NABYE DOODSERVARINGS

Ds. A.E van den Berg

“Ek weet van ’n man in Christus, veertien jaar gelede — of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit — dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so ’n man — of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit —dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ’n mens nie mag uitspreek nie” (2 Kor.12:2-4).

Verhale van mense met nabye doodservarings is baie gewild. In 2014 het die film Heaven Is For Real nagenoeg $91miljoen in die VSA ingebring nadat 10 miljoen kopieë van die boek wat in 2010 uitgegee is, verkoop het.

Twee onlangse boeke deur twee dokters se eie ervarings, Proof of Heaven deur dr. Eben Alexander, ʼn neurochirurg, en To Heaven and Back deur Mary Neal, ʼn spinale ortopeed, het bo verwagting verkoop.   Daar is ook gevalle van bedrog soos The Boy Who Came Back From Heaven(2010). Die skrywer het later erken dat dit alles verdigsels is.

Baie van hierdie verhale vertel van buiteliggaamlike ervarings in ʼn pragtige, buitewêreldse sfeer met geestelike wesens, afgestorwe gesinslede en vriende. In sommige gevalle speel tonele van hul aardse lewe voor hul af en baie het ‘n ongekende kalmte ervaar. Daarom was baie teleurgesteld om weer in die liggaam te beland en hulle glo dat dit nie ʼn droom of sinsbedrog was nie, maar iets geheel anders.

Daar is al talle wetenskaplike studies aangepak om naby doodservarings te verklaar. Dr. Alexander het sy eie geval ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat hy in so ʼn diep koma was, dat sy brein afgeskakel en sy siel werklik van sy liggaam geskei en hy in ʼn ander sfeer was. Hy skryf dat God, engele en die hiernamaals ʼn werklikheid is.

Hoe moet gelowiges dit beoordeel? Paulus skryf aan die Korintiërs van sy eie soortgelyke ervaring. Al skryf hy dit in die derde persoon, was dit wel sy eie ervaring:

“En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ’n doring in die vlees gegee...” (vers 7).

Paulus skryf in die derde persoon om nie soos een van die “super apostels” van sy tyd in Korinthe voor te kom nie. In die voorafgaande hoofstuk skryf hy in die eerste persoon oor sy onaangename ervarings (:23-30) sodat niemand moes dink dat hy sy eie beul blaas nie.

Paulus was nie seker of hy in of buite sy liggaam was toe dit met hom gebeur het nie. Dit lyk asof beide moontlikhede bestaan het. Was hy liggaamlik na die hemel gedra of het sy siel van sy liggaam geskei om daar te wees?   Die punt is dat indien Paulus nie sekerheid hieroor gehad het nie, hoe kan ander mense dan ooit seker wees?

Paulus skryf van ʼn derde hemel nie as ʼn plek met verskillende vlakke nie. Sy woordgebruik is eie aan sy tyd wat die wolkehemel as die eerste, die sterrehemel as die tweede en die woonplek van God as die derde hemel gesien het.

Paulus was in die hemel. Jesaja en Johannes het soortgelyke ervarings gehad (Jes.6:1; Openb.4:1,2). Paulus gee geen beskrywing van wat hy daar ervaar het nie, maar slegs buitelyne. Hoe anders is Paulus nie as die moderne hemel-besoekers nie – geen selfverheffing of selfverryking na sy ervaring nie. Hy het selfs 14 jaar gewag voordat hy ʼn woord daaroor gepraat het!

Paulus het alles gedoen om die fokus van hom af weg te neem. Daarom het hy dan ook in die derde persoon geskryf. Hy het net gesê dat hy dinge gehoor het wat geen mens durf uiter nie. Gevolglik sou dit verkeerd wees om daaroor uit te wei. Hy het geen toestemming van God gehad nie omdat Hy nie wou hê dat mense moet weet nie. Hoe anders as moderne hemel-besoekers!

Dit was vir Paulus wel belangrik dat gelowiges minstens net daarvan weet. Hy het dit net genoem maar geen besonderhede verstrek nie. Hy was nie besig om hom aan die ander Korintiërs te verkoop en hulle daarmee te probeer oortuig dat hy nie maar net nog ʼn godsdienstige pierewaaier was nie.

Moontlik is die rede waarom Paulus dit wel nodig gevind het om te noem dat hy in die hemel was, om ons in tye van onsekerheid te versterk en te verseker dat daar wel ‘n hemel is waar God se Teenwoordigheid onteenseglik is. Die feit dat Paulus geen klem op homself wou plaas nie bring mens tot die gevolgtrekking dat hy die sekerheid van die hemel se bestaan by ons wou vestig. Wat ‘n voorreg om as kinders van die Here deur sy Woord sekerheid te mag hê oor ‘n ewige lewe saam met Hom en te weet ons gaan dit eendag ook sien en beleef!