SOOS ʼn ENGEL VAN DIE LIG

Homoseksuele leraars

Ds. A.E van den Berg

Louis van der Riet, die NG Kerk se eerste openlik homoseksuele leraar, het ʼn tyd gelede sy dank teenoor die kerk betuig wat die huwelik nie as die enigste plek vir seksuele verhoudings verklaar het nie. Hy vind glo geen Skriftuurlike gronde dat die huwelik alleen heilig en Godgegewe is nie; komende van een wat behoort te weet dat die Skrif anders oor sedelike reinheid praat. 1 Thesss.4:1-8 is een van die duidelikste wekroepe tot seksuele reinheid.

Geen ware kerk durf ʼn persoon wat onrein leef tot teologiese studie toe te laat, nie eens van die bediening te praat nie. So ʼn persoon het nooit tot bekering gekom nie en kan Jesus nie sy Verlosser noem indien hy die teenoorgestelde doen as wat Hy eis nie. Die Bybel waarsku:

“En Hy het vir hulle ’n gelykenis uitgespreek: ’n Blinde kan tog nie ’n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie”(Luk.6:39).

Jesus roep gelowiges tot ʼn heilige lewenswandel op as ʼn getuienis van ʼn lewensomkeer en redding. Jesus sê by geleentheid vir ʼn prostituut:

“.... Gaan heen en sondig nie meer nie” (Joh.8:11).

Jesus het nie vir mense gesterf om met hul onreinheid te volhard nie:

“Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?(Rom.6:1,2).

Gelowiges volg Jesus se voorbeeld:

“Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1Pet. 1:15-16).

Wie mense met onreinheid vanaf kansels besoedel, is nie Evangeliedienaars nie maar Satansdienaars. Die Australiese rugbyspeler Israel Folau het onlangs nie doekies omgedraai nie en gewaarsku dat die hel op diegene wat hul aan homoseksualisme skuldig maak, wag!

“... Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed ....” (Hebr.10:26).

Leraars moet die Woord van God suiwer bedien. Mense gaan kerk toe om die Vader se stem te hoor en nie dié van Satan nie. Ons liefde vir God word aan ons gehoorsaamheid aan sy gebooie gemeet:

Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is ’n sonde” (1 Sam.15:22,23).

“As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15).

Die NG Kerk se ordening van homoseksuele leraars is ongetwyfeld die ergste vergryp in haar ganse geskiedenis en ontmasker gemene spel in kerkgeledere. Dat lidmate hierdie gruwel nie summier verwerp en hul lidmaatskap beëindig nie, gaan die verstand te bowe. Is Jesus dan nie die Rots wat vir sondaars geklief is en die kerk die skeur waardeur die lewende water na almal wat dors het, vloei nie? As hierdie skeur giftig raak, moet mense hul kerklike bande sonder enige gewetensverwyte verbreek.

Leuens wat vanaf kansels verkondig word, is die skadelikste van alle leuens. Dit gebeur as kerke die wêreldmening ter wille raak en lidmate daarna mislei. Daarom het ʼn kerk wat die waarheid nie beskerm nie, geen bestaansreg nie. Homoseksualisme is en bly onwelvoeglik - vandag, more en vir altyd!

“Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”(Rom.13:13,14).