PÊRELS VOOR DIE VARKE

Ds Andrè van den Berg

“Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.” Mt.7:6

In Mt.7:1 sê Jesus dat gelowiges nie mag oordeel sodat hulle nie geoordeel word nie. Hy sê dit met ʼn doel; mense dink te stadig en oordeel te vinnig. Adam wat vir Eva die skuld vir sy misstap in die tuin van Eden gegee het, is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Het hy dan niks van die vrugverbod geweet nie?!

Gelowiges mag nie mense sondermeer veroordeel nie, maar moet diegene wat sondig wel aan die hand van die Bybel berispe en teregwys:

Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).

“Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering geskrywe...” (Rom.15:4).

Paulus het tydens ʼn reis baie hard met Elimas, ʼn towenaar gepraat:

“Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” (Hand.13:10).

Die Heilige Gees help gelowiges om tussen reg en verkeerd te onderskei. Daarvoor moet sekere voorkeure uitgeoefen word soos Jesus in die teksvers aan sy dissipels sê:

“Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.” Mt.7:6

Dit geld vir alle gelowiges deur die eeue.

Gelowiges moet bedagsaam met die dinge van ewigheidswaarde omgaan want dit kom van God en derhalwe nie ongekwalifiseer vir alle mense bedoel nie. Jesus sê by geleentheid vir ʼn Kananitiese vrou:

Dit is nie mooi om die brood van die kindertjies te neem en vir die hondjies te gooi nie” (Mt.15:26).

Sekere mense deel in God se genade en ander nie. Jesus eis dat gelowiges God se genade nie goedkoop maaknie. Dis heilig en moet dienooreenkomstig so behandel word. Gelowiges moenie tyd op nuttelose dinge vermors nie. Wie nie uitverkies is nie, sal nooit tot bekering kom nie. In 1 Sam.25 sê Abigail reguit vir Dawid dat hy sy asem gaan mors om met haar man probeer te praat. Daar is geen salf aan hom te smeer nie. Los hom eerder uit.

Dis ook waar van Evangelie-verkondiging. Jesus het nooit die Evangelie van verlossing aan mense opgedring nie. Op die vooraand van hul eerste sendingtog sê Jesus vir sy dissipels:

En as julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En as iemand julle nie ontvang nie, en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af” (Mt.10:12-14).

Die kerk ervaar tans meer probleme as ooit omdat dit nie meer heilig is nie, maar byderwets en gebruikersvriendelik geword het. Daarom soek dit oral toenadering en aanvaarding. Dis ʼn fout – die wêreld moet by die kerk aanpas en nie die kerk by die wêreld nie want dan word haar lig uitgedoof.

By geleentheid was Jeremia moedeloos oor die kerkverval van sy tyd; niemand het meer na die stem van God geluister nie en die kerk in ʼn afwaartse spiraal laat beland. God gee hom raad:

Laat hulle na jou terugkeer, maar jy moenie na hulle terugkeer nie” (Jer.15:19).

Dit geld vandag nog!

Oral waar God se heilige standaard verlaag word, beland pêrels voor varke en volg sy straf. God en alles wat aan Hom behoort, veral sy kerk, is heilig. Dis opsygesit en afgesonder en lyk derhalwe nie soos die wêreld nie.  

God is heilig en dit maak Hom uniek. Niemand vergelyk met Hom nie; nie Allah, Boeddha of ander afgode nie. Die Bybel is heilig. Niks vergelyk daarmee nie, nie die Koran, Vedas of Roomse afgodery nie. God se huis is heilig en nie ʼn godsdiensklub of skouburg van vermaaklikheid nie. Ook die liedere wat in die kerk gesing word, getuig van God se heiligheid. Dis nie melodieë waarop gedans kan word nie, maar afgesonder. Elke erediens behoort van die eerbied vir God en sy heiligheid te getuig.

Die kerk se groot probleem lê by die ontheiliging van dit wat heilig behoort te wees. Die vervlakking van geestelike dieptes is ontstellend en die boodskap van ʼn universele broederskap van liefde wat uitbasuin word, misleidend. En in die proses draai mense die liefdadigheidsmallemeule in ʼn maniese beswyming en glo dat hulle daarmee aan God se eis van naasteliefde voldoen.

Nêrens sê God dat Hy alle mense ongekwalifiseerd liefhet nie, selfs nie eens in Joh.3:16 nie. God se liefde is alleenlik vir sy uitverkore kinders beskore:

“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word....” (Joh.1:12).

Jy moet nuut word om kind van God te wees: Paulus sê:

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).

Jesus gee ʼn wonderlike belofte dat niemand tevergeefs na Hom sal soek nie:

“Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).

Almal hoor die Evangelie, maar reageer nie eenders op die uitnodiging nie.

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Openb.3:20).

Die meeste mense maak nie oop nie. Dit gebeur ook dat mense wat jy dink nooit sal oopmaak nie, tog oopmaak. In die tyd van Christus het mense selfs uit die laagste samelewingsordes oopgemaak: tollenaars, straatvroue en misdadigers.

In Mt.7:6 vra Jesus gelowiges om versigtig met hul ywer vir die Evangelie te wees. Gelowiges hardloop nie halsoorkop in ʼn saak in nie. Op die vooraand van die dissipels se eerste Sendingtog sê Jesus vir hulle:

Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe”(Mt.16:10).

Werk versigtig met dit wat heilig is!

Die Bybel is ʼn waardevolle skat. Dis nie ʼn boek met towerresepte wat na willekeur rondgestrooi word om wonders te laat geskied nie. Dit moet biddend bestudeer en met groot eerbied hanteer word, veral deur leraars wat altyd moet kan sê: So spreek die Here!”

Al is leraars net feilbare mense, gebruik God hulle nogtans om sondaars tot die bekering te lei en gelowiges in die kennis van God op te bou. Paulus skryf aan die Korintiërs:

...dit het God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo te red” (1 Kor.1:21).

Baie mense het al deur prediking tot bekering gekom. Daar moet leraars wees. Die Ethiopiese dienaar sê vir Filippus:

Hoe kan ek tog verstaan as niemand my die weg wys nie?’ (Hand.8:31).

Paulus was ʼn sterk prediker. In sy brief aan die Romeine benadruk hy die belangrikheid van die amp van leraar:

Hoe kan hulle hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? “ (Rom.10:24,25).

Vir gelowiges is daar geen belangriker boek as die Bybel nie. Ons staan onder dure verpligting om dit met eerbied en ontsag te hanteer. Hierdie water en brood van die lewe is nie vir almal bedoel nie, slegs vir dorstige en hongerige sondaars wat tot die geloof kom.

Moet nooit dit wat vir God heilig is, goedkoop maak nie. Het honde eerbied vir dit wat heilig is of varke vir pêrels? Net so min voel ongelowiges iets vir die dinge van God. Praat, waarsku en berispe, maar moenie tyd met hulle mors nie!