SELFBEELD

Geestelike volwassenheid word aan ʼn vaste geloof in Christus asook ʼn gesonde selfbeeld gekenmerk. Mense met ʼn swak selfbeeld is gewoonlik self daarvoor verantwoordelik. In plaas van hul eie lewensskildery te verf, gee hulle die kwas vir iemand anders om dit vir hulle te verf en is gevolglik gedurig begaan oor wat mense van hulle dink. Om slawe van ander mense se menings te wees, is gif vir ʼn selfbeeld.

Vir ʼn sterk selfbeeld moet jy in jouself glo en nie van ander verwag om dit vir jou te doen nie. Jou lewe hang uiteraard nie van ander se goedkeuring af nie. Wie ʼn sterk selfbeeld het, laat geen mens toe om hom skuldig laat voel oor wie en wat hy is nie. ʼn Leeu het nie skape se goedkeuring nodig om te doen wat hy wil doen nie.

Jy het alles wat jy vir ʼn sterk selfbeeld benodig in jou. Moenie vir ander wag om jou vuur aan te steek as jy self vuurhoutjies het nie. Sing soos die voëls; hulle gee nie om wat ander daarvan dink nie. En al hou sekere mense nie van jou nie, maak hulle menings nie noodwendig saak nie.

Niemand kan jou sonder jou toestemming minderwaardig laat voel nie. Die enigste persoon wat jou in die lewe kan aftrek, is jyself. Jy skep jou eie kalmte of onweer. Wie ʼn ander mening oor jou het, is dit sy probleem, nie joune nie. Verhoed dat negatiewe menings jou verteer.   Leeus verloor geen slaap oor die menings van skape nie!

Indien jy, om jou selfbeeld te behou, sekere mense moet uitskakel, moet dit nie as ʼn verlies beskou word nie. Dis beter om hulle te verloor as om met ʼn swak selfbeeld te worstel.   Daarom is dit belangrik om na jou eie hart te luister.

Maak dit vir mense maklik om met jou oor die weg te kom, onmoontlik om jou van jou beginsels te laat afsien en gevolglik moeilik om te vergeet. Jy is nie ʼn druppel in die oseaan nie maar die oseaan in ʼn druppel; nie noodwendig spesiaal nie maar wel ʼn uitsonderlike uitgawe van God.

Wat voor of agter jou is, is niks in vergelyking met wat in jou is nie. Moenie ʼn beter wêreld probeer skep nie, want dit gaan nie gebeur nie. Skep eerder ʼn beter jy. Die res volg vanself. Jy het net een lewe op die aarde!