek gereeld daaraan gedink het. Om te dink dat God in Jesus vanuit die hemel gekom en sy eie lewe vir sondaars gegee het!   God is ʼn Gewer.

Ek het besluit om vir die res van my lewe ook te gee waar ek kon. Daardeur sou ek help om daardie vrede waarvan die engele daardie Kersnag in Betlehem se ope velde gesing het op die aarde te verwerklik.

Ek het na my ouers se dood by familie in die dorpie Myra gaan woon en, dit wat my ouers my geleer het, elke dag probeer uitleef. Na my skoolopleiding het ek vir ʼn paar jaar Bybelonderrig ontvang. Toe ons gemeente se predikant skielik oorlede is, het die gemeentelede my gevra om die leiding oor te neem. Ons het destyds nie van dominee gepraat nie, maar van ʼn biskop.   En so het ek dan op ʼn jong leeftyd biskop Nicolaas geword.

My werk was nie maklik nie. Turkye was destyds deel van die Romeinse ryk. Die Romeine was heidene en het gevolglik nie van Christene gehou nie. Kieser Diocletianus het my bv. in hegtenis laat neem en in die tronk gegooi net omdat ek my mense van Jesus geleer het. Nadat Konstantyn die nuwe keiser geword het, is ek vrygelaat.   Hy het Christenvervolging verbied sodat ek weer met my werk kon aangaan.

Dit was vir my lekker om mense te kon help.   Ek het my bes probeer om te sorg dat armes altyd kos gehad het. Om dit te kon doen, het ek maar by boere en winkeleienaars vir skenkings aangeklop en ontvang. Ek het ook van my erfgeld en salaris gebruik om die nood te help verlig.

Ek wil julle egter ʼn geheim vertel. Ek het elke jaar op die vooraand van Kersfees my so ʼn bietjie vermom, in die stilligheid na huise van arm mense gegaan en vir die kinders in daardie huis ʼn geskenkie neergesit sodat hulle ook Kersfees kon bly wees.   Ek het dit so geniet om die volgende dag te hoor hoe verras en bly hulle oor die geskenkies was.

Ek is skielik op 34 jarige leeftyd oorlede. My kerk het ter nagedagtenis aan my die storie van my lewe, hoe ek vir behoeftige kinders geskenkies gegee het, oor die hele wêreld versprei. Daar is egter hartseer dinge aan my verhaal toegevoeg. Mense het vir my rooi klere aangetrek en ʼn lang wit baard gegee, nie eens van die boepens, takbokke, slee en sneeu te praat nie!

Wat my egter die seerste gemaak het, was dat ek die naam Sinterklaas, van St. Nicholas afgelei, en ook Kersvader gekry het. Dit het al die aandag van Jesus afgetrek. Ek is tot vandag toe nog baie hartseer daaroor. Ek wou maar net iets van die liefde van God in Christus prakties aan mense deurgee sodat hulle iets van die vrede van die Kersnag-engelekoor sou smaak.  

Die verhaal van biskop Nicholas is ʼn mooi, maar ook ʼn hartseer verhaal. Kyk maar net hoe lyk ons handelsomgewing in hierdie dae wat oploop na Kersfees!Dis net Sinterklaas waar jy kyk; in winkelvensters, op straathoeke, in winkel-sentrums met kinders op sy skoot en op advertensies – alles pogings om mense aan te moedig om meer te koop.

Sinterklaas het ʼnonmisbare smous gewordvir handelaars wat Mammon dien! Dit weerspieël allermins die ware gees van Kersfees. Die ware gees van hierdie dag lê in Luk.2:14 wat van God in die hoogste hemel vertel en Sy vrede op aarde – daardie dinge wat biskop Nicolaas aangespoor het om iets van God as die Gewer sigbaar te maak.

Luk.2:14 vertel van God wat in Jesus Christus vrede tussen Hom en sondaars gebring het.   Hy wil dat ons in vrede met mekaar leef.   Nogtans sien ʼn mens dit so min. Die hele wêreld smag na vrede, maar verkies om in onmin te leef. Gevolglik word gewone mense dikwels die slagoffers van onreg-strukture, mag, geweld en konflik.

Baie mense smag na vrede, maar vind dit nie omdat hulle van Kersfees iets anderste maak; presies wat hulle met biskop Nicolaas gedoen het - van sy verhaal ʼn ander verhaal gemaak wat glad nie by die oorspronklike pas nie. Nee, Kersfees gaan oor God; Sy eer en verheerliking en vrede. As dit nie hieroor gaan nie, vier mense nie Kersfees nie maar Krismis en dra hulle die gevolge!