GELOOFS- GEMEENSKAP

Ds AE vd Berg

“En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal” (Hand.4:33).                            

Mense se ware kleure kom gewoonlik onder druk te voorskyn. Dis maklik om oor geloof te praat as die son in jou lewe skyn, maar wanneer onweerswolke saampak, is dit nie altyd so maklik nie - vra vir Job.

Die wonder van ware geloof, is dat dit in sulke situasies opbloei. Let op die getuienis van gelowiges agter die eertydse ystergordyn. Dis aangrypende verhale van gelowiges wat ter wille van hul geloof gely en selfs gesterf het. Van hulle het selfs in hul uur van droefheid vir Westerse gelowiges gebid!

Omdat Satan vir God haat, sal die kerk van Christus altyd teenstand van die wêreld ervaar. Satan gebruik mense, organisasies en selfs regering om dit te probeer dooddruk.   Handelinge vertel daarvan; ʼn Bybelboek wat oor die vervolging en uitbreiding van die Christen-kerk handel.

Sodra ʼn kerk opbloei, moet dit soos die eerste Christen gemeente waarvan Lukas melding maakteenstand verwag. Die gemeente het pas tot stand gekom (Hand.2) toe die leiers (apostels) in die tronk (Hand.4) gegooi is omdat hulle die Evangelie van redding in Jesus verkondig het.   Dit moes hul na reg ontmoedig het, maar dit het nie. Wat het hulle in hul aan die gang gehou?   Die gemeente se onderlinge liefde en gebede vir mekaar. Wat het hulle staande gehou?   Die liefde vir die waarheid en ʼn besondere eenheidsgevoel wat hulle saamgesnoer het. Die waarheid snoer mense altyd saam; leuens laat hulle uitmekaar spat.

Die kerk bely al eeue lank hierdie eenheidsgevoel en word die gemeenskap van die heiliges genoem – mense wat hul deur die bekering vir Jesus op sy gesit het.    En die Satan haat dit!   Daarom probeer hy op baie maniere om dié gemeenskap te vernietig. Hy het die eerste leiers selfs laat opsluit om hul stem stil te maak!

Toe Petrus en Johannes vrygelaat is, het hulle direk van die tronk af na die gemeenskap van die gelowiges teruggekeer. “En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel....” (:23).   Hier word van hul eie mense gepraat; diegene met wie hulle ʼn geestelike familieband gehad het.  

Dis wonderlik om mense te hê na wie jy in tye van krisis kan gaan of na ʼn krisis kan terugkeer. Die gelowiges in Jerusalem het geweet dat hulle saamhoort. Hul geloof in Christus het hul saamgebind. Wat bind ons vandag aan mekaar?   Konserwatiewe lewenswaardes? Nee, slegs die wonder van verlossing!

Drie elemente staan in die Jerusalem-gemeente uit: Toewyding, samewerking en medelye.   Toe die twee apostels by hul geloofsgenote aankom, het hulle nie oor hul lot of die behandeling in die tronk gekla nie, maar saam lofliedere tot God se eer gesing, lynreg teen die bevel van die tronkowerheid: “En hulle het hulle geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie” (:18).   Hulle het die bevel nie gehoorsaam nie, maar wat God van hulle verlang het: “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek” (:29).

Die apostels het onverskrokke voortgegaan om mense tot bekering op te roep.   Wat doen ons wat geen bedreiging beleef nie?   Praat ons met mense oor hul siele of is ons bang ons aansien ly skade? Pasop, Jesus waarsku: “Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele” (Mark.8:38).

Na die loslating van die apostels was daar onder die gemeentelede ʼn behoefte om saam te bid waarna die plek van samekoms soos deur ʼn aardbewing geskud is –die teken van God se teenwoordigheid. Satan vrees gelowiges wat saam bid. Al is jy liggaamlik swak, is jy op sy knieë veels te sterk vir die Satan!  

Die tweede kenmerk van die gemeente was hul samewerking.   Van hulle word die wonderlikste woord gesê: “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel...” (:32).   Almal was opreg met God en met mekaar.   En dis net moontlik indien almal die selfde geestelike behoefte het.  

Die derde eienskap wat hierdie gemeente laat uitstaan het, was hul medelye met mekaar – die bereidheid om saam te ly.   Daar was destyds onderlinge armoede en het mense alles wat hulle gehad het, verkoop om vir mekaar te sorg. Dis egter geen goue reël wat vir alle tye geld nie.   God verwag van ons om in tye van nood nie toe hand te wees nie.  

Hierdie gemeente in Jerusalem is vir gelowiges ʼn navolgenswaardige voorbeeld van die gemeenskap van die gelowiges wat in elke gemeente behoort te wees.   Hand.4 is soos ʼn spieël voor ons.

Wat bind ons saam?   Ons liefde vir Christus, ons soeke na die waarheid en liefde vir ons volk.   Daarom kon ons sonder enige gewetenswroeging bande met ons vorige kerkverband breek. Hul liefde vir God, liefde vir die waarheid en liefde vir hul volk het afgeneem. Toe dinge op kerklike gebied donker geword het, was God ons Boerevolk genadig om vir ons lig in ons duisternis gegee. En so het daar oral gemeentes ontstaan wat Jesus liefhet, die waarheid koester en vir hul volk omgee. En daarvoor dank ons die Here Jesus wat aan die regterhand van God is vanwaar Hy sy kerk regeer en bewaar!

Verlustig ons onsself nog in die gemeenskap van die gelowiges?   Of is ons soos die gemeente in Efese? Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie.... en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie. (Openb.2:2-4)

Satan haat die gemeenskap van die gelowiges en is daarop uit om dit op te breek. Ons moet daarop bedag wees!   Daar is niks beter om te doen as om hierdie bande te versterk nie. Wat doen jy om die geestelike heil en die gemeenskap van die gelowiges in die gemeente te bevorder?   Kan dit aan jou kerkbesoek, betrokkenheid en gebede vir jou geestelike familie gesien word?

ʼn Gemeente straal een van twee beelde na buite uit – of ʼn kragsentrale of ʼn hospitaal. In ʼn kragsentrale word krag opgewek wat lig in donkerte gee. ʼn Hospitaal wek as sulks nie krag op nie. Dis ʼn plek waar siek mense verpleeg word. ʼn Gemeente wat innige gemeenskap van die gelowiges beleef, stuur God se reddingskrag soos lig in duisternis uit. ʼn Gemeente waar lidmate gedurig met mekaar vasval, bly net wonde verpleeg.

Ons staan op die drumpel van die wederkoms van Christus. Vervolging gaan weer aan die orde van die dag kom.   Ons kan nie bekostig om soos ʼn hospitaal te funksioneer nie, maar soos ʼn kragsentrale!