DIE DWALING VAN KINDERNAGMAAL

Ds A.E. vd Berg

“Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en die bloed van die Here”(1Kor.11:27).  

Godsdiens afvalligheid skiet in Protestantse kerke soos paddastoele op ʼn mishoop op. Kerke wat nooit gemene sake met die Roomse Kerk (RK) gehad het nie, maak al hoe meer van haar tradisies, simbole en gebruike onder die dekmantel van liturgiese vernuwing gebruik. Dit word vanaf kansels as ʼn verdieping van die geloofslewe aangebied en mense sluk dit soos in die dae van Hosea: My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis...” (Hos.4:6).

Geen Roomse tradisies of simbool verdiep die geloofslewe in Christus nie. Dit bind kerke eerder aan die wurgketting van die Vatikaan en boet almal beginsels in. ʼn Kerk wat beginsels versaak, begin by een, daarna word dit twee en so hou dit aan totdat daar niks meer oorbly behalwe die begeerte om te verander ten einde byderwets te wees nie.  

Die Hervorming van die 16de eeu het die RK tot in haar fondamente geskud waarna sy gesweer het dat alle Protestantse kerke eendag nog na haar sal terugkruip.   En dit gebeur vandag sienderoë. Roomse simbole, rituele en dwalings word sonder noemenswaardige teenstand aanvaar.

Kerke wat in die verlede teen die Roomse gevaar gewaarsku het, swyg vandag in alle tale.   Die viering van Roomse heilige dae, kruissimbole en die aansteek van kerse vind al meer byval, so ook die toelating van kinders tot die nagmaal!

ʼn Kerk is alleenlik suiwer indien dit die Woord en die sakramente suiwer bedien en die kerklike tug uitoefen. Wie hiervan afwyk, dwaal soos die NG Kerk toe sy die nagmaal in 1998 na ʼn Sinodebesluit ook aan kinders begin bedien het,ongeag of hulle kategese deurloop en openbare geloofsbelydenis afgelê het.      

Om met die bediening van sakramente te dwaal, skaad die geloof.   Daarom is kindernagmaal deur die eeue altyd as ʼn dwaling beskou en het die apostels en eerste leraars nimmer as te nooit nagmaal aan kinders bedien nie.

Namate dwaalleer in die kerk toegeneem het, is kindernagmaal gevestig en het die eertydse Hervorming die Bybelse weg gevolg en dit summier beëindig. Tot in die 20ste eeu was daar geen enkele geval van kindernagmaal in Protestantse kerke nie totdat die NG Kerk daarmee begin het. Haar instelling daarvan hou direk verband met haar geheul met die Wêreldraad van Kerke (WRK).

In 1982 het ʼn verslag oor die kindernagmaal tydens ʼn sitting van die WRK gedien met die opskrif: “ En verhinder hulle nie”.   Die NG Kerk het openlik met ʼn organisasie geheul wie se bose doelstellings ʼn ope boek was en liturgiese toegewings begin maak. Sy het haar voet op die glybaan van dwaalleer geplaas en ontsporing was net ʼn kwessie van tyd!

Die Gereformeerde leer laat geen ruimte vir kindernagmaal nie.   In 1568 is daar op ʼn Sinode in Wezel besluit dat niemand tot die nagmaal toegelaat sal word as die persoon nie die openbare belydenis van die geloof afgelê het nie. By daardie geleentheid beloof die voornemende lidmaat om hom aan die kerklike opsig en tug te onderwerp. ʼn Dopeling kan nie! Om die verantwoordelikheid van die nagmaal aan ouers oor te laat, soos die NG Kerk leer, skreeu ten hemel! Nagmaal is ʼn saak vir die hele gemeente. Deur net ouers se verantwoordelikheid te beklemtoon, word die gemeente oor die hoof gesien!

Die gebruik van nagmaal moet deur deeglike kategese vooraf gegaan word.   Geloof is tog nie sonder inhoud nie. Om in Jesus te glo, veronderstel ʼn bepaalde kennis van Hom. Daarom is die Heidelbergse Kategismus (HK) eeue gelede opgestel om as’t ware ʼn brug tussen die doop en die nagmaal te vorm.   Dit gaan in die HK oor die kennis van sonde, die pad van verlossing en die nodige dankbaarheid waarsonder niemand die nagmaal durf gebruik nie.  

Alhoewel kategese en die openbare geloofsbelydenis nie Bybelse voorwaardes vir die deelname aan die nagmaal is nie, berei dit nogtans die weg vir sinvolle nagmaalsgebruik voor. Die NG Kerk sê sedert 1998 dat as jy gedoop is, kan jy maar nagmaal gebruik. Volgens Art 35 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) is die nagmaal slegs vir wedergeborenes bedoel. Dis een van die belydenisskrifte van alle Gereformeerde kerke.

Waarom wyk die NG Kerk hiervan af?   As gevolg van die invloed van die RK wat die doop verkeerdelik as die wedergeboorte sien! As jy gedoop is, is jy glo wedergebore. Dis een van die gevaarlikste leuens wat ooit verkondig word! Met haar kindernagmaal, vervang die NG Kerk wedergeborenes met gedooptes. En dis suiwer Rooms - die dwaalleer van die veronderstelde wedergeboorte!

Die RK glo op grond van ʼn foutiewe uitleg van Mt.16:18,19 dat die kerk saligheid uitdeel en dit soos genade-inspuitings aan lidmate toedien. Elke gedoopte kind ontvang hierdie genade. Die Gereformeerde geloof daarenteen, verwerp die leer van die universele genade. Dis dwaalleer! Regverdiging is alleenlik uit die geloof. Geloof is nie ʼn kerksaak nie maar ʼn persoonlike saak.  

Kerklike rituele sonder die nodige Skrifbegronding is leeg en inhoudloos. Desondanks beskou die NG Kerk die bediening van kindernagmaal as ʼn uitstaande skuld wat betaal is. Gesien in die lig van die WRK se aandrang op die kindernagmaal op grond van humanistiese redes, is hierdie ommeswaai uiters verdag. Die WRK sê dat kinders deel van ʼn wêreld van verdrukking, honger en onreg is en dat sekere instellings daarvoor verantwoordelik is dat lewensgehalte van hulle weerhou word. Daarom dring die WRK by kerke aan om hulle vir kinderbevryding te beywer. Die bediening van kindernagmaal is ʼn teken hiervan.   Benewens die onsinnigheid van dié siening is dit onskriftuurlik!

Die rede waarom Skrifgetroue kerke nie kindernagmaal bedien nie, het niks met gewaande onreg te doen nie.   Dit gaan oor ʼn baie diep saak: “Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en die bloed van die Here” (1 Kor.11:27).  

Wie nagmaal gebruik, moet hulself vooraf ernstig voor God ondersoek. Die apostels het duidelik geleer dat diegene wat hulself nie wil ondersoek nie, hul van die nagmaal moet weerhou. Kinders onderskei as ʼn reël nie genoegsaam tussen reg en verkeerd nie. Daarom is seuns in die OT-tyd eers op ouderdom 13 in die kerk aangeneem waarna hulle aan die pasga kon deelneem.

Die selfondersoek voor nagmaalgebruik behels dat die gelowige homself weens sy sonde moet mishaag. Hy moet kwaad wees vir homself dat hy hom met sonde laat besmet het. Daarna moet hy sy hand smekend na Jesus uitsteek en glo dat Hy hom sal reinig.

Daar moet dan ook ʼn ernstige begeerte by hom wees om hoe langer hoe meer in die geloof versterk te word.   Slegs volwassenes kan dit verstaan. Daarom is kategese onontbeerlik voordat iemand tot die gebruik van nagmaal toegelaat word. Dit beskerm die kerk teen ʼn misbruik van die sakrament, waak oor die eer van God en verhoed dat mense dwaal. Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7).