WANDEL MET GOD (2)

Ds A van den Berg

Lees reeks by Wandel met God

Opreg met God

“Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees” Gen.17:1

Die Bybel praat gereeld van mense wat met God gewandel het. Die eerste een wat vermeld word, is Henog, die vader van Metusalag: “En Henog het met God gewandel en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem” (Gen.5:24). Daarna volg Noag: “Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ʼn regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel” (Gen.6:9). Abraham ontvang selfs ʼn opdrag om met God te wandel (Gen.17:1). Die opdrag om met God te wandel, kom, met geringe verandering, byna 100 keer in die Bybel voor!

 

Om met God te wandel is ʼn metaforiese uitdrukking.   Dit beteken nie om letterlik met God te stap soos wat mense saamstap nie. Dis eerder ʼn geestelike pad wat gelowiges met God stap deur gehoor aan sy verbond te gee.  

Die klem val op die woord verbond. Ons staan in ʼn verbondsverhouding met God. Ons het ʼn heilige kontrak met Hom. Elke kontrak het twee partye wat sekere dinge teenoor mekaar onderneem. So werk God se kontrak ook. Ons moet ons ondernemings nakom.

Waar kom ons aan hierdie kontrak?   Dis ʼn baie ou kontrak; meer as 4000 jaar oud! Ons lees daarvan in Gen.17 toe God met Abraham ʼn verbond gesluit het. God het beloof om vir hom en sy nageslag ʼn God te wees en hulle ryklik te seën. God sou hom voorspoedig maak en ʼn groot nageslag gee wat die mensdom tot ʼn seën sou wees. Dit het op die Christendom en die verkondiging van die verlossing van sonde gedui. Daarom meld Mt.1 dat Christus uit die nageslag van Abraham gebore is.  

Wat ʼn wonderlike onderneming was dit nie van God se kant nie! Maar wat van die ander party; die mens?   Watter onderneming moes Abraham gee?   Dat hy en sy nageslag in gehoorsaamheid met God sou wandel. As teken dat hierdie kontrak aangegaan is, is die besnydenis as teken en waarborg daarvan ingestel - soos ʼn inkomsteseël op ʼn kontrak. Toe Christus hierdie verbond vernuwe het, is die doop in die plek van die besnydenis ingestel en het dit die nuwe teken geword.

Maar wat het ons met ʼn kontrak te doen wat 4000 jaar gelede met ʼn Jood aangegaan is? Ons het mos niks daarmee te doen nie! Verkeerd, ons het alles daarmee te doen! In sy genade het God alle gelowiges; elkeen wat tot bekering gekom en Jesus Christus as Verlosser aanvaar het, in hierdie kontrak ingesluit. Ons is nou wel nie die fisiese Israel soos sommige dwaalgeeste glo nie, maar wel die geestelike Israel waarvan Paulus baie duidelik skryf. “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29). Hy praat ook met die gelowiges in Rome daaroor.  

Deur die doop kry ons deel aan hierdie kontrak en is ons veronderstel om anders as die wêreld te wees en God met ons lewe te verheerlik. Om anders te wees, moet ons vir God afgesonder en opsygesit wees. Dis wat die woord heilig beteken. Daarom kry ons in 1 Pet.1:16 die opdrag: “Wees heilig want Ek is heilig” En om dit te doen, moet ons met God wandel.      

Om met God te wandel, vereis groot eerbied vir die verbond. Soos wat geen burger die landswette kan minag en ʼn wetgehoorsame burger wees nie, kan geen gelowige sy kontrakverpligtinge minag en met God wandel nie. Kyk maar net wat met mense gebeur wat kontrakbeuk pleeg? Hulle beland in die warmwater!  

Die woorde met God wandel, spreek ook van skeiding.  Daar is ook mense wat sonder God wandel. Baie meer ook! Christus praat in die Bergpredikasie van die breë pad en wye poort en met die meeste mense daarop. Dis hulle wat sonder God wandel.   En wie sonder God wandel, sterf ook sonder Hom en erf die ewige verdoemenis. Dis vir geen enkele oomblik die moeite werd om sonder God te wandel nie!   Die lewe met Christus is ʼn eindelose hoop; sonder Hom ʼn hopelose einde! Om met God te wandel, is nie eens ʼn opsie nie; dis ʼn moet! Dis ʼn bewustelike keuse vir wysheid bo dwaasheid.    

Nou kom die groot vraag: Hoe kry ons dit reg om met God te wandel? Hoe sit ons ʼn eerste voet op daardie salige pad?   Slegs deur geloof in Christus en dis ʼn gawe van God.   As jy hierdie gawe nie het nie, sal jy nooit nie met God kan wandel nie. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Heb.11:6).

Hoe kry ons hierdie gawe? Deur gebed. God gee die geloof aan elkeen wat Hom daarvoor vra: “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (Mt.7:8). Wil jy werklik met God wandel? Bid Hom vir die geloof om dit te kan doen en Hy sal dit gee. Dis een van die grootste beloftes van die Bybel: “Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ʼn klip sal gee; en as hy ʼn vis vra, aan hom ʼn slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid?” (Mt.7:9-11).

Wie met God wandel, is ook opreg met sy naaste. Daar is nouliks ʼn mooier eienskap as opregtheid. Van Noag word gesê dat hy ʼn opregte man onder sy tydgenote was.

Christus gee ʼn opdrag in Mt.5:48: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemel volmaak is”.

Hierdie teks is ʼn heerlike uitdaging. Ons kan nooit sondeloos en volmaak soos God wees nie. Ons kan slegs daarna streef. Ek hou nie op laerskool op met rugbyspeel net omdat ek vir myself sê dat ek nooit die Springbokspan gaan haal nie. Ek speel asof ek wel die span wel kan haal  So ook met heiligmaking. Ons streef daarna asof ons hier op aarde wel sondeloos kan wees. Dan neem ons in die heiligmaking toe waarsonder niemand God kan behaag nie. Heb.12:14 gee opdrag om die heiligmaking na te jaag waarsonder niemand die Here sal sien nie.

Opregte wandel met God vereis gehoorsaamheid aan Hom. Hoe gehoorsamer ek met God omgaan, hoe voordeliger is dit vir my en my naaste.  Ek het nie nodig om die teendeel uit te spel nie.   Kyk gerus na die verhalende gedeeltes van die Bybel hoe goddelose konings hul onderdane en land geskaad het. Dis vandag nog net so waar. Oral waar goddeloses in beheer is, kry mense swaar!

Die Bybel is vol teenstellings. As jy nie met God wandel nie, wandel jy met Satan. As jy die knie voor God nie buig nie, buig jy dit voor Baäl. Ons kies elke dag vir of teen ʼn opregte lewenswandel. Hoe lyk jou lewe?  

Daar word vandag baie van doelwitte gepraat. Mense word aangemoedig om doelwitte te stel en van hulself rekenskap te eis: Hoe vaar ek? Wat het ek al bereik? Is ek nog op koers? In die meeste gevalle is dit stoflike doelwitte.   Maar wat van geestelike doelwitte? Sal dit nie goed wees om geestelike doelwitte te hê en rekenskap aan onsself te gee nie?   Kom ons vra onsself: Wandel ek werklik met God? Wat verhoed my? Wat vertraag my geestelike gang?  

Let op Ps.1:1 “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie” Let op die werkwoorde. Eers wandel die man, dan staan hy en daarna gaan sit hy. Dis wat ons geestelike gang vertraag.   Ons gee die Satan ʼn vatkans!

Waar is jy? Sit jy in die kring van die spotters?   Staan jy op die weg van die sondaars? Gee onmiddellik pad en begin om met God te wandel! Of het jy ʼn beter alternatief?