MISLUKKINGS...

... wonde of tatoeëermerke?

Ds A.E. van den Berg

Alhoewel mislukkings nie aangenaam is nie, is dit dikwels baie leersaam. Wonderlike dinge het al op die fondament van mislukkings tot stand gekom; die lont wat iets groots aan die brand gesteek het en derhalwe die eerste stap is na sukses. Mislukking is soms net ʼn tydelike verandering van rigting wat mense op die pad na sukses plaas. As plan A nie werk nie, is daar nog 25 letters van die alfabet oor!

Mislukking is deel van die lewe en die lewe soos om aan ʼn skildery te werk. Alles loop reg tot op ʼn punt, waarna God ʼn streep daardeur trek en dit oorgedoen moet word om nog beter te lyk. Gelowiges misluk ook in tye van geestelike verval omdat daar te veel van hulle en te min van God in hul lewe is.

Die lewe is soos ʼn mosaïek-kunswerk wat uit klein stukkies gebreekte glas bestaan waarvan ʼn kunswerk gemaak is. God maak ook van gebreekte lewens ʼn kunswerk waarin Hy verheerlik word.

Mislukkings is soms God se manier om die gelowige vir groot uitdagings voor te berei. Die profeet Eli is hier ʼn goeie voorbeeld (2 Kon.19). Mislukkings mag gelowiges nooit so ontnugter dat hulle nie weer probeer nie. Om iets nie te wil begin of te voltooi nie, is twee van die dodelikste foute in die lewe.

Ongelukkig moet sommige mense se lewens eers uitmekaar val alvorens hulle dit agtermekaar kry.   Mislukkings is soos ʼn mes. Dit kan mense dien of sny. Dit hang af hoe dit hanteer word – aan die hef of aan die lem!

Om te val, is onvermydelik, maar om te bly lê, is ʼn keuse. Gevolglik is daar baie redes vir mislukking maar baie selde goeie verskonings. Sommige mense het die slegte gewoonte om gedurig vir hul pogings verskoning te vra. Om te misluk, maak nie van iemand ʼn mislukking nie, mits hy iemand anders die skuld daarvoor gee. Mislukkings moet aan foute en nie aan dwaashede te wyte wees nie.

Mislukking is onvermydelik, maar om tou op te gooi, is ʼn keuse. Waar dinge misluk, is daar dikwels te gou opgehou en mense nie vasberade genoeg om te wen nie. Baie van die mislukkings is in werklikheid nie mislukkings nie, maar uitdagings wat net ʼn bietjie meer moed geverg, maar ontbreek het.

Sukses word nie deur sukses behaal nie, maar deur val en opstaan. Mislukking is ʼn bestanddeel wat aan sukses geur gee. Dit skaad geen eerbare mens se menswaardigheid nie en is altyd ʼn uitdaging om op te staan en weer te probeer. Dit maak mos nie saak hoeveel emmers melk omgestamp word nie, solank as wat die koei nie verloor word nie!

Mislukking is ʼn gebeure en nie ʼn karaktertrek nie. Dit bewys dat iemand ophou praat en iets probeer doen het–alles oefenskote op pad na sukses. Gevolglik maak gelowiges van mislukking nooit ʼn einde nie, maar eerder ʼn nuwe begin. Dis beter om sterk op te tree as om te laat op te tree en die bus na sukses te verpas.

Dis beter om met ʼn saak wat uiteindelik gaan slaag eers te misluk as om sukses te behaal met iets wat op die ou einde skipbreuk ly. Gelowiges misluk eerder met eer as om met onreg te seëvier. Hulle leer uit hul mislukkings en vier hul sukses omdat God groot en goed in hul lewens is.

Sukses is nooit permanent nie, en mislukkings is nie fataal nie. ’n Paar slegte hoofstukke in ʼn mens se lewe beteken nie dat sy storie verby is nie. Sukses moet nooit na ʼn gelowige se kop of mislukking na sy hart gaan nie. Mislukkings is ’n onderwyser en nie ’n begrafnisondernemer nie. Dis ʼn ompad maar nie ’n doodloopstraat nie; ʼn wond en nie ʼn tatoeëermerk nie!